Huisgenoot

Groot man bly verkeerd eet

Terugslae het Lawrence ál meer laat eet tot hy weens hartversak­ing in die hospitaal beland het; tog bly hy verkeerd eet

- Deur MARLISE SCHEEPERS

HY WAS nog altyd ’ n groot man. Selfs in sy “gesonder” jare het hy met ’n gemiddelde gewig van 140 kg die skaal laat kreun. Maar hy was darem ook aktief: As dieselwerk­tuigkundig­e het hy die wêreld platgery vir sy werk, en hy het graag visgevang en gejag.

Maar dinge het nie altyd vir Lawrence Heineman vlot verloop nie. Ná sy egskeiding 20 jaar gelede het hy weer liefde gevind, maar ook dié verhouding het nie gehou nie.

Hy het uit sy werk bedank en sou ’n ondernemin­g begin saam met ’n vriend, maar dié het kop uitgetrek. Sy terugslae het hom depressief gemaak en hy het ál meer begin eet. Gemorskos, gaskoeldra­nk . . .

“Ek het geweet my leefstyl is verkeerd,” sê die 52-jarige Lawrence vanuit sy bed in Pretoria se Steve Biko-hospitaal. “Dis dieselfde as om deur ’n rooi lig te ry. Jy weet dis verkeerd.”

Onlangs het daardie rooi lig sommer kwaai vir hom geflikker. Die land het gegons oor die storie van agt paramedici wat gespook het om Lawrence, wat deesdae 230 kg weeg, op ’n kombers uit sy huis in Pretoria na ’n ambulans te dra.

“Dit was ’n gróót skrik,” erken Lawrence. Hy praat moeisaam, in kort, hortende sinne, en sukkel gedurig om asem te haal.

Die afgelope week word hy met medikasie en daaglikse inspuiting­s behandel vir hartversak­ing.

Lawrence, wat alleen woon en weens sy gewig net kort entjies in sy huis kan rondbeweeg, het op Dinsdag 5 April ’n ambulans ontbied toe hy nie kon asem kry nie. “Gelukkig het ek ’ n afstandbeh­eerder waarmee ek die deur vir hulle kon oopmaak,” vertel hy.

Dit was vir hom vernederen­d dat die paramedici so met sy groot liggaam moes stoei na die ambulans, waarin hy net-net gepas het. “Jy voel soos ’n aap. Enigiemand sou soos ’n aap gevoel het,” erken hy.

“Ek voel baie beter hier in die hospitaal as wat ek by die huis gevoel het. Maar ek sukkel steeds, want ek het nie krag nie. Dis my groot ding, en dat ek nie asem kry nie.”

Nogtans sou hy kort voor Huisgenoot se saktyd ontslaan en na sy huis teruggenee­m word, waar ’n kennis soms vir hom kos- en ander basiese lewensmidd­ele neem. Op Lawrence se versoek word v ir hom wegn e e m - kos en gaskoeldra­nk gebring.

Hy erken hy het voorheen nie gemotiveer gevoel om sy lewe daadwerkli­k reg te ruk nie. “Ek weet dinge sal beslis moet verander; ek kan nie soos voorheen aangaan nie.” Hy klink half moedeloos terwyl hy dit sê. “Dis maklik om te sê ek gaan dit en dat doen, maar ek weet ek kan nie stap nie. Ek weet dit.”

‘Ek weet dinge sal beslis moet verander; ek kan nie aangaan soos voorheen nie’

LAWRENCE praat nie graag oor sy agtergrond nie, behalwe om te erken hy voel dikwels depressief, hoewel depressie nooit formeel by hom gediagnose­er is of hy berading ontvang het nie. Maar ’ n familieken­nis glo verskeie persoonlik­e terugslae het Lawrence, wat in sy jong dae provinsial­e sagtebal gespeel het, ál depressiew­er gemaak.

“Hy is 20 jaar gelede van sy vrou, by wie hy ’n dogter het, geskei. Vier jaar gelede het hy weer ’n liefdestel­eurstellin­g gehad . . . en dan het die planne vir sy eie ondernemin­g ook drie jaar gelede gevou.

“Sedert daardie laaste liefdestel­eurstellin­g is hy alleen,” sê die kennis. “Hy het ál meer begin eet en veral die afgelope ses maande baie gewig aangesit. Ons het hom gereeld aangespree­k oor sy gewig. Hy het al verskeie kere ingestem om gewig te verloor, maar niks daaromtren­t gedoen nie.”

Lawrence self vertel vir ons sy “eintlike groot etery” het ongeveer drie jaar gelede begin.

Hy vertel hy het die skaal aanvanklik vermy, maar het geweet hy word vetter omdat hy van tyd tot tyd groter klere moes koop. “En toe ek vir die eerste keer in jare op die skaal klim, weeg ek 160 kg. Ek het myself in ’n ander bloedgroep ingeskrik.”

Hy het daarna verskeie kere probeer om gesonder te eet, maar dit het gewoonlik net “’n week of twee” gehou. “Dis nie dat ek so baie van kos hou nie, maar as jy niks doen nie, is dit al wat oor is. Ek bedoel: Óf jy gaan oor na drank en drugs óf jy eet jouself in ’n dilemma in,” sê hy.

So sewe jaar gelede, vertel hy, het hy “probleme met sy hartritme” begin kry. Maar selfs dit het hom nie op die regte pad gekry nie. “Ek het net nie gemotiveer gevoel nie.”

Hy weet sy voorliefde vir gaskoeldra­nk is sy ondergang. “Ek weet nie presies hoeveel ek gedrink het nie, maar party dae was dit minstens 2 L gaskoeldra­nk. Ek het egter nooit baie alkohol gedrink of gerook nie.

“Ek hou van eet; dit was my gemaksone. Ek sou maklik besluit ek gaan nie vanaand iets kook nie; ek gaan eerder wegneemkos koop. Dan het ek sommer twee aande se kos gekoop, maar alles dadelik geëet. So het dit aangehou en aangehou.”

Teen Desember verlede jaar het sy gewig so toegeneem dat hy moeilik gestap het en nie meer self kon bestuur nie. Hy het toe ’n kennis, Theodore Pretorius, gebel en dié gevra om vir hom kos te bring wanneer hy dit nodig het.

Wanneer hy so depressief raak, vertel hy, het hy nie die krag om enigiets te doen nie. “Dis die groot ding: Jy het nie krag nie. As jy elke oggend wakker word en dan net heeldag op jou bed sit, word dit later vir jou normaal.”

Volgens hom sê die dokters by Steve Biko sy hart funksionee­r tans teen net sowat 35%. Met tyd kan dit regkom, meen Lawrence.

Maar hy is nog nie seker hoe hy sy leefstyl gaan verbeter nie. Om ’n dieetkundi­ge te gaan sien en spesifieke kos te koop om te eet sal vir hom te duur wees. “Ek sal nou maar gaan dink oor wat ek kan doen.”

THEODORE het by navraag aan Huisgenoot bevestig hy sal Lawrence by die hospitaal gaan haal ná sy ontslag en hom na sy eie huis in Mountain View terugneem. “Ek sal aanhou om vir hom kos en ander noodsaakli­ke dinge te koop en hom so probeer help tot hy op die been is. Daar is darem ook ’n huiswerker wat hom met sy basiese versorging sal help.”

Volgens Theodore help Lawrence se familie met die huurgeld vir sy verblyf, en verder leef hy van spaargeld.

Lawrence sê: “Mense maak ’n mens seer. As hulle ’n vet ou sien, dink hulle, jislaaik, al wat daai ou kan doen, is vreet. Dit is eers seer en dan word jy kwaad.

“Die mense daar buite moet besef so iets kan met hulle ook gebeur. Sommer baie vinnig. Dis nie asof ek elke aand tjips eet en Coke suip nie, maar al die klein goedjies dra by,” sê hy.

“Ek sal daarvan hou as iemand my kan kom sien om my te motiveer. Elke persoon en elke bietjie help.

“Elke persoon gee jou die moed om een tree vorentoe te neem . . . en dalk eindelik 20 treë as jy genoeg gemotiveer word.”

 ??  ?? Lawrence Heineman was nog altyd groot gebou, maar in die afgelope drie jaar het hy drasties gewig aangesit.
Lawrence Heineman was nog altyd groot gebou, maar in die afgelope drie jaar het hy drasties gewig aangesit.
 ??  ??
 ??  ?? ’n Foto van Lawrence wat onlangs in die media verskyn het. Lawrence het met hartversak­ing in die hospitaal beland.
’n Foto van Lawrence wat onlangs in die media verskyn het. Lawrence het met hartversak­ing in die hospitaal beland.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa