MY DROOM, GESTUIT DEUR AANVAL
’n Groep mans het die SA 5 000 m-kampioen erg g aangerand en hy is woedend dat niemand hom probeer help het nie
DIE foto’s was skokkend: Die kampioenatleet lê bewusteloos op die grond langs ’n kol van sy eie bloed, sy voete in netjiese sportskoene weerloos na weerskante uitgedraai. Op ’n foto wat later geneem is, lê die skraal jong man op ’n hospitaalbed aan ’n monitor gekoppel, sy kop in verbande toegedraai.
In Maart sou Thabang Mosiako (22), die Suid-Afrikaanse 5 000 m-kampioen, in Algerië aan die Afrika- veldwedloopkampioenskap s byeenkoms deelgeneem het. Maar nadat ’n tienstuks jong wit mans hom in Februarie buite ’n kuierplek in Potchefstroom aangerand het, moet die steratleet dalk afsien van sy droom om sy land te verteenwoordig.
Vandag is hy kwaad waar hy Huisgenoot in sy ouerhuis in die Potchefstroomse township Promosa van die gewelddadige en traumatiese aanranding vertel. “Ek is kwaad vir almal wat dit sien gebeur het, wit en swart. Niemand het probeer help of dit stopgesit nie. Wanneer ek so iets sien gebeur, sê ek iets . . .”
Dis ’n paar dae ná daardie verskriklike aand van 3 Februarie toe ’n groep mans hom, sy vriend Rantso Mokopane (23), ook ’n atleet, en nog ’n vriend, Sandy Londt (25), gekonfronteer het. Toe die aanvallers op hom toesak en hom skop en slaan, kon Thabang eers weghardloop. Hy het by polisie in twee polisievoertuie hulp gesoek, maar sê die beamptes het sy pleidooie geïgnoreer.
“En toe sien ek hierdie groot ouens weer op my afgestorm kom. Ek het weer begin hardloop, maar hulle het my met iets teen my kop geslaan of my met iets gegooi. Toe ek my weer kom kry, word ek in die hospitaal wakker.”
Thaba ng ,’ n tweedejaar studentin B. Com .( menslike hulpbronne bestuur) aan Boston City College, dra sy Protea-baadjie hier waar hy vertel dit is duidelik hoekom hy en sy vriende aangeval is: “Dis omdat ons swart is.”
Hy sien met sy wengeld om na vyf mense, moet een van die dae die uitgawes van sy troue dek en het ’n drie maande oue seuntjie, Mpho, om te versorg. Maar ná die aanranding kan hy sy talente nie inspan nie. Hy vryf oor sy hare. “Ek weet nie wat ek gaan doen nie. Ek kan nie hardloop nie.”
IN DIE Mosiako’s se klein huis is alles op sy plek. Meriam, Thabang se ma, verwelkom ons met ’n glimlag en gooi ’n kombers op die vloer sodat haar wit teëls skoon kan bly ten spyte van die reën wat saggies val. Die televisiekas is vol bekers en medaljes met Thabang se naam daarop.
“Ek hou nog altyd van hardloop,” vertel Thabang. “Vandat ek kan onthou, is dit wat ek gedoen het en ook wat ek vir ’n bestaan wou doen.” Mpho sit op Meriam se skoot en maak babbel geluidjies. “Kyk hoe sterk is hy,” sê Thabang trots toe die kleinding op sy ouma se skoot staan.
“Hy sal ook een van die dae hardloop,” sê Meriam en soen haar kleinseun.
Thabang vertel hy het verlede jaar lobola betaal om te trou met Mpho se ma, Thandi Sehohle (21). Sy bly in die week in Johannesburg, waar sy ’n internskap by ’n ouditfirma het. Hulle wil later vanjaar ’n groot troue hê. “Ek hardloop vir my familie, maar ek doen dit ook vir myself. Dis al wat ek regtig goed kan doen,” sê hy.
Thabang, wat hoofsaaklik in Promosa grootgeword het, se groot droom is om Suid-Afrika in 2020 in Tokio se Olimpiese Spele te verteenwoordig. Hy moet sy beste tyd van 14:03 in die 5 000 m met ’n bietjie meer as 30 sekondes verbeter om te kwalifiseer. Die Afrika-lang afstandkampioenskapsbyeenkoms vind middel Maart in Algerië plaas, maar nou weet Thabang nie of hy sal kan deelneem nie.
Sy en Rantso se afrigter, Spring Phakathi, sê albei mans het uitsonderlike atletiektalent en hy glo albei kan Spele toe gaan .“Ek het Thaba ng op’ n skoleatletiekbyeenkoms sien hardloop toe hy 13 jaar oud was en toe al geweet hy kan ’n SA kampioen word,” sê Spring.
“Hy het altyd baie deursettingsvermoë. Ons het gehoop o mop die Afrikakampioenskapsbyeenkoms die top -10 te haal, maar nou moet hy dit eers rustig vat en herstel. Hy moenie nou druk op homself plaas nie.”
En ja, hy is briesend vir die mans wat sy atlete aangeval het. “Dis mense (Thabanghulle) wat jou land verteenwoordig.”
“Ek kan nie verstaan hoekom daai mans ons aangeval het nie,” sê Thabang. “Dit was groot mans. Hulle het soos rugbyspelers gelyk. Daar was seker maklik 10 van hulle teen drie van ons.”
Hy vertel hy en sy vriend Sandy het buite die kuierplek vir Rantso gewag. “Rantso vertel toe hy binne was, het die ouens ’n ou man gevloek en vir hom middelvinger gewys.
“Hy sê toe hulle moet ophou en die ou man uitlos. Toe hy uitkom, volg die mans hom. Een ou met ’n baard het so na sy ken gewys en gesê: ‘Kom, slaan my hier, kom.’ Ek en Rantso het gesê dis nie nodig nie, want ons het die Sondagoggend oefening; ons gaan nie nou baklei nie. Toe ons wil loop, gryp hulle (ons) en begin slaan.” Thabang sê talle vuishoue het hom getref, ook vir Rantsoen San dy, en hulle het gevlug.
“Ons het weggehardloop en ’n polisiekar gesien. Daar was twee wit polisiebeamptes. Ons het gesê wat gebeur het, maar hulle het niks gedoen nie en weggery,” sê Thabang. Tog het dit gelyk asof die mans hulle agtervolg. Thabang en Rantso het ’n tweede polisievoertuig genader, maar weer het die polisie hulle na bewering nie gehelp nie.
“Toe ons agter ons kyk, sien ons hulle kom weer. Hulle het op ons afgehardloop en ons al drie het in verskillende rigtings gespaander. Dit is toe dat hulle my teen die kop slaan of met iets gooi. En toe raak ek bewusteloos,” sê Thabang en vat aan die letsel op sy kop.
Hy weet nie of hy harsingskudding opgedoen het nie, want dit is nie vir hom gesê in die staatshospitaal waar hy behandel is nie. Die dokter het net gesê hy kan kwaai hoofpyn verwag. Hy gaan binne twee weke vir ’n opvolgbesoek.
Wie die nooddiens gebel en of die mans Thabang aanhou takel het nadat hy op die grond geval het, is onbekend. ’n Kennis, ene Kabelo, het die foto van die bewustelose Thabang op die grond geneem. Hy was steeds bewusteloos toe hy in die Potchefstroomse staatshospitaal opgeneem word.
Hy was ’n dag lank daar en is die volgende dag ontslaan en is huis toe.
MERIAM byt haar onderlip toe ons vra hoe Thabang ná die aanval gelyk het.
“Sleg. Hy was blou hier oral oor sy skouers en ribbes. Ek’t daai aand met ’n lou waslap so oor my kind se rug en skouers gevee terwyl ek huil. Hoe kan hulle so iets aan my kind doen?” sê sy en haar oë begin swem.
Dae lank daarna het Meriam so haar seun gedokter; sagkens met ’n warm waslap gelaaf “sodat sy spiere kon ontspan”. Die blou kolle is nou al amper almal weg, sê sy.
’n Paar dae voor ons onderhoud het Thabang soos talle ander kere sy helderblou tekkies aangetrek. Hy het die slaap van sy lyf afgeskud, reg vir sy eerste oefensessie van die dag.
Die strate van Promosa was nog stil. Sy voete het die grondpad ritmies getref, maar minder as ’n kilometer verder is hy tot stilstand gedwing.
“My kop het gevoel of dit gaan bars,” sê Thabang.
Die dokter het hom voorberei op kwaai hoofpyne en gesê dit kan weke duur voor dit weggaan. “Dit voel of ek my kop verloor. Ek wil net hardloop, maar ek sal hierdeur kom.”
‘Een ou het so na sy ken gewys en gesê: “Kom, slaan my hier, kom” ’
Kol. Adelé Myburgh van die Noordwes-polisie sê ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer is ingedien.
Sy sê bewerings is gemaak dat beamptes Thabang ook aangerand het. Die saak is dus aan die polisie se onafhanklike ondersoek direktoraat oorhandig vir verdere ondersoek.
Sy sê sy mag haar nie uitlaat oor die bewering dat die polisie Thabang en sy vriende nie wou help nie, want dis nie meer hul saak nie.
Hulle beskou die saak wel in ’n baie ernstige lig.
“Die polisie (lei) die ondersoek, maar sodra hulle mense in hegtenis neem en vasstel dit is studente, sal tugoptrede volg,” sê Louis Jacobs, woordvoerder vir die NWU, by navraag. Volgens hom duld die universiteit geen vorm van diskriminasie van enige aard nie. “Ons weet egter nog nie eens of hulle wel studente was nie.
“Dit was jool; dus was daar ’n klomp ander jong mense van oor die hele land hier.”