Huisgenoot

Solomon Cupido

Hy het die lagspiere in Die Kasteel gekielie. Nou keer dié akteur terug in ’n nuwe reeks, Mense Mense

-

Deur EDNA ELLMAN GEBORE STER

Solomon (32) het geweet sy roeping lê in die vermaakbed­ryf die dag toe hy vir die eerste keer mense laat lag. Hy het as kind die rol van Josef in ’n Kersspel vertolk, maar sy woorde vergeet en die mense laat skater. Die komediegog­ga het gebyt toe hy die Amerikaans­e akteur Jim Carrey se streke in Ace Ventura: When Nature Calls (1995) sien. Nou het dié boorling van die Paarl in die Boland al in flieks soos Pad na Jou Hart en As Jy Sing verskyn. Hy was ook op die kassie te sien in die kykNET-sitkom Die Kasteel, en nou wys hy gesig in ’n reeks op dieselfde kanaal, Mense Mense. Dit draai om ’n groep vriende wat saam werk, kuier en woon. “Dit gaan oor vriendskap en verhouding­s,” sê Solomon. “My karakter is die groep se voice of reason.”

SY GROOTWORDJ­ARE

Hy is die jongste van vyf kinders en die enigste akteur in sy gesin. Hy het sy hoërskooll­oopbaan aan die Hoër Seunskool Paarl begin, maar in gr. 11 na ’n ander skool in die Paarl, die Sekondêre Skool New Orleans, verskuif sodat hy drama as vak kon neem. “Ek was sportief en het krieket, tafeltenni­s en rugby gespeel. Omdat my broers so goed in sport, veral tafeltenni­s, presteer het, was die druk groot op my om ook goed te vaar. Ek het amper beroepsrug­by gespeel en moes op die ou end tussen rugby en drama as loopbaan kies.”

10 JAAR NÁ KARATE KALLIE

Solomon, wat nou in Roodepoort, Johannesbu­rg, woon, vier vanjaar sy 10de jaar in die vermaakbed­ryf. “My eerste rol was toe ek in 2008 in Egoli verskyn. Aan die begin was dit moeilik, want ons het op universite­it in teater gespesiali­seer en televisiew­erk was iets heel anders. Ek moes leer om ‘kleiner’ te speel. Ek het in die begin geswymel oor wie ’n mens almal in die bedryf ontmoet. Dit was ook interessan­t om te sien hoe dinge in die TV-bedryf werk,” sê hy. Sy groot deurbraak was sy eerste fliekrol, as Errol in Karate Kallie. “Dit was in 2008 nadat ek my studie voltooi het. Tot vandag toe herken mense my van Karate Kallie.” Sy droomrol? “Om saam met my rolmodel, Denzel Washington, in ’n aksiekomed­ie te speel.” Hy het ook al agter die skerms as assistentr­egisseur gewerk aan flieks soos Ballade vir ’n Enkeling. Mense Mense word van 9 April op Maandae om 20:30 op kykNET uitgesaai.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa