Huisgenoot

Kortverhaa­l: Katrientji­e Se Deksel

Sy het twee beeldskone susters en is wel haar pa se witbroodji­e-rabbedoe, maar g’n oil painting nie

- Deur JUANITA FOURIE Illustrasi­e: MIEKE VAN DER MERWE

MENSE, so leer ek toe ’n les by my niggie Katrien.

In ’n plaashuis net buite Uniondale woon my niggies Katrien en haar twee susters, Fransien en Bettie, die dogters van Piet en Anna Ferreira. Wanneer ek praat van ’n groot plaashuis, bedoel ek vyf slaapkamer­s, Frans-Hollandse styl, groot, groen grasperk; mooi!

Ons vier is baie goeie vriendinne, maar Katrien is my heel beste niggie- vriendin, nog van altyd af.

Fransien is die oudste, die brunet met die blou oë. Ek verkyk my soms aan haar: Sy het die mooiste, volmaakte wit tande. Sy is nou maar eenvoudig beeldskoon. Sy is die oulike gr. 1-juffroutji­e, en al die kinders, tot in haar Sondagskoo­lklassie, is lief vir haar.

My ouma het altyd gesê: “Daai Fransien- kind gaan dit nog ver bring in die lewe en sakke vol geld maak. Met daardie mooigeit en lyfie kan sy maklik ’n model word of ’n ryk man losslaan. My kind, jy moet maar vir Katrientji­e los en saam met Fransien begin kuier.”

Bettie is die jongste van die drie. Sy lyk altyd so broos, soos ’n porseleinp­oppie, van daardie soort wat net so vir die mooi op ’n mens se spieëlkas staan. Sy is blond met natuurlike ligstrepie­s in haar hare. Haar rokkies en broekpakki­es is altyd van sulke sagtekleur­e-materiaal gemaak.

Sy is eintlik te mooi vir die plaaslewe; sy sou beslis nie inpas in ’n stal tussen beeste of enige vuil plaaswerk kon doen nie. Sy is stil, op haar plek, maar die kêrels hang aan haar lippe. Ek dink dit is omdat sy so ’n geheimsinn­ige kyk in haar oë het, amper so ’n ek-wonder-wat-jydink-kyk.

Dan is daar my BFF, soos ek en Katrien mekaar noem. Dit staan vir best friends

forever; ons is meer soos susters as niggies. My ma en haar pa is suster en broer.

Ons twee is in dieselfde jaar gebore en verskil presies twee maande en drie dae. Wanneer ons besluite moet neem, bring ek dit duidelik onder haar aandag dat ek

Sy het reguit vir haar susters gesê sy het nie tyd vir rondstaan en oulik lyk nie

meer gesag het aangesien ek die oudste is.

Goeie, geduldige Katrien, die middelkind. Sy klim onder ’n mens se vel in, tot Ouma s’n. Sy is die uitgesprok­e een, nie bang om ’n ding op sy naam te noem nie, oom Piet se plaaskind; sy kan trekker ry en loop sommer kaalvoet deur die beesmis. Sy het vir my gesê: “Kom voel, man, dit voel lekker warm tussen ’n mens se tone. Dit stink ’n bietjie, maar dit is cool.”

Ek het eendag gevoel en die aand nogal vir Ouma vertel. Sy het net gesê: “Sies, man, jy sal kieme kry! Meisiekind­ers doen nie sulke goed nie; dit is nou regtig nie Ouma se cup of tea nie.”

Katrien is eintlik haar pa se witbroodji­e. Wanneer hy koöperasie toe gaan, smokkel hy haar in die bakkie in, dan luister hulle countrymus­iek – Patsy Cline en Loretta Lynn – en sing uit volle bors saam. Op pad terug hou hy stil vir Wilson-toffies, wat hulle vinnig opeet voor hulle op die plaas kom.

Oom Piet mag eintlik nie lekkers eet nie; hy het diabetes, maar saam met Katrien is hy stout. Wanneer tannie Anna uitvind, skel sy, maar sy weet eintlik moet sy maar haar kop skud, want sy het nie ’n kat se kans wanneer Katrien en haar pa saamstaan nie.

Maar o wee, daar is net een probleempi­e. Met Katrien se muisvaal hare en baie – soos in baie – sproete, is sy nie regtig die skoonheid van die dorp nie. Foeitog, hoewel sy ’n besonderse geaardheid het, het sy taamlik agter in die ry gestaan met die uitdeel van die popgesiggi­es en Barbie-lyfies. Maar eintlik is sy baie sportief gebou met dié dat sy so heeldag in die buitelug besig is.

Katrien is nou maar eenmaal daardie skewe pot. Ouma het gesê: “My liewe kind, die dag as Katrien ’n man kry, val die son en die maan wragtig uit die hemel en loop ek uit my loopring uit.”

EN TOE, op ’n warm sonskynmid­dag in September, kom meld Fiela aan vir werk by Uniondale se polisiekan­toor; hy is die nuwe konstabel van die dorp. Hy het dalk ’n meisienaam, maar hy is nou vir jou ’n man, ’n régte man. Lank, blas vel, donker, smeulende oë wat sag lyk wanneer hy lag, en het hy vir jou spiere! Dan het hy nog sulke mooi hare, dit lyk eintlik asof dit so ’n bietjie deurmekaar moet wees.

Natuurlik wou al wat ’n meisie is haar gaan voorstel. Hulle het mandjies kos aangedra en met verwelkomi­ngskaartji­es met die mooiste woordjies sy aandag probeer trek. Fransien en Bettie natuurlik ook, maar my nigmaatjie Katrien het nie ’n saak gehad met die mannetjie en al sy spiere nie; sy wou net boer en bakkie ry. Tussen die skape en beeste was sy gelukkig.

Sy het reguit vir haar susters gesê sy het nie tyd vir rondstaan en oulik lyk nie; daar was werk om te doen.

Fiela was baie gewild, hoewel hy nie daarvoor gevra het nie. Hy is na elke geleenthei­d op die dorp genooi: danse, konserte, etes . . . tot by Katrienhul­le aan huis. Arme Fiela kon nie waag om nee te sê nie.

Hy het Katrien wel met hierdie kuiertjies op die plaas raakgesien, maar nooit die kans gekry om met haar te gesels nie. Die res van die familie en vriende het sommer namens haar ook gepraat, en die Ferreiras kon baie praat.

Katrien was altyd net die woelige meisie wat oral gehelp het; die regterhand met die reëlings by elke gesellighe­id. Almal kon altyd op haar knoppie druk.

Fiela het haar soms dopgehou en gedink sy lyk interessan­t, dié meisiekind met die sproetjies en die groot, breë glimlag, met haar blou jeans en plaasskoen­e. Soms het sy sandale gedra, maar haar gunsteling was haar bruin plaasskoen­e. Sonder aansit; sommer net.

SO WAS dit 31 Desember 2014 en die Oujaarsdan­s is in die skuur. Die tafels was gedek; meel op die vloer vir die dansery gestrooi. Al wat ’n mens is, was gesellig; amper die hele vallei se boere was daar. Plekplek was bale met ’n mieliesak oor vir ekstra sitplek; die reuke van potjiekos en braaivleis in die lug.

Fiela het Katrien by die kombuis ingewag waar sy met ’n skinkbord in die hande op pad was om te gaan bedien. Hy het voor haar gaan staan, haar reguit in die oë gekyk en gesê: “Katrien, sit neer daardie skinkbord. Kom, ons gaan dans nou, ek en jy. Nee is nie ’n opsie nie; ek wag.”

Fiela het met sy sterk arms haar om die lyf gevat en dansbaan toe gestuur. Katrien kon nie glo hoe verwaand die man is nie; tog het sy gehou van sy manier om ’n dans te vra. So het hy en Katrien gedans, die een liedjie ná die ander, die kombuis vergete, die Nuwejaar in.

Ouma se oë het amper onder die trekker ingerol wat eenkant gestaan het; sy kon nie glo wat sy sien nie. Ek moet erken, ek ook nie. Ouma kyk my stom aan en sê eindelik: “Jinne, my kind.” Dis al; net die drie woorde.

Van daardie eerste dans af was Fiela en sy Katrien onafskeidb­aar. Sy het elke dag vinnig by hom ingeloer en hy het elke aand ná werk op die plaas gaan eet.

Oom Piet en tannie Anna was in hul noppies met die konstabelt­jie en hul Katrientji­e. Eindelik ’n man wat Katrien se hart verstaan. Hy het boonop van boerdery gehou; hy het op ’n skaapplaas in die distrik Swellendam grootgewor­d.

OP Valentynsd­ag 2015 het Fiela die groot vraag gevra toe amper almal op die dorp by die Valentynsd­ans was. Katrien het geblom. Sy het glad ’n rooi bloes aangehad by haar jeans – vir die liefde.

Fiela het gereël dat die musiek presies negeuur ophou. Hy het voor Katrien gekniel, haar in die oë gekyk en gesê: “Katrien, jy is my plaasmeisi­e met die groot hart. Ek is lief vir jou en sal vir altyd wees. Sal jy met my trou?”

Bles Bridges se Ek Reik na die Sterre het begin speel. Ek wonder nou nog hoekom juis daardie liedjie; ek weet daar is so ’n stukkie van “liefde in my lewe” of so iets. Die ring was volmaak, goud met sulke klein diamantjie­s; dit het gepas by Katrien, nie te oordadig nie. So is die koeël toe finaal deur die kerk.

Oom Piet en tannie Anna was in hul skik, want Fiela het reeds ouers gevra en eindelik was die geheim uit.

DAARDIE aand het ek en Ouma aan die kombuistaf­el sit en dink oor die dag se dinge. Ek kon sien Ouma wik en weeg voor sy begin. “My kind, elke pot kry seker ’n deksel, maar Ouma het rêrig gedink onse Katrientji­e se pot is darem baie skeef en krom. Ouma het nie geweet van daardie skewigheid af nie.”

Ek moes self nogal mooi dink, anders klink my woorde deurmekaar, en ek wou hê Ouma moes mooi verstaan: “Ja, Ouma, dit is seker so, maar gelukkig is Fiela Katrien se Glad Wrap: Dit pas oor elke pot; die skeefstes ook.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa