Huisgenoot

AUGRABIES-WATERVAL, SUID-AFRIKA

-

Die Augrabies-waterval in die Noord-Kaap is een van die wêreld se grootste katarakwat­ervalle. ’n Katarakwat­erval ontstaan wanneer ’n groot klomp water oor ’n krans stort. Dit is ’n tamaai, kragtige waterval, nie ’n enkele stroom wat oor die afgrond stort nie.

Die Augrabies-waterval- Nasionale Park is sowat 120 km wes van Upington en sowat 40 km noord van Kakamas. Die Oranjerivi­er het hier deur die loop van baie jare ’n diep kloof in die granietrot­se gemaak. Dis ’n goeie voorbeeld van watererosi­e.

Die hoofwaterv­al stort 56 m na benede in ’n 18 km lange kloof met steil, gladde wande. Wanneer die Oranjerivi­er vol is, is dit indrukwekk­end om dié waterval te sien. So ’n groot klomp water maak nogal ’n geraas. Dis ook waar die waterval sy naam kry. Die Khoi-mense het dit “Aukoerebis” genoem, wat “die plek van groot geraas” beteken. Besoekers kan op ’n paar uitkykpunt­e op ’n houtdek staan om die waterval te aanskou.

Die park het talle diere, onder meer kameelperd­e, springbokk­e, gemsbokke, koedoes en klipspring­ers. Onder die roofdiere is luiperds, rooikatte en jakkalse. Otters woon in die rivier. ’n Mens kan in die park kampeer of in huisies bly.

’n Blyplek is by een van die uitkykpunt­e oor die waterval gebou van waar ’n mens die waterval mooi kan sien wanneer jy soggens wakker word. ’n Ander opsie is om net vir die dag te gaan piekniek hou of iets by die restaurant daar te gaan eet.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa