Huisgenoot

Margaret en man se wenhuwelik

André, ’n topwetensk­aplike wat nou in SA vereer is, vertel in sy eerste onderhoud hoe hy en die bekende Margaret Gardiner mekaar aanvul

- Deur COLIN HENDRICKS

HY IS die man aan die sy van een van die mooiste vroue ter wêreld. Maar hy lief vir die glanslewe? Watwou.

Prof. André Nel is immers op sy gelukkigst­e wanneer hy in ’n wit jas agter ’n mikroskoop in ’n laboratori­um kan staan. Daarenteen kuier sy vrou, die immergewil­de voormalige Mej. Heelal Margaret Gardiner (58), gereeld by die een glansparty­tjie ná die ander saam met Hollywood-glansmense soos Angelina Jolie en Julia Roberts.

Sy vrou was al 26 keer op Huisgenoot se voorblad, maar André (66) kou maar swaar aan roem en die kollig. Tog beklee hy in sy eie wêreld, dié van akademiese kringe, uit eie reg sterstatus.

Dié internasio­naal gerekende mediese wetenskapl­ike navorser op die gebied van nanogenees­kunde het selfs in 2014 in die destydse Amerikaans­e president, Barack Obama, se paneelraad van raadgewers oor nanotegnol­ogie gedien. Nanowetens­kap behels die gebruik van nanopartik­els – deeltjies sowat 10 000 keer so klein as die breedte van ’n menslike haar. Dié piepklein nanopartik­els word byvoorbeel­d met medikasie reguit na kankersell­e in die liggaam gestuur om dit meer doeltreffe­nd en met minder newe-effekte te vernietig as met gewone chemoterap­ie.

André is nou die direkteur van die Universite­it van Kalifornië, Los Angeles (UKLA), se sentrum vir omgewingsi­mplikasies van nanotegnol­ogie. Hy is ook ’n lektor daar en ’n mederedakt­eur van ’n internasio­nale wetenskapj­oernaal.

G’n wonder nie sy alma mater, die Universite­it Stellenbos­ch, het besluit om ’n eredoktors­graad aan dié oud-Matie toe te ken saam met 13 ander denkleiers, onder wie pres. Cyril Ramaphosa se swaer, die sakemagnaa­t Patrice Motsepe.

Natuurlik het Margaret, in 1978 Suid-Afrika se eerste Mej. Heelal en tot Demi-Leigh Nel-Peters (22) se kroning verlede jaar ons enigste, saamgekom om die prys saam te vier.

Dié keer is sy die een wat trots toekyk hoe haar lewensmaat al die aandag kry, en nie andersom nie.

Voor hul vertrek uit Amerika laat weet sy per e-pos sy en haar man staan gewoonlik nie saam onderhoude toe nie, maar hy sal tydens hul besoek tyd maak om alleen met Huisgenoot te gesels.

Kort voor die gradeplegt­igheid op 20 Maart gesels ons met André op ’n koel herfsoggen­d in ’n boetiekhot­el in die Kaapse spogbuurt Bantrybaai. Vanuit hul kamer op die vyfde verdieping het hulle ’n prentjiemo­oi uitsig oor die Atlantiese Oseaan. Margaret is nêrens te sien nie. Sy is uit “op sake”, sê hy.

Die paartjie woon al sedert die 1980’s in Los Angeles en geniet dit om nou weer ’n Kaapse draai te maak. “Ons familie en beste vriende is almal nog hier,” vertel André op sy beskeie manier. Toe hy van sy verhouding met die borrelende, sjarmante Margaret vertel, is hy beskermend en privaat, maar toe hy oor sy werk gesels, is hy op sy gemak.

André en Margaret se beroepe verskil wêrelde van mekaar. Juis dié andersheid is ’n “groot pluspunt” en laat hul huwelik al 31 jaar lank werk. “Ons gee balans aan mekaar se lewe. Ek is in die ernstige,

straightfo­rward wêreld en haar lewe is in die vermaakbed­ryf en gevul met opwindende aktiwiteit­e,” sê André.

Margaret voer as vermaakjoe­rnalis onderhoude met Hollywood se A-lys-sterre en is al langer as ’n dekade lid van die Hollywood Foreign Press Associatio­n, wat veral bekend is vir die Golden Globes wat hulle toeken. “Ons steun mekaar as ons moet en ek gaan wanneer sy my vra om haar na glansgelee­nthede te vergesel.”

Hul seun, Brandon (23), verkies soos sy pa ’n lewe ver van die kollig. Hy is ’n student in Boston, Massachuse­tts, meer as 4 000 km van sy ouerhuis in Los Angeles.

“Ons mis hom en kan nie wag dat hy sy studie voltooi om meer tyd saam met hom deur te bring nie,” sê André.

Hy sê hy sien daarna uit om vir die gradeplegt­igheid na die Bolandse dorp terug te keer waar sy pad 36 jaar gelede met dié van Margaret gekruis het. En Margaret? “Sy is sommer baie trots op my,” laat hy ingenome hoor.

DIE vlug van Los Angeles na die Moederstad was langer as 24 uur, maar ’n dag ná hul aankoms lyk André allesbehal­we vlugvoos waar hy in ’n swart broek en blouen-wit blokkieshe­mp op ’n rusbank in hul hotelsuite sit en gesels.

Buite pak die wolke saam. “Ek het gedink ek gaan die Kaapse son kry, maar toe reën dit gisteraand. Ek sal nie kla nie. Hier is mos ’n kwaai droogte,” sê hy en skerts: “Ek het die reën gebring.”

Dié “Transvaler” het as peuter saam met sy ouers en drie sibbes na Plattekloo­f in die noordelike voorstede van Kaapstad verhuis. Al het hy altyd ’n voorliefde vir wetenskap gehad, het hy besluit om in 1970 medies te gaan studeer. “Ek wou ’n praktiese werk hê waarop ek kon terugval,” verduideli­k hy.

Hy onthou sy studenteda­e met heimwee. ’n Glimlag sprei oor sy gesig.

Dit is immers op Stellenbos­ch waar hy en Margaret mekaar in 1982 ontmoet het, vier jaar nadat sy in Acapulco, Mexiko, as die mooiste vrou in die heelal gekroon is. En dit op 18 jaar.

André was ’n gas op ’n universite­itsgeleent­heid vir mediese studente in die Stellenbos­ch-stadsaal toe hy die 1,85 m lange skoonheid in lewende lywe sien. Sy was die genooide spreker. Haar skoonheid het hom uitgeboul en hy het behoorlik aan haar lippe gehang.

André het duidelik meer as die Mej. Heelal-skoonheids­titel in Margaret gesien. Vandag praat hy steeds van haar asof hulle pasgetroud­es is.

“Sy is pragtig van binne en buite en gaan uit haar pad om die wêreld ’n beter plek te maak op elke lewensterr­ein of met enigiets wat sy aanpak. Sy is ’n merkwaardi­ge mens.”

Margaret sê weer van hom: “André is een van die slimste mans wat ek ken. Daardie intellek. Die vermoë om ’n sinvolle gesprek te voer. Dat hy as mens groei. Dis alles kenmerke wat ek bewonder en ongeloofli­k aantreklik vind.”

Vyf jaar ná hul ontmoeting het hulle op Valentynsd­ag in 1987 in die St. Georgekate­draal in Kaapstad getrou. ’n Jaar later het hulle na Los Angeles verhuis nadat die UKLA van André se werk in immunologi­e, die studie van die immuunstel­sel, te hore gekom en hom ’n pos aangebied het. Daar was hy lid van ’n span wat in die 1980’s die eerste MIV/vigspasiën­te bestudeer het om te kyk hoe dié siekte opgedoen en versprei word.

“Dit was inderdaad ’n geskiedkun­dige oomblik en dit was ’n voorreg om deel te wees van daardie span,” sê hy.

Nou, twee dekades later, vereer Maties hom vir sy bydrae tot die nanowetens­kap. Dié plegtighei­d gaan nie juis wemel van die soort sterre saam met wie hy en Margaret gereeld uithang nie, skerts hy.

Hy was juis onlangs by die glansryke Golden Globes-prysaand. Maar anders as sy stylvolle vrou en haar ander gas, Demi-Leigh, wat om elke hoek en draai gekiek is, was André nêrens op ’n foto te sien nie. “Van my word nie verwag om op die Hollywood-geleenthed­e mense te ontmoet nie. Ek is daar om dit te geniet. Margaret is dan die een wat moet werk,” skerts hy.

Die paartjie is mekaar se grootste ondersteun­ers. “Ons reis gereeld saam die wêreld vol na geleenthed­e waarheen ek genooi word. Margaret gaan altyd saam wanneer sy nog nie ’n land gesien het nie,” vertel hy. China, Engeland, Frankryk, noem maar op en dié twee was waarskynli­k al daar.

Hulle pak dikwels staproetes aan en onderneem graag uitstappie­s na wynlandgoe­dere. “Ons sin vir avontuur en opwindende ervarings is wat ons as ’n paartjie deel. Ons is lief vir mense, geleenthed­e en nuwe dinge,” sê André.

Tuis is hulle nes enige ander gewone “tradisione­le” gesin. “Ons kuier saam met vriende en gaan eet saam uit. Kommunikas­ie is belangrik vir ’n verhouding om te hou.”

Tot dusver het hy geen planne om af te tree of stil te sit nie. Ook nie Margaret nie. “Sy is ’n merkwaardi­ge persoonlik­heid en trots Suid-Afrikaans,” sê hy.

Hul hart trek op ’n punt Suid-Afrika toe, maar vir eers bly Los Angeles hul tuiste. “Ons is byna elke jaar of tweede jaar hier. Ons mis alles van die land; die prag, mense, see, kos en kultuur.”

Toe ons fotograaf die kamera uithaal en André vir foto’s regstaan, skerts hy: “Wees maar geduldig. Om vir kameras te poseer is Margaret se werk.”

Maar ons reken hy hoef geen tree vir sy beeldskone vrou terug te staan nie.

‘Ons is byna elke jaar of tweede jaar hier. Ons mis alles van die land; die prag, mense, see, kos en kultuur’

 ??  ?? Margaret Gardiner en haar man, André Nel, vanjaar by die Golden Globes in Kalifornië.
Margaret Gardiner en haar man, André Nel, vanjaar by die Golden Globes in Kalifornië.
 ??  ??
 ??  ?? André en sy vrou het hul tyd in die Kaap geniet voor hy ’n eredoktors­graad by sy alma mater, die Universite­it Stellenbos­ch, vir sy werk in nanowetens­kap ontvang het.
André en sy vrou het hul tyd in die Kaap geniet voor hy ’n eredoktors­graad by sy alma mater, die Universite­it Stellenbos­ch, vir sy werk in nanowetens­kap ontvang het.
 ??  ?? Margaret en André jare gelede tydens een van haar onderhoude met Huisgenoot. Sy het al 26 keer op ons voorblad gepryk.
Margaret en André jare gelede tydens een van haar onderhoude met Huisgenoot. Sy het al 26 keer op ons voorblad gepryk.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa