Hoe onmeetlik en ongeneeslik is die tragedie van ’n kind se dood nie!
EK
het gekyk na die insetsel op Kwêla oor die fratsdood van die akteur Waldemar Schultz se seun wat in die see by Hermanus verdrink het. Dit noop my om van ons eie gesinstragedie te vertel.
Dis 22 Oktober 1955. Ons melk is pas by ons huis in Koedoespoort, Pretoria, afgelewer. Ons vier kinders stap saam met my ma na die voorhek om dit te gaan haal. Kleinsus Babsie, net vier jaar oud, tel ’n melkbottel op.
Skielik is dit asof sy struikel. Ma kyk en sien Babsie is blou in die gesig. Sy neem die melk uit haar hand en hardloop met haar na die kombuis, waar sy water in haar gesig spat. Ons skarrel, want pa moet gebel word en daar is net een telefoon in die hele woonbuurt – by die Spoorwegkoshuis. Pa kom met sy fiets by die huis aangejaag.
Ons kry haar by die hospitaal, maar te laat. Sy het verstik aan ’n mansjetknopie wat in haar windpyp vasgesit het nadat sy dit gesluk het.
Dis moelik om te beskryf hoe dié tragedie ons familie vandag nog beïnvloed. Ma se afsydigheid ná Babsie se dood; die besoeke aan Babsie se graf in die Sandfontein-begraafplaas op haar verjaardag, sterfdag en Kersfees; die lang, ongemaklike en soms haatlike ritte in die 1936Ford teen 50 myl/h (80 km/h), selfs nadat ons Bloemfontein toe verhuis het (niemand het ’n woord in die kar gepraat nie). Ma wat Babsie se klere gereeld bly was, opvou en wegpak; haar geleidelike terugkeer na menswording oor jare heen.
Dan besef jy watter onmeetlike verlies ’n kind se dood vir ’n ma is. Dit laat ’n wond wat nooit heeltemal sal genees nie.
Ons praat nooit meer oor daardie dag nie. Maar vergeet, dit sal ons nooit. Baie dankie dat ek my hart kon skoonmaak. NICO COHEN, DOUGLAS