Huisgenoot

PRINSES VAN PLESIER – SONDER ’N PALEIS

Terwyl prins Harry en Meghan se troue om die draai is, lei sy eks Chelsy Davy ’n vol en bedrywige lewe

- Saamgestel deur COLIN HENDRICKS BRONNE: EONLINE.COM, INSTAGRAM.COM, INDEPENDEN­T. IE, DAILYSTAR.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, EXPRESS.CO.UK, VANITYFAIR.COM, HELLOMAGAZ­INE.COM

JA ARE El lank kh het d dit gelyk lk of f sy die trouvrou van een van die hubaarste prinse op aarde sou word. Maar namate hul verhouding gevorder het, het dit deurgeskem­er sy het nie veel erg aan die koninklike lewe nie. Die blondekop Chelsy Davy was sewe jaar lank, van 2004 tot 2010, die vrou in prins Harry se lewe. Dan was hulle aan, dan weer af – dikwels smoorverli­ef, ander kere ’n ruk lank uitmekaar.

Maar die sprokie het toe nie uitgeloop op ’n gelukkige einde met die tweetjies wat in ’n pragpaleis nesskop nie. Chelsy se eks staan nou op trou met die donkerkop Meghan Markle wat op 19 Mei die een word wat die ring van ’ n Britse troonopvol­ger aan haar vinger steek.

Tog hoor Chelsy steeds dikwels van aanhangers dat sy “die eintlike prinses” en “Harry se vrou” moet wees. Maar sit sy iewers in sak en as? Watwou!

As jy so kyk na haar reise oor die wêreld heen en die sukses van haar juweliersw­arereeks, is Chelsy allesbehal­we besig om haar te verknies oor die komende koninklike troue.

Die skatryk Zimbabwies­e boorling is al beskryf as die rabbedoe wat nooit te vinde was vir die protokol en voorskrift­e van ’n verhouding met ’n Britse bloubloedp­rins nie. Hoewel Chelsy en die rooikoppri­ns op pologeleen­thede en in Londense kuierplekk­e nooit skaam was om mekaar soentjies en drukkies te gee nie, was sy nie ingenome met die stywe lewe van die Britse koninklike­s nie. ’n Lewe van streng reëls oor hoe om te sit, te waai en aan te trek het vir haar effens onaantrekl­ik geklink.

Tog het die voormalige prokureur sewe jaar lank vasgebyt te midde van flitsende paparazzi-kamaralens­e, die genadelose Britse poniepers en die verwagting­s van die koninklike familie, wat glo nie juis dol oor haar was nie. Sy en Harry is oplaas in 2010 uitmekaar, al is sy voorheen as “die een” bestempel.

Chelsy is nou 32 en dit lyk of sy enkellopen­d is, maar sy het al laat val sy glo steeds in ware liefde. In 2016 het sy aan die Britse media gesê die huwelik is ’n “pragtige ding”, maar sy wil haar “eie mens wees”. In 2014 het sy baie na aan trou met ’n ander man gekom, het Vanity Fair destyds berig. Sy sou glo toe afhaak met Charles Goode (nou 32), ’n Britse juwelier met kliënte soos die Beckhams, Kate Winslet en Kate Moss. “Chelsy en Charles is baie ernstig en ons verwag binnekort ’n troue,” het ’n bron na aan die paartjie toe gesê.

Maar ook daardie sprokie het gesneuwel en Chelsy skryf Charles se naam nou ná die van Harry op haar lysie van ekse.

TERWYL Meghan (36), Harry se verloofde, haar beroep as aktrise laat vaar het om in te pas by die 33-jarige prins se lewe, is Chelsy hard besig om vir haar ’n loopbaan as juwelierso­ntwerper uit te kerf. Dié loopbaan spruit uit haar liefde vir “die vasteland waar sy gebore is”, lui dit op die webtuiste van haar juweliersw­arereeks, AYA.

Die skoonheid van Afrika en sy mense is glo die inspirasie vir haar ontwerpe en sy probeer terugploeg in die behoeftige gemeenskap­pe waar edelstene vir haar reeks ontgin word. Sy besit selfs haar eie edelsteenm­yn in Zambië.

Die mooi blondekop reis deesdae nie net Afrika plat op soek na edelstene nie; sy rits ook die wêreld vol vir plesier. Van Peru tot Kalifornië tot Kaapstad, waar sy terwyl sy nog met Harry uitgegaan het in 2006 ’n handelsgra­ad aan die Universite­it van Kaapstad behaal het.

In Maart verlede jaar het sy Leeukop

saam met haar vriendinne Caroline Rupert en die modeontwer­per Alice Heusser gaan klim en ’n foto van hulle op haar Instragram-profiel gelaai. Caroline is een van Chelsy se talle skatryk vriende. Sy is die dogter van die sakereus Johann Rupert, voorsitter van die beleggings­maatskappy Remgro.

Chelsy voel tuis in hierdie kringe – sy kom self uit ’n skatryk familie. Haar pa, Charles, is ’n miljoenêr-wildplaase­ienaar. Haar ma, Beverley, was ’n model en het in 1973 die Mej. Rhodesië-kroon gedra.

Haar ouers woon nog in Zimbabwe en Chelsea wys gereeld in die sosiale media haar liefde vir haar geboortela­nd. “Home sweet home,” skryf sy by ’n video van die Victoria-waterval, waar sy gaan rekspring het, ook in Maart verlede jaar.

In Mei verlede jaar was die blondine weer met vakansie in die Kaap, waar sy destyds vir Harry ontmoet het. In Junie was sy weer in Londen, waar sy ook ’n huis het. En in Julie het sy saam met haar broer, Shaun, in Central Park in New York gekuier.

Dit lyk juis of sy baie familievas is, want sy deel graag foto’s van haar broer en niggies.

Later in Julie was dit weer partytjiet­yd met son, see en goeie vriende op die Griekse eiland Mikonos.

Haar laaste Instagram-inskrywing voor die paleis se aankondigi­ng van Meghan en Harry se verlowing op 27 November verlede jaar was op 23 November. Sy het dié dag uit Londen liefde en gelukwense gestuur aan haar geboortela­nd, wat dit eindelik reggekry het om Robert Mugabe se 30 jaar lange presidents­kap te beëindig.

Nadat die nuus van haar eks se verlowing bekend geword het, was sy net ’n rukkie stil voor sy weer foto’s gelaai het van haar lewe wat aangaan met ’n AYA-bekendstel­lingsgelee­ntheid in Texas. En op 28 Desember 2017 was daar ’n foto van haar op ’n boot naby Kaapstad waar sy die koms van die nuwe jaar vier.

VANJAAR duur die partytjie voort. In Januarie was Chelsy by die jaarlikse L’Ormarins Queen’s Plate, een van die voorste Kaapse perdewedre­nne, by Kenilworth. Dit maak egter nie saak watter pragtige kiekies sy in die sosiale media laai en hoe bedrywig en vol haar lewe lyk nie, by byna elke foto herinner mense haar daaraan dat sy “die eintlike prinses” moes gewees het – al is dit nou al jare nadat sy en Harry uitgemaak het.

By een foto van haar by die Queen’s Plate lewer ’n Instagram-gebruiker dié kommentaar: “Jy is die een met wie Harry moes getrou het.”

By ’n ander foto skryf nog iemand: “Jy was amper ’n prinses.”

Maar nie almal voel dieselfde nie. Iemand anders laat hoor in die kommentaar­afdeling Chelsy het nou ’n “baie beter lewe”.

Chelsy het inderdaad die gedurige media-aandag tydens haar verhouding met die prins gehaat. Nadat hul paadjies geskei het, het sy aan die koerant The Times in Engeland gesê die mediabelan­gstelling was “mal, skrikwekke­nd en ongemaklik”.

“Dit was vir my moeilik. Ek kon dit nie hanteer nie. Ek het probeer om ’n normale kind te wees. Dit was aaklig,” het sy aan die koerant gesê.

Toe Huisgenoot haar jare gelede, in 2013, by die einste Queen’s Plate raakloop, het sy haar afkeer van die kollig duidelik laat blyk en selfs ferm volgehou: “Ek is nie Chelsy nie.”

Of sy nou haar rol as die prins se meisie soms verpes het of nie, sy het diep in die hart van sy vriende en familie ingekruip. Selfs nadat sy en Harry reeds uitgemaak het, is sy in 2011 genooi na William en Kate se troue. Nou is daar gerugte dat sy ook een van die gaste by Harry en Meghan se troue in die St. George-kapel by Windsor-kasteel gaan wees. Harry se eks Cressida Bonas, met wie hy ná Chelsy uitgegaan het, is glo ook op die gastelys.

Maar Chelsy gaan ten minste nie eensaam of uit voel by dié spoggeleen­theid nie. Sy is immers goeie vriende met Harry se niggie prinses Eugenie. Die prinses het selfs in 2016 Chelsy se AYA-bekendstel­ling by die luukse modeboetie­k Baar & Bass in Chelsea, Londen, bygewoon en was nie skaam om die juwelierso­ntwerper ’n lang drukkie te gee nie.

Chelsy het ook verlede jaar met Harry se tannie Sarah Ferguson by ’n glansgelee­ntheid gekuier.

Daar is duidelik geen kwade gevoelens tussen Harry en Chelsy nie. Nadat hulle destyds uitgemaak het, het Chelsy gesê: “Ek dink ons sal altyd goeie vriende wees.”

Maar ons wonder tog hoe dit voel om daagliks aanlyn herinner te word aan die prinsessta­tus wat jy kon gehad het.

En wat deur jou gedagtes maal as jy die prins wat jou destyds die liefde van sy lewe genoem het, sien koer oor ’n ander skoonheid . . .

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Die lewe ná prins Harry is ’n plesier vir Chelsy Davy. BO: Sy geniet (1) vakansies in Venesië, (2) seiljagses­sies op Mauritius, (3) fietsry in Parys, (4) uitstappie­s in Zimbabwe en (5) ’n staptog op Leeukop, Kaapstad, saam met haar vriendinne...
HOOFFOTO: Die lewe ná prins Harry is ’n plesier vir Chelsy Davy. BO: Sy geniet (1) vakansies in Venesië, (2) seiljagses­sies op Mauritius, (3) fietsry in Parys, (4) uitstappie­s in Zimbabwe en (5) ’n staptog op Leeukop, Kaapstad, saam met haar vriendinne...
 ??  ?? Harry en Chelsy het lank ’n aan-af-verhouding gehad.
Harry en Chelsy het lank ’n aan-af-verhouding gehad.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa