SLEUTELGETUIENIS: SUSAN SE GEMOED, BESERINGS EN DAARDIE HAARTANG
1 DIE SIELKUNDIGE
“Ek sê kategories dat ek nie Susan ervaar het as iemand met selfdoodneigings nie,” het Susan se sielkundige, Jane Newcombe, getuig. Sy beweer Susan was angstig eerder as depressief en was daarom ook tydens die konferensienaweek met haar in verbinding.
2 DIE EERSTE PATOLOOG
Volgens die forensiese staatspatoloog dr. Akmal Coetzee-Khan was aan Susan se lyk aanduidings dat sy met kaal hande verwurg is.
Haar beserings het volgens hom ooreengestem met dié van iemand wie se lugweë van buite geblokkeer is.
Volgens hom was daar bloed aan haar voete, krapmerke aan die regterkant van haar onderkaak en linkerkant van haar nek, en bloeding en skawing aan die boonste lid van haar linkeroog.
Akmal het ook skaafmerke aan haar kneukels en kneusplekke aan haar gewrig gevind. Hy beskou dit as verdedigingsbeserings.
Hy meen Susan is in ’n horisontale posisie dood en nie in ’n vertikale posisie nie.
3 DIE TWEEDE PATOLOOG
Beserings binne Susan se mond en agter in haar keel dui daarop dat sy verwurg en met ’n sagte voorwerp versmoor is, het die forensiese staatspatoloog dr. Deidré Abrahams tydens die hofsaak getuig.
Die verkleuring van Susan se vel naby haar mond en neus, en haar verbleekte wange dui daarop dat iets teen haar gesig gedruk is, het sy getuig.
Bloeding is aan die binnekant van Susan se agterkop, net onder die vel, gevind.
Dit is volgens Deidré ook ’n teken dat “saamgeperste druk” op haar gesig toegepas is.
Sy meen Susan het voor haar dood ’n harde hou teen haar ribbes gekry. Van haar ribbes het gebreek en bloed het in haar longe beland.
Sy het bloed gehoes en die bloed gesluk, wat toe in haar maag en derms beland het, het Deidré getuig.
Volgens haar sou Susan verskriklike pyn ervaar het weens dié beserings.
Sy meen die letsel van die elektriese koord om Susan se nek is ná haar dood aangebring.
4 DIE INGENIEUR
Die haartangkoord waarmee Susan haarself glo opgehang het, toon geen teken van skade nie; daarom kon sy haarself nie gehang het nie, het kol. Danie Poolman, hoof van die ingenieursafdeling by die polisie se forensiese laboratorium, getuig.
Hy het die enkelkoord getoets en dit dubbel gevou en getoets. Met ’n trekbaarheidstoets het hy vasgestel die enkelkoord breek teen 40 kg en die dubbelkoord teen 77,7 kg. Susan het 52 kg geweeg.
5 DIE NUTSMAN
Die nutsman Desmond Daniels was eerste op die toneel en het die badkamerdeur met ’n skroewedraaier oopgesluit. Hy het getuig hy het Susan se naakte liggaam op die badkamervloer sien lê. Terwyl Jason besig was om sy vrou op te tel, het hy die koord om haar nek losgemaak.
“Die koord was nie styf om nie,” het Desmond getuig. Hy het vertel die deur kan ook met ’n teelepel of muntstuk van buite oopgesluit word.
SKOKOOMBLIKKE ‘EK HET HAAR DOODGEMAAK’
Susan se broer, Mark Holmes, wat in Australië woon, het getuig Jason het hom kort ná Susan se dood gebel en huilend drie keer vir hom gesê: “Ek het haar doodgemaak.” Mark het in kruisondervraging gesê hy het dié uitlatings verstaan as “emosionele moord”. Volgens Mark was hy wel verbaas dat sy suster haar eie lewe oor ’n buite-egtelike verhouding sou neem.
FORENSIESE FOUT
Akmal het tydens kruisondervraging toegegee hy het ’n fout begaan met die beraamde tyd van Susan se dood. Hy het aanvanklik bepaal sy het tussen 02:00 en 08:00 die oggend gesterf, maar die gemiddelde sterftyd as 05:40 aangegee. Hy het aangevoer dié berekening is 95% korrek. Tydens kruisondervraging het hy erken hy moes eerder die tydperk tussen 02:00 en 08:00 aanvoer as haar sterftyd omdat hy die gemiddelde tyd verkeerd bereken het.
IN ’N ROLSTOEL
Toe Jason in Februarie nie by die hof opdaag nie, is aangevoer hy is weens stres en depressie in ’n Kaapse kliniek opgeneem. Polisielede het hom in opdrag van regter Gayaat Salie-Hlophe gaan haal, maar Jason se psigiater het geweier om hom te laat gaan omdat die polisie nie ’n skriftelike bevel gehad het nie. Die volgende dag is Jason by die kliniek in hegtenis geneem en in ’n rolstoel na die Stellenbosch-polisiekantoor geneem. Hy het ’n nag in die aanhoudingselle daar deurgebring.
Die dag daarna is hy in boeie by die hof ingebring en sy psigiater het oor sy gemoedstoestand getuig. Daarna is hy weer in die kliniek behandel tot die verhoor sowat twee weke later hervat is.