Boere op knieë weens droogte
Vir Kaapse boere soos Niekie Mouton het Dag Zero as’t ware reeds aangebreek met die droogte wat hulle erg knel
ONS vat die N7 uit die Kaap na waar die pad met ’n boog binneland toe draai. In die ry vertel die landskap sy eie verhaal: Malmesbury, Moorreesburg, Piketberg . . . na alle kante lê die aarde dor en bruin onder ’n wolkelose hemel. Die landerye is bar en vlamrooi gebak deur die son, so asof dié streek sy bynaam, Rooi-Karoo, gestand doen.
As jy nie weet hoe droogte lyk nie, laat die N7 jou wys. Want ons landbougemeenskappe het ’n dringender krisis as grondonteiening op hande.
Weens die voortslepende droogte is voedselproduksie in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap erg afgeskaal. Derduisende plaaswerkers en seisoenplukkers se werk is in gedrang en reuseverliese staar boere in die gesig. Weens dié haglike situasie het Suid-Afrika se nuwe landbouminister, Zweli Mkhize, onlangs die drie Kaapprovinsies tot nasionale droogterampgebiede verklaar; dus kan die provinsies geldelike en ander hulp vra.
Naby Eendekuil hou ons stil op Goedemanskraal, waar Niekie Mouton (62) se koel studeerkamer ’n welkome lafenis bied. Sy vrou, Jolene (63), dra koffie en beskuit aan terwyl ons gesels. Ja, vertel hy met sy tipiese Swartlandse bry, die droogte hurk al lank oor die distrik.
“2015 was ’n báie droë jaar,” vertel die gryskopboer. “Toe kom 2016; eintlik bogemiddeld tot goed, na gelang van waar jy woon. En toe 2017. Dit het ’n bietjie later as gewoonlik gereën, maar die goedjies was by ons op die fyner gronde orraait. Die swaarder gronde het van die begin af slae gekry.”
Een Sondagmiddag in Junie het ’n verdwaalde donderbui vir 30 mm gesorg, vertel hy half verlangend. “Maar toe kom 15 September, en die reën hou op.” Weens die somer se hitte het die jong koringplantjies doodgebrand. “Hier is plase wat niks geoes het nie,” sê Niekie, wat met graan, kanola, rooibostee en sitrus boer.
Niekie, wat eers by Citrusdal geboer het, is al van 1981 af hier op Goedemanskraal. Hy sê dis sy ergste droogte ooit.
Die oes is baie kleiner as voorheen. In 2015 het Niekie omtrent 1 t koring/ha geoes. In 2016 was dit ’n “massiewe oes” van byna 3 t/ha. “Verlede jaar, 2017, het ek net omtrent 600 kg/ha afgehaal.”
Terwyl hy in 2016 sowat 2 t kanola/ha geoes het, was dit verlede jaar 200 kg/ha.
Op sy plaas is die damme kurkdroog. ’n Kleiner dam naby die plaashuis is darem vol boorgatwater, waarvan hulle afhanklik is. “Jy begin alle ekstra uitgawes sny,” verduidelik Niekie.
Nes soveel medeboere maak hy maar ’n plan. Die goeie prys van rooibos hou hom aan die gang. “Met minimum bewerking en goeie wisselboustelsels kan ons tog oorleef.”
Die een uitgawe wat Niekie nié besnoei nie, is sy heeltydse plaaswerkers. “Party boere moes werkers laat gaan, maar ek kan nie van my werkmense ontslaan nie. Hulle verstaan die ritme van my boerdery en ek kan hulle nie vervang nie.”
Hy is bekommerd oor seisoenwerkers. “Hier kom minstens twee of drie mense per week werk vra. Ons kan hulle nog help, want ons sal nog so twee weke lank tee sny. Maar wanneer die vrugteseisoen in April begin, sal dit ’n probleem raak.”
DIE DROOGTE SE UITWERKING
“Die droogte het die landbousektor hard getref,” sê Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir landbou. Voor die aankondiging oor nasionale ramphulp het sy departement reeds R120 miljoen droogtehulp – waartoe die nasionale regering R40 miljoen bygedra het – aan boere versprei. Dié hulp het byvoorbeeld voer vir vee behels.
“Nog geld vir droogteverligting sal van
1 April af, wanneer die nuwe begroting intree, toegewys word,” sê Alan.
Volgens ’n droogteverslag wat die WesKaapse regering in Februarie gepubliseer het, kan die provinsiale landbousektor se verlies weens die 2017/’18-droogte sowat R5,9 biljoen beloop. Volgens die verslag het sowat 30 000 plaaswerkers se werk al in die slag gebly weens verlaagde produksie en kan werkverliese toeneem.
“Ons is baie bekommerd,” bevestig Karel Swart, woordvoerder van die plaaswerkersvakbond Commercial, Stevedoring, Agricultural and Allied Workers Union. “Terwyl seisoenwerkers voorheen vyf of ses maande lank kon werk, is dit nou drie maande. Baie van die mense het glad nie seisoenwerk gekry nie,” sê Karel.
Verskillende soorte seisoenwerk word geraak – van takke sny tot vrugte pak. Karel sê sy vakbond, met sowat 5 000 lede in die Wes-Kaap, hou sowat agt weeklikse sopkombuise, “net om te help teen die ergste honger . . .”
Dis volgens die verslag nog onduidelik hoe wynuitvoer geraak sal word. Maar vrugte vir uitvoer sal met 13 tot 20% afneem. Die uitset van appels en pere sal na verwagting met 9% afneem, sagtevrugte, soos appelkose, perskes en pruime, met sowat 8% en sitrus sowat 7%.
In 2017 het die Wes-Kaap 1,1 miljoen t koring gelewer; vanjaar net 586 800 t.
Boere lewer 20% minder groente, soos aartappels, uie, botterskorsie, pampoen, wortels en kool. Net dié sektor is 3 000 werkgeleenthede kwyt.
Die Wes-Kaapse tafeldruiwebedryf sal sowat R787 miljoen verloor weens die produksieafname van 18%. Die wynbedryf sal ’n geskatte R591 miljoen verloor omdat 20% minder wyndruiwe we gelewer word.
WAT VAN VOEDSELPRYSE?
Louw Pienaar, landbou-ekonoom van die Wes-Kaapse landboudepartement, het die droogteverslag help opstel. “Die tekort aan vars produkte weens die droogte het pryse in Kaapstad se vars- produktemark opgestoot,” sê hy.
“Maar ons verwag nie dit sal l voortduur nie. Teen sulke hoër pry- se sal die produkte eenvoudig van n niedroogtegebiede in die land af f kom en pryse sal stabiliseer.
En uitvoer? “Aangesien die drooggte die kwantiteit sowel as die kwaliiteit van vrugte benadeel, vermoed d ek ons sal minder uitvoer en baie ie van die produkte sal in die plaaslike markte beland,” sê hy. Eindelik sal daar dus meer vrugte as gewoonlik in die plaaslike mark wees, wat pryse kan afbring, “tot nadeel van die produsent”.
Ons voer al jare lank heelwat koring in, wat die droogte se nadelige uitwerking op dié mark sal help versag.
“Die droogte raak verskillende produkte verskillend; ons kan nie nou al sê wat met pryse sal gebeur nie,” sê Louw.
DIE PAD VORENTOE
Die droogte sal vir eers voortduur en minder reën sal die norm vir die WesKaap word, voorspel kenners in die droogteverslag. Hoe nou gemaak?
“Ons in die Wes-Kaapse regering spits ons al ’n paar jaar lank daarop toe om landboupraktyke en -tegnologie te ontwikkel wat boere sal help oorleef met minder water en te midde van klimaatsverandering,” sê Alan.
’n Voorbeeld is die provinsie se Fruitlook-projek waarmee boere hul gewasse se waterverbruik met satellietfoto’s kan monitor. “Ons finansier ook navorsing oor alternatiewe gewasse en spoor boere aan om sulke gewasse te plant wat arbeidsintensief en oorsee in aanvraag is.
“’n Aspek van die provinsiale plan is om seker te maak die boere kan aanhou boer om werkverliese te bekamp,” sê Alan. “Die departement bied al jare lank kursusse aan om werkers te help om hul vaardighede te verbeed.”
Hulle het al landbougemeenskappe gehelp deur boorgate te sink in die munisipale gebied Matzikama in die noordweste van die provinsie. Voorts is lekplekke in die Clanwilliamdam-kanale herstel om waterverlies te bestry.
Maar noodleniging, die skep van nuwe waterbronne en die instandhouding van bestaande bronne is die nasionale regering se verantwoordelikhede, sê Alan.
Die nasionale departement van landbou het teen druktyd nie op navrae oor die droogte gereageer nie.
En intussen bly die reënwolke ontwykend en die aarde dor.