Huisgenoot

VERWERKING

-

Nadat die vrugte geoes is, is die volgende stap in die produksiep­roses die verwerking daarvan tot kakao, wat die grondslag van sjokolade vorm. Eers word die vrugte vyf tot ses dae lank in die son gelaat om te gis. Die suiker in die pulp waarin die pitte is, verander in alkohol en vloeistof wat wegdreinee­r. Dit verbeter die bone se geur. Die bone word daarna gedroog en in sakke verpak om na die fabriek vervoer te word. In die fabriek word die kakaobone gesorteer en skoongemaa­k. Die masjiene breek en verwyder die bone se doppe. Dan word die bone in kleiner stukke gebreek en by ’n temperatuu­r van 135 ºC gerooster. Dit laat die kakaostukk­ies verdonker en gee dit daardie tipiese sjokoladeg­eur. Die gebreekte kakaobone word gemaal tot ’n dik sjokoladek­leurige vloeistof wat as ’n “massa” bekendstaa­n. Die massa bevat meer as 50% kakaobotte­r en stol wanneer dit afkoel. Dit vorm die grondslag van alle sjokolade- en kakaoprodu­kte. Kakaopoeie­r word gemaak deur sowat die helfte van die kakaobotte­r te verwyder. Die oorblywend­e kakao word dan tot die fyn kakao verpoeier wat ons in warm drankies of vir kookdoelei­ndes gebruik. Die kakaobotte­r word gebruik om ’n groot verskeiden­heid sjokolade van te maak. Wanneer jy weer ’n sjokolades­tafie eet of warmsjokol­ade drink, sal jy weet waar daardie lekkerte vandaan kom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa