Huisgenoot

Selfverwyt ná Krugersdor­p-moorde

Sy eksvrou, seun en dogter word van die Krugersdor­pmoorde aangekla; nou verwyt hy homself

- Deur MARIZKA COETZER

IN SY donker oomblikke verwyt hy homself: Miskien moes hy meer betrokke gebly het by die lewe van sy kinders uit sy eerste huwelik. Dalk moes hy hulle meer gesien het; meer van sy kant af gedoen het. “Dalk sou hulle nie dan op aanklag van moord in die tronk gesit het nie . . .” Dit is enkele dae voor die moordverho­or van sy eksvrou, seun en dogter begin dat Piet Steyn* (48) vir die eerste keer hart oopmaak oor die verskrikli­ke seer en wroeging in sy binneste.

Dis sy eksvrou Marinda Steyn (52) en hul kinders, Le Roux (22) en Marcel (20), wat in die hooggeregs­hof in Johannesbu­rg teregstaan vir die sogenaamde Krugersdor­p-afspraakmo­orde.

Saam met nog drie mense het die vermeende moordkliek na bewering 11 slagoffers beroof en om die lewe gebring in ’n vlaag moorde wat die Wes-Rand tussen 2012 en 2016 geruk het. Sý eks. Sý seun. Sý dogter. Le Roux was 20 jaar oud toe hy in Junie 2016 weens die moorde in hegtenis geneem word. Marcel was net 18.

Een keer per maand ry Piet, ’n nutsman, nou van sy huis in Pretoria na die berugte Sun City-tronk naby Soweto, suidwes van Johannesbu­rg, om Le Roux te besoek.

Tydens sy besoeke aan Le Roux sukkel Piet om sy seun met sy donker hare en “sagte bruin oë” as ’n moordenaar te sien.

“Le Roux het ’n warm persoonlik­heid. Hy is borrelend en gesels land en sand,” vertel Piet en skud sy kop.

Die laaste keer dat pa en seun buite die tronk saam gekuier het, was die eerste keer in baie jare dat hulle saam gehengel het om aan hul verhouding te werk.

Die gebeure van daardie dag was so traumaties dat Piet steeds geskok voel wanneer hy daaraan dink.

Want daar, langs die visvangwat­ers, terwyl hulle op kampstoelt­jies met vislyne in die water gesit het, het die polisie opgedaag en sy enigste seun voor hom geboei . . .

IN SY fotoalbum het Piet ’n ou foto van Marinda, toe nog swanger met Le Roux, wat jare gelede by die Roodeplaat­dam buite Pretoria geneem is.

Dit was ook daar, by die einste Roodeplaat­dam, waar hy en Le Roux op die Vrydagogge­nd in Junie 2016 gehengel het toe alles in ’n oogwink verander.

Dit was veronderst­el om ’n naweek lange uitstappie te wees waartydens hulle mekaar weer ná jare behoorlik sou

vind en aan hul band sou begin werk.

Hul kampeergoe­d was reeds opgeslaan en die dag het rustig en mooi voor hulle uitgestrek, maar Le Roux se foon het kortkort gelui.

Op ’n kol het hy die foon vir sy pa aangegee. Dit was die polisie. Hulle wou by Piet weet presies waar dié en sy seun is. Al wat hulle vir Piet gesê het, was dat hulle besig was met ’n ondersoek en Le Roux sou kom haal.

Kort voor die polisie opgedaag het, het Le Roux sy pa omhels.

Hy het skielik begin huil en gesê: “Pa, ek is moeg vir al die k** in my lewe.”

Toe die polisie opdaag, het die verwarde Piet gedink sy seun word weens ’n gesteelde skootreken­aar aangekeer. Hy was ontsteld en geïrriteer­d oor die nonsens wat sy kind aangejaag het. “Ek het gedink: ‘Jy’t jouself hier ingekry.’ ”

Eers die volgende dag sou hy in die Krugersdor­pse polisiekan­toor uitvind sy seun – en dogter – word verbind met die sogenaamde afspraakmo­orde.

Hier waar Piet aan die skokgebeur­e terugdink, vertel hy van die laaste foto wat hy van Le Roux geneem het kort voor die polisie by die dam opgedaag het.

Op die foto stap Le Roux viswaters toe met sy rug na Piet gedraai. Dis asof Le Roux uit sy lewe stap by dieselfde dam waar die foto van sy swanger ma voor sy geboorte geneem is.

Piet sug. “Vir my het Le Roux se lewe by die Roodeplaat­dam begin en geëindig.

TWEE maande lank ná Le Roux en Marcel se inhegtenis­neming het Piet geen kontak met sy kinders gehad nie. Hy het stories begin hoor dat sy eksvrou hulle gemanipule­er het. In Augustus is ook sy aangekeer.

Omgekrap beweer hy nou: “Volgens Le

Roux het sy ma aan hom gesê: ‘ I brought you into this world and I can take you out

of it.’ ” Piet sê hy het ook gehoor sy eksvrou het hul seun na bewering op ’n kol met ’n mes gedreig.

Toe Piet vir die eerste keer in die gevangenis by Le Roux gaan kuier, het hy ’n brief aan sy seun teen die glasvenste­r vasgedruk. Oor die inhoud daarvan wil Piet nie praat nie, maar hy vertel Le Roux het in trane uitgebars.

Ná elke besoek groet Le Roux hom met die woorde: “Tot siens, pa, lief vir pa . . . Dankie vir die kuier, pa.”

“Ek wil in trane uitbars wanneer ek dink aan Le Roux se straf wat kan kom,” vertel Piet. “En my vrees is: Wat word van hom wanneer hy eendag uitkom?”

Die woorde wat Le Roux tydens een van sy besoeke vir hom gesê het, het ook ’n diep seer in sy hart geword: “Pa, waar wás jy al die jare?”

Piet is ná sy egskeiding van Marinda nog twee keer getroud, maar het nie nog kinders gehad nie.

Hy het ’n stiefdogte­r uit sy derde huwelik. Dié het hom met die geboorte van haar eersteling en sy eerste kleinkind ’n trotse oupa gemaak.

Oor sy dogter se inhegtenis­neming is hy ewe gebroke. Met sy eerste besoek aan Marcel in die Sun City-tronk het Piet ook ’n handgeskre­we brief aan haar teen die glasvenste­r vasgedruk. “Sy het rooi in die gesig geword en net haar kop geskud. Sy was duidelik kwaad.”

Marinda en hul medebeskul­digde haar vriendin Cecilia Steyn word ook in Sun City se vroueafdel­ing aangehou.

PIET en Marinda is in 2001 geskei. Volgens hom het Marinda hom van ontrouheid beskuldig en toe met die kinders Krugers- dorp toe verhuis.

Hul verhouding het vertroebel en die kinders het daaronder gely. Dan erken hy: “Marinda het al my verkeerde knoppies gedruk tot ek vir haar gesê het om die kinders in haar g** op te druk.”

Hy het sy kinders toe agt jaar lank nie gesien nie.

Nou glo Piet dinge was lankal nie pluis nie. Hy beweer daar was moontlik ’n meer sinistere rede hoekom sy eks die kinders van hom weggehou het. Dalk, net dalk, sê hy, was sy “bang die kinders praat uit” . . . * ’n Skuilnaam. Marinda, Le Roux en Marcel wou nie kommentaar lewer op die bewerings teen hulle nie. Die verhoor is kort voor druktyd tot 2 Mei uitgestel.

 ??  ?? Piet Steyn* meer as 20 jaar gelede by sy eksvrou Marinda en seun, Le Roux. Ma en seun word nou van meer as 10 moorde beskuldig.
Piet Steyn* meer as 20 jaar gelede by sy eksvrou Marinda en seun, Le Roux. Ma en seun word nou van meer as 10 moorde beskuldig.
 ??  ?? Drie van die ses verdagtes in die opspraakwe­kkende Krugersdor­p-afspraakmo­orde: Marinda Steyn en haar twee kinders, Marcel en Le Roux.
Drie van die ses verdagtes in die opspraakwe­kkende Krugersdor­p-afspraakmo­orde: Marinda Steyn en haar twee kinders, Marcel en Le Roux.
 ??  ?? Le Roux by die Roodeplaat­dam, waar hy in Junie 2016 in verband met die sogenaamde Krugersdor­p-afspraakmo­orde in hegtenis geneem is.
Le Roux by die Roodeplaat­dam, waar hy in Junie 2016 in verband met die sogenaamde Krugersdor­p-afspraakmo­orde in hegtenis geneem is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa