Huisgenoot

IN DIE KUIL VAN DIE GEVREESDE DRAAK

Hy is vandag ’n televisie-ikoon, maar in die 1950’s was sir David Attenborou­gh ’n jong, onbekende filmmaker met groot drome. In dié boeiende uittreksel uit sy memoires vertel hy van ’n vreesaanja­ende ekspedisie oor land en see om ’n komododraa­k te vang

- (Blaai om)

Die idee om in die natuur met ’n verteller te verfilm was ’n revolusion­êre konsep, maar tot my verbasing dink almal dit kan werk

DIE vrou by die department van inligting in Djakarta haal haar bril af en glimlag vir ons. “Hoekom wil julle hierdie permit hê?” vra sy.

“Ons is van Engeland,” verduideli­k ek. “En ons het Indonesië toe gekom om ’n film te maak. Ons wil graag deur Java, Bali, Borneo en eindelik die eiland Komodo reis en diere fotografee­r en versamel.” Die glimlag wat oor haar gesig versprei het toe sy die woord “film” hoor, begin vervaag toe sy “reis” hoor en verdwyn heeltemal toe ek die woorde “diere versamel” uiter.

“Ek dink nie dis moontlik nie,” sê sy. Daar is ’n pouse. “Maar,” voeg sy by en haar gesig helder weer op, “ek sal alles vir jou reël. Julle sal pleks daarvan na Borobudur gaan.” Sy wys na ’n plakkaat van die groot Boeddhisti­ese tempel van Sentraal-Java. “Dis baie mooi,” sê ek. “Maar ons het Indonesië toe gekom om films oor diere te maak, nie tempels nie.”

Die vrou tel die dokumente op wat sy pas vir ons gestempel het en skeur dit in die helfte deur. “Ons sal van voor af moet begin,” sê sy. “Kom oor ’n week terug.”

Dit was 60 jaar gelede, in die somer van 1957, toe ek en my kameraman en vriend, Charles Lagus, na Indonesië vertrek het op wat een van die moeilikste en uitdagends­te ekspedisie­s van my lewe sou wees.

Met die roekeloosh­eid van jeug – hy was toe 29; ek 31 – tref ons byna geen voorbereid­ings nie, maar in ons kop het ons duidelikhe­id oor ons sending: om soveel moontlik van Indonesië se natuurlewe te verfilm en, ons grootste uitdaging, om vir die eerste keer die grootste en gevaarliks­te reuseakked­is op aarde – die komododraa­k – op film vas te vang.

Daar is al eeue lank gerugte in omloop oor hierdie verwoede dierasie wat tot 3 m lank kan word en sy prooi met een swaai van sy gespierde stert kan doodmaak. Vissermann­e wat naby die afgeleë eiland Komodo gevaar het, het teruggekom met verhale oor ’ n reuse- en draakagtig­e dierasie met enorme kloue, vreesaanja­ende tande, ’n goed gepantserd­e lyf en ’n vurige geel tong.

’n Nederlands­e ekspedisie het in 1910 bevestig die stories is inderdaad waar. Daarna is op verkenning­stogte ontdek die dierasie is vleisetend en kom nêrens anders ter wêreld voor nie. Maar teen die tyd dat ek en Charles 50 jaar later daarheen sou vertrek, kon niemand dit al in sy natuurlike habitat verfilm nie.

Daarby wil ons, as ons kan, een van hierdie ongeloofli­ke reptiele vang en terugbring na Brittanje, ’n idee wat nou buitengewo­on klink. Dieretuine stuur nie meer diereversa­melaars om seldsame spesies te vang nie – en tereg so. Deesdae word feitlik alle diere in aanhouding spesiaal geteel. Destyds was dinge baie anders.

Die Tweede Wêreldoorl­og het tot die dood en vernietigi­ng van tienduisen­de diere wêreldwyd gelei, en elke dieretuin was daarna gretig om hul voorraad aan te vul en die grense van wetenskapl­ike ontdekking verder te verskuif.

Daarom nader ek toe die Londense Dieretuin en die BBC met ’n idee vir ’n nuwe soort natuurlewe­program. Pleks van dieretuind­iere in ’n televisiea­teljee in Londen te wys soos ons toe nog altyd gedoen het, stel ek voor: Waarom verfilm ons hulle nie in hul natuurlike omgewing nie, met ’n kenner byderhand wat met die kykers oor hulle praat? En dan kan ons van hierdie fassineren­de diere saambring Brittanje toe. Die idee om met ’n verteller in die natuur te verfilm was ’n revolusion­êre konsep, maar tot my verbasing dink almal dit kan werk. So word die BBC se Zoo Quest-reeks gebore.

NADAT ons oplaas die owerheid oorreed het om vir ons die nodige permitte te gee, verken ek en Charles die eerste paar dae van ons reis Java se woude aan die Indiese Oseaan in ’n geleende Jeep. Nadat ons ’n drie en ’n half meter lange luislang gevang het, sit ons af na Borneo, waar ons onder meer ’n beerwelpie en orangoetan­g versamel. Toe is dit tyd om ooswaarts koers te kies – om ’n draak te soek.

Maar om die klein eiland Komodo te bereik lyk nie na ’n probleem wat enigiemand op Java – sy groot buureiland – gereeld oplos nie.

“Wanneer vaar die volgende boot van hier af ?” vra ek die klerk by die seevaartka­ntoor.

“Volgende boot, twee maande,” antwoord hy. Dis nie juis ’n bemoedigen­de begin vir ons tog nie.

Die lugdiensbe­amptes is behulpsame­r. Hulle sê as ons noord na Macassar, op die eiland Sulawesi, vlieg, kan ons van daar na die dorpie Maumere op Flores, die eiland langs Komodo, gaan.

Dan moet ons net meer as 300 km na die ander punt van die eiland reis en op

die een of ander manier die 8 km breë seestraat na Komodo oorsteek.

Ons kom verskillen­de mense teë wat al van Maumere gehoor het, maar geeneen van hulle was al daar nie. Ons gesaghebbe­ndste informant is ’n Chinees met ’n verlangse familielid, That Sen, wat ’n winkel daar bestuur.

“Dan is alles afgespreek,” sê ek daardie aand vir Charles. “Dis maklik. Ons vlieg na Macassar, kry ’n verbinding­svlug na Maumere, ontmoet ons Chinese vriend se swaer, huur ’n vragmotor, ry 300 km na die ander punt van Flores, kry ’n kano en steek die seestraat van 8 km breed oor na Komodo. Al wat ons dan nog moet doen, is om ons komododraa­k te vang.”

Ons nuwe kennis, That Sen, glimlag breed, hou albei hande na ons toe uit en trek los met ’n stortvloed blitsvinni­ge Indonesies. Dit neem ons ’n ruk om met die woordeboek se hulp die situasie te snap wat hy beskryf .

Daar is net een voertuig in ’n werkende toestand in Maumere, vertel hy: ’n lorrie wat aan hom behoort en van lewensbela­ng is vir die eiland se ekonomie. Dit sou ondenkbaar wees om dit aan ons te leen. Die enigste ander roete na Komodo is oor die see.

Is daar dalk ’n klein motorvaart­uig in Maumere se hawe wat ons kan huur? ’n Klein visserspro­u?

“Miskien,” sê That Sen, spring in sy lorrie en ry weg.

Etlike ure verloop voor hy weer sy verskyning maak. Glimlaggen­d verduideli­k hy alles is reg. Die vissersvlo­ot is op die see uit, maar die geluk is aan ons kant, want een seilbootji­e is nog in die hawe en hy het die kaptein saamgebrin­g.

Die kaptein, in ’n swart sarong en met ’n swart pet, lyk aan die skelm kant. Hy laat That Sen die praatwerk doen en slaan sy oë meestal na die vloer neer. Sy prys is hemelhoog, soos ons geweet het dit sou wees. Hy weet ons is desperaat om by Komodo uit te kom. Hy lyk hoog in sy skik toe hy daar weg is en sê hy sal die volgende dag terug wees.

Die prou is piepklein. Net sewe en ’n half meter lank, met ’n enkelmas en ’n kajuit waarin jy net handevierv­oet kan inkruip. Die bemanning is twee seuns van sowat 14 jaar, Hassan en Hamid. Terwyl ons vir That Sen op die hawehoof tot siens wuif, hys die twee die seile, en met die kaptein by die e stuurstok, vertrek ons.

Dis ’ n mooi aand. Die e briesie is vars en die bootjie e beur ywerig deur die deinings. Charles besluit om m op die dek te slaap, terwyl l ek in die kajuit saam met t die bemanning slaap. Dis moeilik om te besluit wie se slaapplek die ergste is. Charles loop gevaar dat die seewater hom gaan natspat of dat ’n paal wat aan die mashoof swaai hom teen die kop kan tref. Aan die ander kant geniet hy die vars lug waarmee niemand in die kajuit met sy oorweldige­nde stank van verrottend­e vis kan spog nie. Maar ons is op pad.

Op die vierde dag van ons vaart vra ek die kaptein of ons Komodo die volgende dag sou bereik. “Miskien,” antwoord hy ontwykend.

Ek probeer die volgende oggend weer. “Vriend, hoeveel ure nog tot by Komodo?” “Weet nie,” sê hy. “Was jy al tevore op Komodo?” hou ek vol.

“Belum,” sê hy. Ek gaan slaan dit in die woordeboek na. Belum: nog nie. Dan tref dit my: Die kaptein het eintlik geen benul wat aangaan nie. Daarna neem ek en Charles die navigasie oor. Ons lê op die warm dek met kaarte voor ons en probeer die mosaïekagt­ige vorms daarop met die landmassas om ons vergelyk.

Eindelik bereik ons ’n gaping tussen twee eilande en werk uit dit is dalk die kanaal wat ons na Komodo sal lei.

TOE die eerste glinsterin­g van dagbreek oor die see versprei, strek ek my stywe ledemate uit en staan van die dek op waar ek onrustig geslaap het. Ons is nou feitlik seker die land aan die lykant van waar ons teen die wind geskuil het, is Komodo. Terwyl ek die grasrante deurkyk, verwag ek so half om die skubberige kop van ’n draak van agter ’n rots te sien uitloer.

’n Paar kaal kinders staan op die strand. Langs hulle is ’n bejaarde vrou besig om opgekrulde stukkies skulpvis in die son uit te droog.

“Mag die oggend vrede bring,” groet ek. “Waar is die leier se huis?”

Sy wys na ’n hut wat effens minder vervalle as die ander lyk. Toe ons daarheen stap, staan ’n ou man in die deuropenin­g vir ons en wag. Hy gee ons ’n breë, tandlose glimlag, skud blad en nooi ons binne.

Daar is baie reuseakked­isse, of landkrokod­ille soos hy hulle noem, op die eiland – soveel dat hulle soms in die gehuggie ronddwaal en op die vullishope kos soek, vertel hy. Niemand jag hulle nie. Hulle smaak nie so lekker soos wildevark nie en daarby is hulle baie gevaarlik.

Net ’n paar weke tevore het ’n plaaslike man afgekom op een wat roerloos in die gras lê. Die monster het hom met sy kragtige stert omgeslaan en sy bene verlam sodat hy nie kon vlug nie. Die dierasie het toe omgedraai en hom met sy kragtige kake verskeur. Die man het aan sy wonde beswyk.

Ons vra vir die leier wat die beste manier is om ’ n komododraa­k te lok sodat ons foto’s kan neem. Hulle het ’n baie sterk reuksin, sê hy, en sal oor groot afstande na verrottend­e vleis kom. Hy sal daardie aand twee bokke slag en die volgende dag sal sy seun, Haling, ons per boot neem na ’n plek waar daar baie drake is.

Die son het reeds oor die bruin berge opgekom toe ons die volgende oggend met al ons toerusting en die bokkarkass­e in ’n vleuelkano vertrek. Ons bereik eindelik die droë, klipperige bedding van ’n stroom onder ’n hoë oewer. “Hier,” sê Haling, “dis waar die akkedisse is.”

Die bokke se karkasse begin reeds in die hitte ontbind en is opgeblaas en stokstyf. Ons los hulle in ’n oop ruimte

wat ons ’n goeie uitsig oor die reuseakked­isse sal bied en kruip agter ’n skerm palmblare weg. Die wagtyd begin. Kort voor lank begin dit reën; die druppels sif saggies op die blare bo ons neer. Haling skud sy kop.

“Dis nie goed nie,” sê hy. “Draak hou nie van reën nie. Hy bly in sy kamer.” Toe ons hemde ál natter word en die reënwater teen my rug afdrup, begin ek voel die drake is verstandig­er as ons.

Die volgende oggend is wolkloos. Ons land daar aan en loop so vinnig as wat ons kan deur die bos. Ek is gretig om terug te kom by die lokval wat ons gestel het – dalk het ’n draak in die nag daar ingeloop.

Ongelukkig het dit nie gebeur nie, maar ons kry vars draakspore in die modder.

Nadat ons meer as ’n halfuur in doodse stilte agter ons palmskerm gesit het, is daar ’n geritsel agter ons. Ek draai om, en daar – minder as 4 m van my – hurk ’n draak. Hy is reusagtig. Van die punt van sy smal kop tot die punt van sy reusestert skat ek hy is sowat 3 m lank. Hy is so naby dat ek elke skub op sy grys-swart vel kan uitmaak.

Hy staan hoog op sy vier geboë pote, sy kop regop en dreigend. Sy wrede bek krul opwaarts in ’n strak, sardoniese grynslag, en tussen sy halfgeslot­e kake glip ’n geelpienk gesplete tong in en uit.

Tussen ons en hom is niks behalwe ’n klompie jong boompies nie. Ons sit na die monster en staar. Hy staar terug.

Toe gee hy ’n swaar sug en laat stadig sy bene ontspan. Hy sprei hulle uit sodat sy groot lyf grond toe sak. Hy lyk nie in die minste gepla met ons nie en hou ons gebiedend met sy swart oë dop sonder om hulle te knip. Dis asof hy besef hy’s die magtigste dierasie op Komodo, en as koning van sy eiland vrees hy geen ander skepsel nie.

Toe hoor ek ’n geluid uit die rivierbedd­ing. Ek kyk weer om en sien ’n jong draak wat op die sand na ons aangewagge­l kom. Hy is minder as ’n meter lank en het baie helderder merke op sy lyf as dié van die monster naby ons.

Charles pluk aan my mou. Nog ’n reuseakked­is is op pad na die lokaas. Ons word deur hierdie wonderlike wesens omring. Al drie reptiele smul nou aan die bokkarkass­e voor ons. Intussen verfilm Charles hulle koorsagtig.

Dis ongeloofli­k. Ná al die probleme wat ons die hoof moes bied, het ons eindelik in ons doelwit geslaag om ’n komododraa­k op film vas te lê – die eerste span wat dit regkry. Al wat ons nog moet doen, is om een te vang.

Die eerste draak beweeg stadig in die rigting van ons lokval. Hy ruik die aas daar binne, maar verslap eers sy pas om ondersoek in te stel. Hy ruk die palmblare wat ons oor die vanghok gedrapeer het eenkant toe en lê die tralies bloot.

Toe dit hom keer om by die vleis uit te kom, beweeg hy na die ander punt, waar die deur is. Met senutergen­de versigtigh­eid kyk hy na binne. Hy gee drie treë vorentoe en vir ’n ewigheid bly hy roerloos staan. Eindelik gaan hy dieper in en verdwyn heeltemal uit ons gesigsveld. Dis stil, en toe skielik klink ’n harde klikgeluid op. Die snellertou skiet los en die hek plof neer en begrawe sy skerpgemaa­kte pale diep in die sand.

Verheug hardloop ons vorentoe. Die draak loer uit die hoogte na ons, en sy gesplete tong flikker tussen die stawe deur. Ons kan skaars glo ons het eindelik die doel van ons vier maande lange reis bereik. Ons sit op die sand en bekyk ons prys en glimlag asemloos vir mekaar.

Met ons kosbare vrag vaar ons na die groot eiland Sumbawa, net oorkant die seestraat van Komodo. Van daar wil ons met die draak na Java terugvlieg en dan met al die diere wat ons op ons reis gevang het na Londen.

Maar ons het nie rekening gehou met die burokratie­se stryd om al die diere uit Indonesië te neem nie. Vier frustreren­de dae slaap ons op die vloer by die lughawe terwyl ons op ’n vliegtuig wag. En toe ons eindelik ná die vlug van 800 km in Java aankom, raak ons dadelik in ’n reeks onderhande­lings gewikkel wat partykeer dreig om nog ingewikkel­der te lyk as om ’n draak te vang.

Op die ou end kry ons die verpletter­ende nuus dat ons nie die draak mag uitvoer nie. Die ander diere mag wel saam met ons Londen toe gaan. Maar nie hy nie. Dis ’n groot slag ná alles wat ons deurgemaak het. Maar op ’n manier is ek nie jammer dat ons die draak moet agterlaat nie. Hy sou, ek is seker daarvan, gelukkig en gesond in die groot verhitte kampe van die Londense Dieretuin se reptielhui­s gewees het. Maar hy sou nooit vir enigiemand anders lyk soos hy daardie dag op Komodo vir ons gelyk het nie – majestueus en manjifiek in sy eie woud.

Ter erkenning van sy baanbreker­swerk en ter viering van sy 90ste verjaardag, is die Londense Dieretuin se komododraa­kkamp verlede jaar na sir David Attenborou­gh genoem. Die dieretuin het een inwonende komododraa­k, die negejarige Ganas.

 ??  ??
 ??  ?? Perchil ium reptatem ab ipiendae num 12324et, temperchil iusae eatumet untisciis magnam eatis BO en ONDER: In sy nuwe memoires vertel sir David Attenborou­gh van een van sy moeilikste en gevaarliks­te ekspedisie­s: sy poging om ’n komododraa­k (LINKS) te...
Perchil ium reptatem ab ipiendae num 12324et, temperchil iusae eatumet untisciis magnam eatis BO en ONDER: In sy nuwe memoires vertel sir David Attenborou­gh van een van sy moeilikste en gevaarliks­te ekspedisie­s: sy poging om ’n komododraa­k (LINKS) te...
 ??  ?? BO: David aan boord van die prou in Indonesië, op pad om na die komododraa­k te soek. LINKS BO: Met sy unieke aanbieding het hy in die hart van kykers ingekruip.
BO: David aan boord van die prou in Indonesië, op pad om na die komododraa­k te soek. LINKS BO: Met sy unieke aanbieding het hy in die hart van kykers ingekruip.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa