Huisgenoot

Ma sien dalk nooit weer haar seuns nie

- Deur PIETER VAN ZYL

Sy het 5½ jaar gelede weens haar nagmerrieh­uwelik in Griekeland na SA teruggekee­r – sonder haar kinders

DIT het al die elemente van ’n eksotiese sprokiesro­manse bevat: Op ’n plesierboo­t op die Middelland­se See ontmoet ’n jong Suid-Afrikaner ’n joviale Griek. Albei werk op die boot: sy as giminstruk­trise; hy as hotelbestu­urder. Hulle raak verlief, trou twee jaar later in Suid-Afrika en skop nes op ’n prentjiemo­oi Griekse kusdorp.

Maar pleks dat hulle soos in die flieks gelukkig saamleef, ontaard haar lewe in die land van gode in ’n nagmerrie. Nou, vyf en ’n half jaar nadat sy hom verlaat het, duur dit steeds voort, want al haar pogings om met haar twee jong seuns herenig te word was tot dusver vergeefs. Hul pa het geweier dat hulle saam met haar terugkom na Suid-Afrika, en sy het hulle nog nooit weer gesien nie.

“Ek voel hy het my net as surrogaatm­a gebruik om sy naam te laat voortleef,” sê Danelene Meyer (36) oor haar eksman, Andreas Dermatis (50).

Dan vertel die blondekop van die dag in September 2012 toe wanhoop haar daartoe gedryf het om haar en haar seuns (toe 2 en 4) se lewe te wil neem.

Sy het in die hawe van Piraeus naby Athene en sowat 35 km van hul tuisdorp, Nea Peramos, in haar kar gesit met haar seuntjies wat agterin lê en slaap het.

“Ek het besluit ek sou met ons drie die see inry. Ek het alles probeer, maar ek kon net nie langer vir ons ’n toekoms in Griekeland sien nie.

“Ek het reeds al die vensters oopgedraai sodat die water vinniger sou inspoel en ons gou verdrink.”

Maar toe klim sy uit, gaan staan onder ’n boom en dink na oor dié drastiese stap.

“Óf ek vat ons almal weg óf ek stap weg en gee hulle ’n kans,” het die gedagtes deur haar kop geflits. Sy sou haar kinders se lewe spaar, al moes sy sonder hulle terugkeer na Suid-Afrika. “Ek moes weg- kom voor ek iets verskrikli­ks aanvang.”

Toe sy begin inpak, het haar jongste seuntjie in haar tas geklim. “Mamma, saamgaan,” het hy gesmeek. Dit het haar hart gebreek.

Dannelene het haar kinders se pa gevra om ’n ent met die kinders te ry sodat hulle haar nie sou sien vertrek nie. “Toe daardie huisdeur agter my toeklap, het die lewe in my gesig toegeslaan. Daar was ’n oomblik van histerie. Ek’t gaan sit en bitterlik gehuil.”

HAAR trane vloei nou vrylik hier waar ons in ’n koffierest­aurant in die Kaap gesels. Danelene het verlede jaar uit Bethlehem hierheen verhuis en saam met haar lewensmaat van die afgelope paar jaar met ’n drukkery begin.

Haar pa (76), ’n afgetrede boer van Bethlehem, kon voor haar troue met Andreas nie verstaan waarom sy nie liewer met ’n boerseun trou nie, vertel sy. Haar ouers was teen haar huwelik gekant, maar Danelene was smoorverli­ef nadat sy Andreas einde 2004 op die plesierboo­t ontmoet het. Sy was 23; hy 37. Danelene het ’n graad van Kovsies in sportsielk­unde. Sy vertel met hul verlowing ’n paar maande later het Andreas beloof om haar ’n gim in Griekeland te help open. Maar ’n jaar voor hulle in November 2006 buite Bloemfonte­in getroud is, het hy met ’n ondernemin­g op sy tuisdorp begin wat motorwoonw­aens aan toeriste verhuur.

Sy moes hom daarmee help, ook ná hul eersteling se geboorte in Januarie 2008. “Ek moes hom in ’n camping cot in die kantoor grootmaak,” vertel Danelene. Van die beloofde gim het niks gekom nie.

‘Ek kon net nie langer in die hel leef nie’

As die jongste van sewe kinders wou sy graag ’n maatjie vir haar seun hê, maar Andreas was “tevrede met net een”.

Toe sy weer swanger raak, het die huwelik begin wankel. “Van toe af het ons nooit weer intiem verkeer nie,” vertel sy.

Ná die geboorte van hul tweede seun, in Februarie 2010, het hul huwelikspr­obleme vererger, vertel Danelene.

Sy sê sy was agt keer by die Suid-Afrikaanse ambassade “met ’n kind aan elke hand”. Sy wou seker maak sy sou die kinders saam met haar kon terugbring nadat sy van Andreas geskei het, maar sê hulle het haar aangeraai om regsadvies in Griekeland in te win.

In Oktober 2011 het sy en die kinders by haar ouers kom kuier. “Ek het besluit om met die kinders terug te gaan om hom persoonlik te sê ek wil skei. Dit was my tweede grootste fout. Die grootste was om met hom te trou.”

In Augustus 2012 het sy met haar ouers se geldelike hulp ’n Griekse prokureur gevra om haar skeisaak, waarmee sy reeds in SuidAfrika begin het, ook in ’n Griekse hof te laat bekragtig, maar dis vandag nog nie gedoen nie.

Daardie September het sy sonder haar kinders na Suid-Afrika teruggekee­r. “Ek het gebid dit sou net ’n paar maande duur voor hy moedeloos raak met die kinders en hulle na my stuur,” onthou Danelene.

“Ek kon net nie langer in die hel leef nie,” verduideli­k sy haar besluit. Daarby was haar pa, ’n hartlyer, toe ernstig siek. Danelene het ook gevoel sy sou met die skeisaak meer regte in Suid-Afrikaanse howe geniet as in Griekeland.

Andreas het geweier dat sy die kinders saamneem en hul paspoorte weggesteek, beweer Danelene. Sy het selfs by ’n Griekse hof aansoek gedoen om die kinders saam met haar te bring en ’n mediese verslag oor haar pa se toestand ingesluit. Die hof het in Andreas se guns beslis, want hy het aangevoer hy is bang sy sou hulle nooit terugbring nie, beweer sy.

Op 4 Januarie 2013 is hul huwelik in die hooggeregs­hof in Bloemfonte­in ontbind; Danelene het alleentoes­ig oor die kinders gekry.

Toe Andreas weier om die kinders te laat kom, het sy ’n klag by die polisie op Bethlehem ingedien.

Hulle het ’n verslag na Interpol gestuur oor sy weiering om die kinders – selfs vir ’n besoek – Suid-Afrika toe te stuur.

Sedertdien vlieg die e-posse heen en weer tussen haar prokureur hier en haar en Andreas se regsvertee­nwoordiger­s in Griekeland. Daarin smeek Danelene dat hy minstens toelaat dat die kinders by haar kom kuier.

Sy het ook al pleidooie aan verskeie organisasi­es, stigtings en staatsdepa­rtemente gerig, maar vergeefs.

Toe sy in 2016 by die kinders in Griekeland wou gaan kuier, het Andreas na bewering gewaarsku hy het klagte teen haar by die polisie ingedien; hulle sou haar summier in hegtenis neem, het hy beweer. Sy kon nog nie uitvind wat die “klagte” teen haar is nie.

Al Afrikaans wat haar seuns nog ken, is: “Lief vir jou, mamma. Lekker slaap.” Hul Grieks is vir haar ál moeiliker om te verstaan wanneer sy hulle een maal per week bel en Sondae skype. Andreas laat toe dat sy hulle kontak, maar Danelene kla die rekenaar daar oorkant bly party Sondae afgeskakel, wat hul geselsie onmoontlik maak.

Die ergste, sê sy, is om hulle net op die rekenaarsk­erm te sien grootword sonder dat sy hulle ’n drukkie kan gee.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa