Huisgenoot

Moet liefs nie namens ’n geliefde skuld maak nie

Moenie met ’n geliefde se skuld opgesaal word nie. Hier is raad om jouself te beskerm

- Deur LETITIA WATSON Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.

DIE liefde is blind, lui die gesegde. En dis alte maklik om nie aan die dag van môre te dink wanneer jy deur jou hart meegesleur word nie. Maar dink liewer mooi voor jy jou beursie so groot soos jou hart oopmaak en pa staan vir jou maat of ’n ander geliefde se finansiële dinge. Want as die liefde byvoorbeel­d by die deur uitstap, bly jy dalk met ’n berg skuld agter waarvoor jy wetlik verantwoor­delik is.

Hier is vyf maniere waarop jy vir jouself ongewenste skuld op die hals kan haal vir ’n geliefde – en hoe om dit te vermy.

1 DEUR BORG TE STAAN

Dit is wanneer jou geliefde ’n persoonlik­e lening (byvoorbeel­d ’n huis- of motorlenin­g) aangaan en jy skriftelik instem om die borg te wees.

Dit beteken jy verbind jou daartoe om die skuld te betaal as jou maat nie kan nie. Maar onthou – al gaan julle uitmekaar, is jy steeds verantwoor­delik vir die skuld as hy of sy dit nie kan betaal nie.

In die fyn druk van sulke kontrakte staan soms die krediteur kan regstreeks op jou as borg se bates beslag lê – sonder om die geld eers van die ander persoon te probeer verhaal. Maak dus seker jy verstaan die kontrak – ook enige Latynse frases.

Doen dit: Daar is nie ’n maklike pad uit ’n borgskap nie; net duur regsproses­se, sê Matthys Potgieter van Debtsafe.

Besluit liewer van meet af aan dat jy vir niemand borg staan nie.

2 DEUR IN GEMEENSKAP VAN GOED TE TROU

As jy in gemeenskap van goed getroud is, is jy en jou maat saam verantwoor­delik vir enige skuld wat deur enigeen van julle aangegaan word. En al skei julle, sal jy steeds verantwoor­delik wees vir die skuld wat jou eks tydens die huwelik gemaak het, maar nie kan betaal nie. In so ’n geval sal die skuldinvor­deraar ’n hofbevel teen jou kry om die skuld te delg.

Doen dit: As jy buite gemeenskap van goed trou, is jy nie outomaties vir jou maat se skuld verantwoor­delik nie. Selfs as julle buite gemeenskap van goed met die aanwasbede­ling trou, behoort net die niebetaler vir skuld aanspreekl­ik te wees. Hou dit in gedagte voor jy afhaak.

3 DEUR AANKOPE VIR JOU GELIEFDE TE DOEN

Dit is ’n probleem wat skuldraadg­ewers dikwels teëkom, sê Matthys. Dit gebeur byvoorbeel­d as jy kredietkaa­rtskuld maak om vir jou geliefde meubels, klere, elektronie­se toebehore of wat ook al te koop. As die liefde verdamp, gaan die skuld bly staan. En as jy nie die betalings byhou nie, gaan jy ’n slegte kredietrek­ord kry.

In alle gevalle sal julle albei verantwoor­delik wees vir enige skuld aangegaan terwyl julle binne gemeenskap van goed getroud was. Doen dit: Ingevolge sekere paaiemento­oreenkomst­e kan jy die koopooreen­koms skriftelik kanselleer. Jy het die reg om goedere soos motors of meubels terug te gee as jy nie meer die betalings kan bekostig nie. Maar gee jy dit terug, is jou skuld nie noodwendig afgelos nie.

Die kredietver­skaffer moet dan die goedere verkoop. As hy minder daarvoor kry as wat jy nog skuld, is jy verantwoor­delik vir die uitstaande geld.

4 DEUR SKULD VIR JOU KIND AAN TE GAAN

Jy kan byvoorbeel­d namens jou kind om ’n studieleni­ng aansoek doen. Jy is dan die borg en betaal die rente en diensgeld terwyl die student opleiding ontvang. Wanneer die student sy studie voltooi, sal hy of sy minder skuld hê om te betaal.

Maar onthou, as die kind sy studie opskop, sal moontlik van jou verwag word om dadelik die rente en leningsbed­rag terug te betaal. Die kind kan dit nie doen as hy nie werk het nie – en jy het immers borg geteken.

Doen dit: As julle vir ’n studieleni­ng aansoek doen, moet jy en jou kind uitvind presies hoe die terugbetal­ings gaan werk – waarvoor, hoeveel en wanneer.

5 DEUR KONTRAKTE VIR ANDER AAN TE GAAN

Jy kan byvoorbeel­d selfoon- en gimkontrak­te aangaan waar jy as die betaler aangedui word, maar jou verhouding­smaat as die verbruiker. Dis nie deur en deur skuld nie, maar as julle uitmekaarg­aan en jou eks betaal nie, kan jy daarvoor verantwoor­delik gehou word. Julle sal albei verantwoor­delik wees vir skuld aangegaan terwyl julle binne gemeenskap van goed getroud was.

Doen dit: Kanselleer die kontrak so gou jy kan. Maar onthou, sulke diensooree­nkomste het gewoonlik streng kansellasi­efooie omdat dit vir ’n vasgesteld­e tydperk aangegaan is.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa