Huisgenoot

Steve se jongste laat ma Janine blom

Klein Romy-Lee Hofmeyr bring die beste in ma Janine na vore – en haar oudste broers koer net so hard oor die woelwatert­jie

- Deur MARIZKA COETZER

SY IS die jongste lid van een van die bekendste gesinne in Afrikaanse vermaakkri­nge – en met haar groot blou oë, soenwanget­jies en ligbruin krulhaartj­ies is sy duidelik die ster. Al is klein Romy-Lee Hofmeyr haar pa se sesde spruit, is sy die een wat almal om haar pinkie draai – van haar sangerpa, Steve, tot haar veel ouer sibbes.

Maar op die ouderdom van nege maande is die oulike dogtertjie veral haar ma, Janine, se sieraad. Sy is immers die eersteling op wie Janine so lank gewag het. En moederskap laat Janine behoorlik blom. “Sy is die ongeloofli­kste ma en baie goed met die kleinding,” vertel ’n bron na aan die gesin ons.

Op die ouderdom van 38 lyk Janine gelukkiger as ooit – en Romy-Lee, haar en Steve (53) se eerste kind saam, is die rede waarom haar glimlag deesdae nooit wyk nie.

“Daar is eenvoudig nie woorde om die gevoel van hierdie klein lyfie in my arms te beskryf nie! Jou mamma het jou so lief, my mooiste klein poppie,” het Janine onlangs op haar Facebook-blad geskryf, waar sy gereeld foto’s deel van haar “pikkewyn”, soos sy Romy-Lee soms noem.

Janine het lank na ’n eie kind gesmag. Reeds voor haar en Steve se troudag in 2013 het sy vertel sy is erg broeis, iets wat sy in die vroeë jare van hul huwelik telkens herhaal het. Op 19 Junie verlede jaar, met die geboorte van hul dogtertjie, is haar droom om ma te word eindelik bewaarheid.

Mense na aan haar vertel sy geniet haar rol as ma terdeë en dat sy y ’n betrokke en liefdevoll­e ma vir haar kind is. “Wat ’n voorreg het daardie kind om Janine as ma te hê,” vertel iemand in die familie se binnekring.

Kyk ’n mens na Janine se Facebookbl­ad, is ma en dogter se dae vol en doen Janine moeite om haar baba aan nuwe ervarings bloot te stel. Janine het RomyLee al een van Steve se vertonings laat bywoon en haar onlangs op haar eerste vlug geneem. Sy neem haar saam om inkopies te doen, reël speelafspr­ake met

maatjies en neem haar vir sogenaamde “babaklasse”, waar babas aan verskillen­de interaktie­we speletjies deelneem en hul ontwikkeli­ng op dié manier gestimulee­r word.

Janine geniet dit om met haar dogtertjie pop te speel en deel gereeld foto’s waarop haar baba oulik aangetrek is – in die somer het sy selfs ’n foto gedeel van Romy-Lee in ’n pienk bikini en met ’n piepklein pienk sonbril. Op ’n ander foto was Romy-Lee aangetrek in haar eerste “klein swart nommertjie”, soos vroue hul swart staatmaker- aandrok dikwels noem. Op die swart rokkie met sy tutu staan juis geskryf: “My little black dress.”

Vir Romy-Lee se heel eerste babaklas, in Februarie, was sy weer reg vir die pret in ’n denim-oorbroekie en gestreepte pienk hempie. “Ons engelkind se eerste babaklassi­e. Alles was nog ’ n bietjie vreemd, maar sy’s mal oor haar nuwe maatjies,” het Janine by die foto op Facebook geskryf.

Kort daarna het Janine weer gedeel: “Nog so ’n paar foto’s waarmee ek wil spog met ons klein patroontji­e. Vandag ook haar tweede klassie gedoen . . . Sy het dit so geniet en sommer uitgepass voor ons kon ry. Sy word so gou groot, dit laat ’n mammahart sommer pyn. So lief en trots op jou, my pikkewyn.”

STEVE se twee oudste seuns, Armand (27) en Devon Hofmeyr (23), is ewe dol oor hul nuwe kleinsus.

Armand, wat as sanger in sy pa se voetspore volg, het al gesê hy is bang om babas vas te hou, want netnou laat hy hulle val. Maar met Romy-Lee het hy sommer gou oor daardie vrees gekom, vertel hy nou. En sy sussie is ’n regte woelwater, erken hy. “Sy is besig, sommer baie, baie besig,” sê hy.

Hy vertel hoe hy onlangs haar handjie vasgehou het om haar te help staan. “Die volgende oomblik het sy met my begin loop. Jislaaik, maar sy loop vinnig; dis iets vreesliks . . . Dis eintlik scary hoe vinnig sy is.”

Hy het juis die vorige aand by sy pa en Janine gaan kuier. “Romy-Lee hou my pa-hulle besig, hoor,” sê hy en lag. “Sy is oral in daai loopring van haar en keer die huis onderstebo.”

Wat is vir Armand die mooiste aan Romy-Lee? “Haar oë,” antwoord hy. “Sy het die mooiste oë, amper soos my pa s’n. Dis hemelblou. ’n Mens kan sien sy’s ’n Hofmeyr. Maar jy sien ook iets van Janine in haar.”

En Devon stem saam: “Romy-Lee lyk nes my pa.”

Soos Armand speel Devon graag met die jongste lid van die familie.

“Sy is ’n baie happy baba,” vertel Devon en sê hy het haar nog nie een keer hoor huil nie. Sy is spelerig en altyd vriendelik, spog haar ouboet.

Een van Devon se gunsteling­speletjies met haar is om haar diep in die oë te kyk. Dan trek hy snaakse gesigte vir haar en sy aap hom na voor sy diep uit haar magie lag. “Dis vreeslik oulik,” vertel hy.

Devon is trots daarop dat mense gereeld sê Romy-Lee lyk soos hy en sy jonger boetie Benjamin (14). “Op ons babafoto’s lyk ons ook baie na mekaar,” sê hy.

Steve se eersteling, Charissa Albertyn (30), werk en woon in Suid-Korea. Sy vertel telefonies vanuit die verte sy was onlangs vlugtig in Suid-Afrika, maar daar was ongelukkig nie kans om haar nuwe kleinsus te ontmoet nie. “Maar ek sien uit na die geleenthei­d.”

MA-WEES het Janine baie verander, vertel ’ n vertroueli­ng van die Hofmeyrs.

“Janine is baie rustiger. Sy is nou 100% ’n mamma en vir seker op haar heel gelukkigst­e. Sy het ook die wêreld se geduld met die kleinding en met Steve.”

Janine is nie ’ n vreeslik streng of gespanne ma nie, verklap hy. “Streng bestaan nie in Janine se boek nie. Maar sy is ’n hands-on mamma en geniet dit om heeldag met Romy-Lee te speel. Hulle doen alles saam.”

Vroeër vanjaar het Janine op Facebook vertel die koms van haar dogtertjie laat haar nog nader voel aan haar eie ma.

“En weer is dit my liefste moedertjie se verjaardag,” het sy geskryf. “Met ons Romy-Lee (wat na haar ouma genoem is) hier, het ek net nog meer waardering vir my ma! Vandag verstaan ek haar beter en kom ek agter ons deel dieselfde intensitei­t van liefde vir mense om ons, en veral ons kinders. Ek leer nog elke dag so baie by haar; dinge waarna ek streef en hopelik eendag sal regkry. “Ek is so dankbaar dat ek vir haar ’n

beautiful kleindogte­r kon gee, want dis asof sy ’n ander mens word wanneer sy vir Romy- Lee in haar arms vashou. Dankie, my liefste moeder.”

En wat is die kans dat die Hofmeyr-laatlam nog ’n kleinboet of -sussie sal kry?

Op hul vierde huwelikshe­rdenking vroeër vanjaar het Janine skalks op Facebook geskryf: “Op die volgende vier jaar, en vier daarna en daarna . . . en miskien nog ’n klein dwergie.”

 ??  ?? Janine Hofmeyr straal behoorlik, en klein Romy-Lee is die rede daarvoor.
Janine Hofmeyr straal behoorlik, en klein Romy-Lee is die rede daarvoor.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Janine is deesdae rustiger en koester elke oomblik saam met haar babadogter­tjie. Sy doen amper alles saam met Romy-Lee.
Janine is deesdae rustiger en koester elke oomblik saam met haar babadogter­tjie. Sy doen amper alles saam met Romy-Lee.
 ??  ?? Die Hofmeyregp­aar spog gereeld aanlyn met hul baba – en ons kan sien hoekom: Romy-Lee is pragtig.
Die Hofmeyregp­aar spog gereeld aanlyn met hul baba – en ons kan sien hoekom: Romy-Lee is pragtig.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa