Huisgenoot

DRIEDUBBEL­E VREUGDE!

Ernst en Minki straal van trots op hul derde dogtertjie, die soet klein Elsa – en haar ouer susters is net so mal oor haar

- Deur LARA ATSON Foto’s: CLAUDIA DE NOBREGA

HIER in die huis van een van Suid-Afrika se gewildste paartjies woon deesdae sommer drié dogtertjie­s. Toe ons by die voordeur instap, kom die vierjarige aangehol. Eenkant op die bank sit haar sussie van drie knus langs haar ouma Carien. En op ouma se bors lê die jongste – nog ’n poppie toegewikke­l in ’n pienk kombersie – vas aan die slaap.

Baba Elsa is nog net enkele dae oud, maar is reeds tuis tussen haar sussies, Katerien (4) en Elise (3), in die vrolike gewoel van Minki van der Westhuizen (34) en Ernst Joubert (37) se gesellige huis op Stellenbos­ch.

Dis net sewe dae ná haar derde baba se geboorte toe Huisgenoot eksklusief by Minki en haar nuweling kuier, maar Minki lyk klaar weer pragtig en stralend.

Soos altyd is dié TV-liefling kameragere­ed, selfs met net ’n vegie grimering. Om haar nek dra sy twee roosgoudha­ngertjies – een met die letters “K” en “E”, haar twee oudstes se voorletter­s, en ’n ander een met die letter “E”.

Nes Katerien en Elise, wat genoem is na hul oumas, Carien van der Westhuizen en Annelize Joubert, spog klein Elsa met ’n familienaa­m. “Sy’s na my ouma Elsa van der Westhuizen genoem. Ouma Elsa het vier seuns en is nog nooit vernoem nie,” vertel Minki.

Elsa (86) het al haar naamgenoot kom ontmoet. “Klein Elsa het in haar arms geslaap. Dit was net so dierbaar en spesiaal om te sien,” se Minki.

Oral waar die oudaanbied­er van Boer Soek ’n Vrou en haar babadogter deesdae gaan, kloek nuuskierig­es om hulle – of dit nou op winkeluits­tappies of by haar oudste dogters se skole is. “Almal wil weet: ‘Mag ons haar maar sien?’ Dan sê ek: ‘ Ja, julle mag kyk, want sy’s so mooi!’ ” gesels sy. “Jy dink aan die begin hoe sal jy plek maak vir nog ’n klein lyfie in jou hart? Dan kom hierdie mensie en jou hart is net weer so vol. My hart loop oor van liefde en warmte.”

TYDENS ons onderhoud ’n paar dae tevore is die ruim vierslaapk­amerhuis ’n rukkie lank tjoepstil, al verklap die pienk popspeelgo­ed en naellak op die sitkamervl­oer dis ook die tuiste van twee kleutermei­sies. “Dit is so stil, want Katerien en Elise is by

die skool,” verduideli­k Minki.

Manlief “Errie” – soos sy die oudrugbysp­eler noem – is landuit. Hy het vier dae ná Elsa se geboorte Engeland toe gevlieg vir die afskeidset­e van sy gewese spanmaat Schalk Brits by die Lon- - dense rugbyklub Saracens. Dié é skop nou vir goed sy rugbystewe­ls els uit, vertel Minki terwyl sy in hul oopplankom­buis werskaf en koekies es en koffie aandra.

Toe ’n piepgeluid­jie eindelik uit die babawiegie in Minki en Ernst se slaapkamer opklink, spring sy dadelik lik op. op “Daar’s hy; kom ek gaan haal haar!” sê sy en verdwyn vinnig die huis in.

Sy kom terug met Elsa snoesig in ’n kombersie in haar arms toegedraai. “Ag, mamma! Kyk net hoe oulik is sy,” koer die trotse ma. “Sy’t net ’n vlekkie op haar oog,” beduie sy na die baba se regteroogl­id. “Dit moet seker nog weggaan.”

Elsa gaap skielik hier in haar ma se arms op die rusbank. “Ag, dis baie lekker, mamma,” laat hoor Minki en die kleinding antwoord met babageluid­jies.

Nes met haar vorige twee swangerska­ppe was sy oortuig sy verwag ’n seuntjie. Ook Ernst het gedink dis dié keer ’n boetie vir sy dogters.

Minki gooi haar kop agteroor en lag uit haar maag. “Ons het op 16 weke uitgevind dis ’n dogtertjie. My man was ’n bietjie geskok!

“Dit het net so ’n uur geduur voor hy besef het hy sal nooit ’n seun hê nie,” sê sy dan vrolik en verduideli­k hul gesin is nou voltallig.

“Ons het altyd gesê ons wil drie kinders hê. Ons is net so dankbaar. Ons is ongeloofli­k geseën met drie gesonde, normale, perfekte kindertjie­s.”

Elsa het duidelik klaar diep in haar ouers se hart ingekruip.

Tydens die kleinding se eerste fotosessie ’n paar dae later is Ernst terug in die land en kan ook hy skaars uitgepraat raak oor sy derde dogtertjie. “Sy is ’n soet klein dingetjie. Anders as die ander twee hou sy van slaap en melk. Ons het nou die dag omtrent eers vir die eerste keer haar oë gesien, want sy slaap heeltyd.”

Gevra of hy nie spyt is die derde enetjie is toe nie ’n seun nie, lag Ernst. “’n Mens hoop mos maar daar sal iewers ’n seuntjie wees, maar dit is wonderlik om drie klein dogtertjie­s te hê. Ek sal moet fiks bly vir al die manne wat eendag hier gaan aanklop,” skerts hy.

Minki vertel haar man sê nou al hy sal baie kwaai met sy dogters se kêrels wees. “Maar hy mag nie! My pa was nooit kwaai met my kêrels nie,” voeg sy by.

“En Ernst is baie bekommerd oor die drie troues waarvoor hy sal moet betaal.”

Hul twee oudste spruite is in St. Albans net buite Londen gebore terwyl Ernst, ’n oud-Leeu, daar vir die rugbyklub Saracens uitgedraf het. Hy het ná ses en ’n half jaar en 161 wedstryde as hul agtsteman en onderkapte­in sy rugbystewe­ls weggepak. Hy is nou hoof van die Stellenbos­se Sportakade­mie se rugby-instituut.

Kort ná hul terugkeer na Suid-Afrika einde 2015 het Minki die aanbieder van die kykNET-werklikhei­dsreeks Boer Soek ’n Vrou geword.

Dit was ’n moeilike besluit om verlede jaar ná twee seisoene die reeks te verlaat, sê sy. “Die program was ongeloofli­k vir my.” Maar haar hart het gehunker na nog ’n “klein lyfie” in die huis, een wat hier in Suid-Afrika gebore sou word. Hier het sy immers ’n groot steunnetwe­rk.

Ernst se ouer susters, Hanli Brink en die sangeres Alta Joubert van Lollos-faam, is ook Stellenbos­sers en woon naby hulle. Minki se jonger broer, Ben, en hul ouers, Carien en Herman, woon ’n halfuur se ry van hier in Durbanvill­e in Kaapstad se noordelike voorstede. En ouma Annelize is ook naby, in die Strand. Almal was uit die veld geslaan toe die jongste toevoeging tot die familie haar opwagting 10 dae voor haar verwagte geboorteda­tum, 26 Maart, maak.

“Ek het so drieuur die oggend begin kraampyne kry,” vertel Minki oor die geboorte op Vrydag 16 Maart. “Ek het my ma gebel en gesê sy moet solank kom (om Katerien en Elise op te pas). Errie moes vroeg opstaan om Leeukop saam met spelers van die instituut uit te klim.

“Ek het geweet sy wekker sou afgaan en het hom laat slaap. Toe hy kwart oor vier opstaan, was ek al aan die skarrel en besig om my hospitaalt­assie te pak!”

Vyfuur is Ernst saam met haar hospitaal toe pleks van Leeukop se hange aandurf. “Tien oor sewe is Elsa gebore,” vertel Minki. Soos met hul oudste twee was dit ’n natuurlike geboorte.

Klein Elsa het 3,5 kg geweeg en was 51 cm lank. Trots vertel haar ma nou: “Amper twee liniale!”

MINKI het al die helfte van die10 kg verloor wat sy tydens haar derde swangerska­p aangesit het. “Dis regtig net goeie gene. Ek is ontsettend gelukkig,” vertel sy. Dan bieg sy tog: “Ek wil weer begin oefen. Ek was baie lui!”

Sy borsvoed nie en Ernst help met die bottelvoed­ings, veral oor naweke. In die week het die kinders ’n voltydse oppasser, Lisa Mpofo, wat inslaap.

Die twee oudstes slaap meestal snags deur, maar Elise kom nog soms snags by haar ouers inkruip.

Ernst is ’n raakvatpa. “Hy kan hare kam, maar nog nie vasmaak nie,” sê Minki. “Hy en Katerien en Elise swem lekker saam hier by die huis,” vertel sy en beduie na die swembad by hul agterstoep wat met ’n seil bedek is. “Hy speel swaaibal saam met hulle. Dis vir hom baie belangrik dat hulle ’n bal kan vang en skop,” vertel sy y laggend gg oor dié oudrugbysp­eler.

In hul sitkamer pryk ’n kitaar waarop Ernst af en toe tokkel. “Wanneer hy speel, kerm die girls, want dan moet hy hierdie liedjie en daardie liedjie speel en hy wil net speel wat hy wil,” vertel sy.

Elsa het nes haar sussies haar eie kamer, maar slaap nog in ’n wiegie langs haar ouerbed. Katerien en Elise verkies om in een kamer te slaap. “Ek het gehoop hulle sou na aan mekaar wees. Maar ek het nooit in my wildste drome kon dink hulle sou so lief, oulik en mal oor mekaar wees nie,” sê Minki oor die oudste twee. “Natuurlik baklei hulle soos sussies. Ek dink hulle is liewer vir mekaar as vir my. Hulle is absoluut mal oor mekaar.”

En hulle is klaar gek oor hul babasussie. “Katerien en Elise wou van die begin af ’n sussie hê,” vertel hul ma.

Toe die hele gesin vir ons fotosessie bymekaar is, streel Katerien dan ook liefdevol oor Elsa se swart babahaartj­ies.

Om haar aandag onder drie kleingoed te verdeel is nie kinderspel­etjies nie, erken Minki. “Ek maak ’n punt daarvan om ietsie alleen saam met elkeen te doen.” Sy en haar “#katerienli­ef ” – soos sy haar oudste spruit in die sosiale media noem – was onlangs op ’n uitstappie na die Universite­it Stellenbos­ch se botaniese tuin. Kort daarna was dit “#elisehartj­ie” se beurt om alleen saam met mamma winkels toe te gaan.

Katerien en Elise se klerekaste hang juis vol ontwerpers­klere. “In Engeland het hulle verskrikli­k baie hand-me-downs gekry. Ek het ’n Walliese vriendin gehad wat baie geld aan haar kinders se klere bestee het. Ek hou als vir Elsa.” Katerien en Elise is “verskrikli­ke girlie

girls”, sê Minki – lief vir rokkies en om hulle op te tof.

Maak hulle dalk reg om in hul ma se voetspore in die modelwêrel­d te volg?

“Hulle moet dit net nie op 11 of 12 vir my kom sê nie. Dis te jonk,” sê Minki, wat op haar dag vir modehandel­smerke soos Guess modelwerk gedoen het en wie se kurwes haar al die titel as die sexyste vrou in die land besorg het.

“Ek het eers op 16 begin en op 17 my eerste internasio­nale modelwerk gedoen,” vertel sy. “En my ma-hulle was baie streng oor skool klaarmaak.”

Elise geniet dit klaar om vir die kamera te poseer, anders as haar ousus. “Katerien het nie ’n saak nie! Ek moet altyd smeek: ‘Katerien, kom ons neem gou ’n foto, toe.’ Maar Elise wil net op foto’s wees.

“Gister terwyl ek en sy in die winkel was, wou die vroue wat daar werk ’n foto neem. Toe ons klaar is, sê Elise uit die waentjie: ‘Hulle wil nie vir my afneem nie,’ ” vertel Minki in ’n kamtige huilstemme­tjie en lag. “Ek sê toe: “My liefie, jy wás op die foto – op die agtergrond!’ ”

HET sy ooit gedink sy sou op 34 ’ n ma van drie wees? “Nooit! As jy die eerste aand toe ek en Ernst agt jaar gelede op ’n semi- blind date op Stellenbos­ch was vir my gesê het ek sou oor agt jaar terug hier wees met drie dogtertjie­s, van wie twee in Engeland gebore is, sou ek dit nooit in my wildste drome kon dink nie.”

Sy en haar “Errie” vier in Junie hul sesde huwelikshe­rdenking, maar op Instagram koer hulle nog gereeld soos jong verliefdes vir mekaar. Tog sê Minki hulle “sit vas” nes enige ander paartjie. “Jy moet stry en van mening verskil. Anders is dit mos nie normaal nie.”

Dan erken sy: “Voor Katerien se geboorte het ek gedink ek sou jaloers wees, want hier is nou nog ’n vrou wat wedywer vir my man se aandag. Maar dis vir my so lekker om te sien hulle is so mal oor hom en hoe sag, lief, warm en beskermend hy oor hulle is. Dit maak my hart net warm en my net nog liewer vir hom.”

Hul kinders het hulle net nader aan mekaar gebring. “Dis ontsettend harde werk, maar dis so lekker as julle mekaar kan ondersteun. Dis ook belangrik om nie jou man af te skeep nie.

“Ek maak seker die kinders is ’n sekere tyd in die bed sodat ons op die bank kan lê en TV kyk.” Bedags eet hulle iewers iets of drink vinnig koffie by Ernst se werk. “Of ek stuur ’n boodskappi­e om te sê ek is lief vir hom of ek dink aan hom.”

Sy wil haar kinders graag gee wat sy gehad het, sê Minki, wie se ouers in Desember hul 37ste huwelikshe­rdenking vier. “As die kinders kan sien mamma en pappa is lief vir mekaar, voel hulle veilig.”

SAL ons die bedrywige ma weer op TV te sien kry?

Sy geniet haar werk as veldaanbie­der vir die joernaalpr­ogram Kwêla steeds, vertel Minki. “Dis heerlik. Dis ’n dag se skiet. Ek doen dit baiekeer hier in die omliggende dele, wat wonderlik is.”

Maar Boer Soek ’n Vrou was ’n ander storie. Sy moes die land platry en was maklik twee weke per maand van die huis af weg.

Sy het terdeë besef hoe lank twee weke vir ’n kind moet wees toe Ernst vir minder as ’n week weg Engeland toe is. Katerien en Elise het baie na hom verlang en gedurig gesê: “Pappa moet nooit weer weggaan nie.”

Dit het haar hart gebreek, sê Minki. “My kindertjie­s is net te klein. Hulle is nou my prioriteit.”

Sy het nog nooit haar opvolger by Boer Soek ’n Vrou, die sangeres Leah, ontmoet nie, maar dink sy sal baie goed vaar as aanbieder. “Ek het al baie onderhoude van haar gesien en sy lyk spontaan. Sy laat my baie aan myself dink. Sy is net so warm en die tipiese girl next door, die een met wie mense kan identifise­er.”

Wat van ’n werklikhei­dsreeks oor die Jouberts soos dié oor Amerika se Kardashian-Jenner-kliek?

Nog nooit gesien nie! Sy wil liewer op ander maniere teruggee aan aanhangers.

“Ek word baie gevra om op vroue- of ma-en-dogter-oggende te praat. Hulle wil sien Minki het ook pigmentasi­e en sukkel ook om haar laaste swangerska­pskilo’s af te skud. Ek is oop en eerlik oor daai goed. Ek wil wys ons ervaar presies dieselfde stryd.”

Sy lyk dalk na ’n superma, maar soms raak alles ook vir haar te veel. “Ek het nou die dag ’n breakdown gehad in my skoonsus se arms en het nie geweet hoe ek drietjies gaan hanteer nie. Maar jy moet eenvoudig aangaan.”

Party dae hou sy nie van die vrou wat uit die spieël na haar kyk nie. “Ek weet nie of die pigmentasi­e ooit sal weggaan nie. ’n Mens het mos maar rekmerkies. En jy dink: Sal jou maag ooit weer so plat wees soos dit was?

“Ek het ook maar dae dat ek emosioneel en onseker van myself voel. Gelukkig het ek ’n man en kinders wat mal is oor my. Ek besef ek het soveel om voor dankbaar te wees. En kyk wat lê hier,” sê Minki en staar na klein Elsa wat snoesig in haar arms lê; “kyk net watter prys ek gekry het. So mooi . . .”

‘My kindertjie­s is net te klein. Hulle is nou my prioriteit’

 ??  ?? HOOFFOTO en LINKS ONDER: Ernst Joubert en Minki van der Westhuizen het nou drie dogters: Katerien (links), Elsa (in pa se arms) en Elise. LINKS ONDER: Minki sê hul gesin is nou voltooi.
HOOFFOTO en LINKS ONDER: Ernst Joubert en Minki van der Westhuizen het nou drie dogters: Katerien (links), Elsa (in pa se arms) en Elise. LINKS ONDER: Minki sê hul gesin is nou voltooi.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Klein Katerien en Elise wou van die begin af ’n sussie hê, vertel ma Minki, en is gek oor haar.
Klein Katerien en Elise wou van die begin af ’n sussie hê, vertel ma Minki, en is gek oor haar.
 ??  ?? Die skattige Elsa is na Minki se ouma Elsa van der Westhuizen genoem. Sy het haar opwagting op 16 Maart gemaak.
Die skattige Elsa is na Minki se ouma Elsa van der Westhuizen genoem. Sy het haar opwagting op 16 Maart gemaak.
 ??  ?? LINKS: Minki saam met haar oudste spruite, Elise en Katerien. Die gewese Boer Soek ’n Vrou-aanbieder het die program vaarwel toegeroep om meer tyd saam met haar kinders deur te bring. “Hulle is nou my prioriteit,” sê Minki. BO: Die sussies is baie geheg aan mekaar, vertel Minki. “Ek het nooit in my wildste drome voorspel hulle sou so lief, oulik en mal oor mekaar wees nie.”
LINKS: Minki saam met haar oudste spruite, Elise en Katerien. Die gewese Boer Soek ’n Vrou-aanbieder het die program vaarwel toegeroep om meer tyd saam met haar kinders deur te bring. “Hulle is nou my prioriteit,” sê Minki. BO: Die sussies is baie geheg aan mekaar, vertel Minki. “Ek het nooit in my wildste drome voorspel hulle sou so lief, oulik en mal oor mekaar wees nie.”
 ??  ?? LINKS en HEEL LINKS: Elsa is 10 dae voor haar verwagte datum gebore. Sy het dieselfde donker hare as kind gehad, vertel Minki, wat as tiener modelwerk begin doen het.
LINKS en HEEL LINKS: Elsa is 10 dae voor haar verwagte datum gebore. Sy het dieselfde donker hare as kind gehad, vertel Minki, wat as tiener modelwerk begin doen het.
 ??  ?? Ernst met sy kroos. Die oudrugbysp­eler is ’n raakvatpa, vertel Minki. Hy is mal oor sy dogters.
Ernst met sy kroos. Die oudrugbysp­eler is ’n raakvatpa, vertel Minki. Hy is mal oor sy dogters.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa