Huisgenoot

MY NUWE LEWE VOL LIEFDE & GELUK

Verby is haar dae van uitbrandin­g, ernstige siektes en sepierolle; Jo da Silva floreer in die Kaap – en daar’s twee liefdes in haar lewe . . .

- Deur COLIN HENDRICKS

WEG is Gita, voorheen die mees gehate TV-feeks in die land. Die vrou wat in haar plek verskyn, is stylvol, saggeaard en sjarmant – en die gelukkigst­e wat sy al ooit was. Toe die aktrise Jo da Silva die liggies van die Goudstad groet en haar rol as skurk in 7de Laan laat vaar, het sy nie geweet watter soort lewe vir haar in die Moederstad sou wag nie.

Maar vandag, twee jaar later, is Jo weer op stryk aan die voet van Tafelberg en blom sy behoorlik oor haar nuwe lewe ná die Laan.

Sy is terug in die teater, haar eerste liefde, en dis boonop nie al liefde in haar lewe nie . . .

Toe sy twee jaar gelede, in Maart 2016, laas met Huis genoot gesels het, het sy gesê: “Ek is ’n onafhankli­ke vrou en het nie ’ n ridder nodig nie. As die liefde gebeur, sal dit gebeur.”

En dit het, want Jo is deesdae in ’n gelukkige verhouding.

“Ja, daar is iemand,” is al wat sy geheimsinn­ig verklap.

Toe sy die rol van Gita sewe jaar lank in die Laan vertolk het, was Jo bekend vir haar sjiek donkerkopk­apsels. Maar vandag spog sy met lang, donker hare wat sag oor haar skouers hang.

Ons ontmoet mekaar op die trap van die Theatre on the Bay-teater in Kampsbaai in Kaapstad, waar sy nou in die verhoogpro­duksie Fatal Attraction te sien is.

In die gelyknamig­e 1987rolpre­nt waarop die teaterprod­uksie gegrond is, was Michael Douglas te sien as ’n getroude man met huwelikspr­obleme. Toe hy sy vrou verneuk, begin die skelmpie (gespeel deur Glenn Close) hom en sy gesin bekruip . . .

In die verhoogpro­duksie vertolk Jo die rol van die getroude man se skoonma, Joan. Haar skoonseun (gespeel deur Ashley Dowds) se buite-egtelike verhouding het grusame gevolge vir haar en haar dogter, Beth (gespeel deur Jenny Stead).

Die produksie sal ook later vandeesmaa­nd te sien wees in die Montecasin­o-teater in Johannesbu­rg.

Dit is vanjaar die eerste keer in byna ’n dekade dat Jo weer verhoogwer­k doen. Voor haar spel in Fatal Attraction was sy ook in Februarie te sien in die komiese toneelstuk Present Laughter, waarin sy sommer twee rolle, dié van ’n eksentriek­e huishulp en ’n aristokraa­t, vertolk het.

“Ek is mal oor teaterwerk,” vertel Jo. “Die gehoor sien jou as ’n kunstenaar wat verskillen­de karakters uitbeeld en hulle aanvaar dit. Maar sepiegehor­e het my net aanvaar as Gita.”

En tog, toe sy die eerste paar aande in Present Laughter optree, het sy gevoel dat sy nie “teaterreg” is nie. Sy was nie meer gewoond aan die regstreeks­e kontak met die gehoor nie; daar was nie ’n “tweede kans” soos voor die televisiek­ameras nie.

“Ek was te lank weg van die teater af. Nou voel ek weer teaterreg,” sê sy. “Jy repeteer agt uur lank en gaan tree dan op voor ’ n gehoor wat met hul swaar-

verdiende geld betaal sodat jy hulle vermaak.

“Dit is anders as om op die kassie te wees en elke aand in mense se huise te wees, soms net op die agtergrond.”

Toe sy nog in 7de Laan te sien was, het kykers haar gereeld voorgekeer en “Gita” gekonfront­eer. Sy is dikwels sleggesê en selfs “Satan se soort” genoem.

“Ek word steeds op straat herken as Gita, maar die interaksie is nie meer so hatig nie. Daar is nou liefde van aanhangers wat vir my sê hulle mis my,” vertel sy.

Tog hunker sy nooit terug nie. “Dit was ’n ongeloofli­ke ervaring, maar dit is nou in die verlede. Ek was reg vir nuwe dinge.

DIE sorgelose nuwe Jo sien opnuut kans vir die lewe nadat sy in 2015 vier keer in die hospitaal was weens ’n verswakte immuunstel­sel, longontste­king en ’n geknoopte dunderm. Sy was uitgebrand van onder meer werkdruk en vertel nou: “Die dood het my telkemale in die gesig gestaar.”

Destyds het Jo vertel die “eintlike siekte” wat haar platgetrek het, was die “supervrou-virus”: die feit dat sy eenvoudig alles probeer doen en aan almal se behoeftes probeer voldoen het en nie ook na haar eie gesondheid omgesien het nie.

Deesdae pas sy haarself beter op – haar trek na die Kaap was juis ’n manier om “oor te begin” ná haar jare by 7de Laan en haar gesondheid­skrisis. “Ek wou ’n nuwe lewe hier skep,” vertel sy.

“Ek het ’n besluit geneem om in ’n gesonde ruimte te leef, fisiek en geestelik. Ek moes ’n veranderin­g maak om weer die kunste te begin geniet. Ek wou weer groei as kunstenaar. Ek werk vir my siel, en dit is hoekom ek na die teaterwêre­ld teruggekee­r het.”

Oor haar besluit om dit in die Kaap te kom doen, vertel sy geamuseerd: “Ek het die een plek wat ek altyd gesê het ek nooit sal verlaat nie, verlaat vir die een plek waar ek altyd gesê het ek nooit sal woon nie.”

Dis vir haar spesiaal om nou naby te wees aan haar enigste kind, Caitlin (20), haar dogter uit haar destydse huwelik met die Egoli-ster Eckard Rabe.

Caitlin studeer mariene biologie en is in haar derde jaar aan die Universite­it van Kaapstad. Ma en dogter woon saam in die suidelike voorstede van Kaapstad. “Ek sien haar nou elke dag. Dis fantasties,” vertel Jo.

Caitlin is eenvoudig “fabulous”, sê Jo. “Sy is my beste vriendin en grootste ondersteun­er en het my geleer van geduld en onbaatsugt­igheid.”

Dit was ook haar dogter wat haar anders help dink het oor die gesondheid­suitdaging­s wat sy oorkom het.

Jo het 20 jaar gelede skildklier­kanker oorwin, en toe sy in 2015 weer by die dood omdraai, het sy besluit om te begin leef soos sy wil.

“Ek het ’n litteken weens al die operasies, maar Caitlin sê ek moet dit beskou as ’n trofee. Ek het daardie siektes wat my wou doodmaak, oorwin. Danksy dié insig het ek anders na die wond begin kyk. Ek is nie meer skaam daaroor nie. Ek het gewen.”

Wanneer sy nou terugkyk op haar lewe, vertel sy, besef sy die gesondheid­suitdaging­s wat sy oorkom het, het haar ’n sterker mens gemaak.

Een van die dinge wat sy geleer het, is om hulp te vra as dit nodig is. “Ek voel nie meer om te sê ‘Ek sukkel; help my’ is ’n teken van swakheid nie; dit is ’n teken van dapperheid.” Die aktrise vertel dit het ook jare gekos om te leer mense se menings oor haar is nie ’n weerspieël­ing van haar nie, maar eerder van dié wat oor haar praat. “Ek het deur die jare op 7de Laan baie reaksies gekry en dit was moeilik om dit nie persoonlik op te neem nie. Maar ek het geleer dat ek verantwoor­delik is vir my eie geluk.” En sal sy ooit weer in ’n sepie gesig wys? Nee! “Ek sal dit nie weer aan myself of my familie doen nie,” sê sy dadelik. Tog sal sy nie nee sê vir ’n lekker rol in ’n TV-reeks nie. Maar dit sal die regte rol moet wees, want deesdae skeep Jo haar eie behoeftes en voorkeure nie meer af nie. “Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd is ek gelukkig en gesond. Dit gaan nou so goed in my lewe.”

 ??  ?? Ná twee jaar van die kassie af vermaak Jo da Silva weer gehore, dié keer op die verhoog.
Ná twee jaar van die kassie af vermaak Jo da Silva weer gehore, dié keer op die verhoog.
 ??  ??
 ??  ?? Joo J iis deesdae gelukkig gel en gesond ges en het liefdeief in haar lewe. ew
Joo J iis deesdae gelukkig gel en gesond ges en het liefdeief in haar lewe. ew
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? BO: BO Jo het sewe jaar lank die gehate Gita in 7de Laan La gespeel. LINKS BO: Jo in ’n toneel saam me met Theodore Jantjies. LINKS: Sy is saam met Je Jenny Stead in die riller Fatal Attraction te sien.
BO: BO Jo het sewe jaar lank die gehate Gita in 7de Laan La gespeel. LINKS BO: Jo in ’n toneel saam me met Theodore Jantjies. LINKS: Sy is saam met Je Jenny Stead in die riller Fatal Attraction te sien.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa