Huisgenoot

LOS TONG SORG VIR ’N NARE NADRAAI

-

VEk was ’n ruk gelede dronk by ’n vleisbraai. Ek het toe aan my vriende se eggenotes ’n geheim uitgelap. Dis iets wat iemand vir my gesê het oor sy/haar persoonlik­e lewe, maar dié mens was nie toe in die geselskap nie. Ek kan nou moeilik verstaan waarom die mense dit so ernstig opgeneem het. Hulle kon tog sekerlik gesien het ek was nie myself nie! Nou is ek baie ongewild. Wat moet ek doen?

BS op KBY

A Drank gee ’n mens nie ’n vrypas om ander se lewe te beïnvloed sonder om die gevolge daarvan te dra nie. Besopenhei­d is geen verskoning vir gedrag wat ander seermaak nie.

Jy weet dalk nou al jy maak jou aan sulke gedrag skuldig wanneer jy aandag soek of nie wil hê mense moet dink jy het niks te sê nie.

Maar as sensitiewe inligting om watter rede ook al uitgeblake­r word, sal die wêreld jou moeilik daarvoor vergewe. Party mense sal skielik begin wonder wanneer jy hul geheime sal uitblaker aan wie ook al daarna wil luister.

Ander kan meen jy het die perke van beleefdhei­d oorskry. Ook hulle sal twee keer dink voor hulle jou weer uitnooi.

As jy iemand te na gekom het toe jy die geheim verklap het, veral as jy name of herkenbare besonderhe­de genoem het, moet jy hulle nou verskoning vra. Verduideli­k aan hom of haar jy wou nie doelbewus moeilikhei­d maak nie, maar moenie jou dronkenska­p as regverdigi­ng vir jou optrede probeer voorhou nie. Vra ook elke lid van die groep voor wie jy jou mond verbygepra­at het verskoning.

As dit jou gewoonte is om ná ’n paar drankies te spraaksaam te raak, is die oplossing om tydens gesellighe­de nugter te bly. Vra jou gerus af waarom jy geneig is om te veel te drink by sosiale geleenthed­e.

Dalk probeer jy jou so handhaaf. As jy aan die oorsaak van jou onbesonne gedrag kan werk, kan jy dalk weer iemand word wat uitnodigin­gs ontvang.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa