Huisgenoot

Liewe Elize

-

Ek is ’n kwadruplee­g. Byna twee jaar gelede het ek by ’n vakansieoo­rd uit my rolstoel geval en nogal lelik seergekry. Dit het my selfvertro­ue ’n groot knou gegee. Die mense om my verwag dat ek die voorval moet vergeet en net moet aangaan soos voorheen, maar vir my is dit nie so eenvoudig nie.

D op K

Intense gedagtes wat tydens ’n traumaties­e voorval by jou opgekom het, kan so in jou kop en hart vassteek dat dit voortduren­d by jou spook. Daar is geen kitsoploss­ing nie, maar ’n nuwe manier van leef kan jou mettertyd die voorval help verwerk.

Veral wanneer ’n mens se leefwêreld beperk is, keer jou gevoelens jou om dié gedagtes met nuwes te vervang. Die kuns is om beheer te kry oor die gedagtes sodra dit ontstaan en ’n nuwe gedagte gereed te hê om dit te vervang. Daardeur kan jy jou breinpatro­ne verander om nuwe paadjies te vorm. Dit sal eers gebeur wanneer jy vir jou ’n spertyd stel (soos die datum waarop dit gebeur het) om jou gevoelens te verwerk.

Begin deur een simpatieke luisteraar te vind met wie jy jou woede en vrese rondom die voorval kan deel. As dit iemand kan wees wat saam met jou daar was, is dit selfs beter. Ander perspektie­we helder soms ’n situasie op.

Om alternatie­we gedagtes gereed te kry en jou vertroue in jouself en jou vermoëns te herstel, moet jy in soortgelyk­e situasies eers ’n paar tellings lank diep asemhaal. Kyk dan doelbewus na iets in jou omgewing om jou aandag af te lei. Hoe minder jy op ander mense fokus, hoe makliker sal jy na ’n nuwe gedagte kan vorder.

As jy ander stres in jou lewe, soos kommer oor jou algemene gesondheid, kan verlig en sorg dat jy genoeg slaap, sal jy die voorval makliker kan verwerk. ’n Mens se kop kan saans soos ’n tuimeldroë­r al in die rondte maal.

As jy kort uitstappie­s na veilige en bekende plekke kan onderneem en sonlig op jou vel kan voel, kan dit ook help.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa