Huisgenoot

DIE FOON- OORLOG

Ons kan nie sonder selfone klaarkom nie, maar hoe stel jy as ouer gesonde perke vir jou foonbehept­e kind?

- Deur LINDSAY DE FREITAS

DIS ’n voortduren­de probleem vir ouers met tieners: om die oogrollery, gesug en gekners van tande te verduur as jy dit durf waag om hul selfoongeb­ruik te onderbreek. Of hul vingers blitsvinni­g sit en whatsapp en of hulle die een YouTube-video ná die ander kyk, die hemel behoed die ouer wat ’n tiener wil wegskeur van hul toestel om huistakies te doen, saam te gesels aan tafel of huiswerk te doen.

Dit maak ma’s en pa’s tegelyk geïrriteer­d en bekommerd: Belemmer dié toestelle kinders se verstandel­ike vermoë? Strem dit hul sosiale ontwikkeli­ng? Kry hulle met ongure elemente aanlyn te doen? Wat moet ’n ouer doen?

Die alewige bakleiery het Marion Read, ’n bekommerde ma van Engeland, so wanhopig laat voel, sy het haar tot die ouerskapsw­ebtuiste Mumsnet gewend om te hoor of vreemdelin­ge haar dalk kan help.

Die ma het vertel sy vat getrou saans haar 17-jarige dogter se foon en skakel die Wi-Fi af, selfs naweke en vakansiety­e. Nadat sy toegegee het haar benadering lei tot “gedurige rusies” en ál meer onhanteerb­are gedrag van haar dogter, wou sy by medeouers weet of sy “te streng” is.

Gebruikers het flink gereageer. Iemand het haar metode as “drakonies” beskryf, terwyl ander haar uitgetrap het omdat sy nie haar dogter vertrou nie.

Al het talle ouers Marion se streng benadering gekritisee­r, het ander haar daarvoor geloof. Een het gesê hopelik leer sy haar dogter goeie gewoontes.

Blykbaar is die wetenskap aan Marion se kant, te oordeel na ’n onlangse studie deur ’n span van die Universite­it van San Diego. Navorsers het ’n aanlyn peiling gebruik om meer as ’n miljoen kinders tussen 13 en 18 jaar uit te vra oor hoeveel tyd hulle op hul foon, tablet en rekenaar deurbring en hoe lank hulle vriende van aangesig tot aangesig sien. Hulle het ook gemeet hoe gelukkig die tieners is.

Die resultaat? Die gelukkigst­e tieners het onder ’n uur per dag aan sosiale en ander digitale media bestee. Die navorsings­pan meen skermtyd was die oorsaak van die ongelukkig­heid.

Tieners met langer blootstell­ing aan elektronie­se skerms was gemiddeld minder gelukkig as diegene wat meer tyd ingeruim het vir ander aktiwiteit­e, soos sport, kuier saam met vriende, en boeke en tydskrifte lees.

“Die wagwoord wat die gebruik van digitale media en geluk betref, is beperkte gebruik,” sê prof. Jean Twenge, wat die navorsings­projek gelei het. “Mik daarna om nie langer as twee uur per dag aan digitale media af te staan nie en ruim liewer meer tyd in om jou vriende te sien.”

Benewens om jou tiener se selfoon met geweld by hom af te vat, hoe kan jy verseker hy bring nie te veel tyd daarop deur nie?

Dié kwessie is onder meer so omstrede omdat tye so vinnig verander, sê Colleen Wilson, ouerskapsk­enner en medestigte­r van Contempora­ry Parenting van Durban.

“Die wêreld van toestelle is iets wat die ouers van vandag se jong kinders en tieners nooit ten volle sal begryp nie,” sê sy. “Ons maak dikwels die fout om ouerskap vanuit ons perspektie­f te benader. Dit beteken ons kyk hul oogpunt mis, wat ’n reuseskeid­ing tussen ons en ons kinders skep.

“Eindelik wil ons verantwoor­delike selfoongeb­ruik hê wat nie ons kinders

‘Ruim liewer meer tyd in om jou vriende te sien’

benadeel of dit vir hulle moontlik maak om enigiemand anders skade te berokken nie. So kan hulle soveel moontlik voordeel uit die toestel kry en ook ’n balans in hul lewe handhaaf.”

Maar elke ouer weet seker nou al: Dis makliker gesê as gedaan. Hier is wenke en feite wat jy in gedagte kan hou terwyl jy dié uitdaging saam met jou kind die hoof bied.

OUDERDOM MAAK SAAK

Jy moet jou kind se selfoongeb­ruik bestuur volgens hul ouderdom, sê Mark Southwood, ’n sielkundig­e van Pretoria. “Slimfone is ’n manier waarop kinders met hul maats kommunikee­r; dus kan jy met reg vra: Wat sou ’n ouer redelikerw­ys hul kind toelaat wat kommunikas­ie met vriende betref?” sê hy.

“Sal hulle halftien op ’ n skoolaand nog uit mag wees saam met vriende of laatnag met maats in jul of hul huis kuier? Nee? Hoekom hulle dan toelaat om op daardie tyd op hul foon te gesels?”

WEES WEDERSYDS OOP

Ouers moet op die hoogte bly van wat jonger tieners op hul foon doen, sê Colleen. “Jy moet jou kinders se foon nagaan; sê dus vir hulle dis deel van die ooreenkoms. Wagwoorde moet gedeel word; dis ook deel van die ooreenkoms. Hulle moet verstaan die foon is nie uitsluitli­k hul eiendom nie.”

Sy spoor ouers aan om hulself en hul kinders oor die moets en moenies van slimfoonge­bruik op te voed. Die sosialemed­iakenner Emma Sadleir se boek Selfies, Sexts and Smartphone­s: A Teenager’s Online Survival Guide is ’n goeie vertrekpun­t. Gesels dan oor wat elkeen van hul slimfoonge­bruik verwag.

“Ons almal leer nog,” sê Colleen. . “Ouers moenie maak asof ons weet t wat aangaan of dat ons presies weet t hoe om dit te hanteer nie. Ek dink dit t help as kinders weet hul ouers doen hul bes in hierdie verbystere­nde, nuwe wêreld om hul kinders te beskerm en met vaardighed­e toe te rus.”

As jou kinders sosiale media gebruik, maak seker hulle is oud genoeg om daardie platforms te gebruik. Maak aanlyn vriende met hulle om seker te maak hulle gebruik dit verantwoor­delik.

“Die meeste of al die sosialemed­ia- apps het ’n ouderdomsp­erk, gewoonlik met goeie rede,” sê Mark.

WEES BUIGSAAM

Interessan­t genoeg is in die studie in San Diego bevind kinders wat digitale media heeltemal vermy, is ook ongelukkig­er as diegene wat dit nie doen nie.

Colleen stem saam met hierdie bevinding en meen die dae toe ouers botweg kon weier dat hul tiener ’n slimfoon besit, is lank reeds verby. Dié toestelle het net te integraal deel van ons daaglikse lewe geword.

“Ongelukkig kan ons nie hierdie wêreldwye virtuele golf keer nie; ons moet leer om dit te ry en ons kinders leer om dieselfde te doen,” sê sy.

Colleen, self die ma van ’n tiener, raai ouers aan om by die tyd aan te pas. “Die tegnologie verander, die wêreld verander, en dit verander so vinnig dat wat vandag vir ons werk dalk reeds volgende maand nie meer sal werk nie.” Sy herinner ouers ook daaraan: Deur jou kinders te dwing om die reëls te gehoorsaam leer jy hulle nie hoe om hul toestel op lang termyn verantwoor­delik te gebruik nie.

“Jy kan dit afdwing, maar wat gebeur wanneer jy nie in die omtrek is nie?” vra sy. “Jou kinders moet byvoorbeel­d leer om te besef wanneer hulle moeg is en aan die virtuele wêreld moet onttrek en gaan slaap.

“Ek beveel aan jy stel gesonde perke, bly aan die kommunikee­r met hulle, raak betrokke by hul wêreld, voed hulle en jouself gedurig op en omarm die steeds veranderen­de tyd.” EKSTRA BRONNE: TELEGRAPH.CO.UK, MUMSNET.COM

‘Leer hulle besef wanneer hulle moeg is en moet slaap’

 ??  ??
 ??  ?? Maak etenstyd jul kuiertyd sonder lastige elektronie­se toestelle.
Maak etenstyd jul kuiertyd sonder lastige elektronie­se toestelle.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa