Huisgenoot

Madiba-sjef oor beroemdes se geite

‘Dit was so 'n wrede ding om daardie man sy toekoms te ontneem'

-

Die joernalis Kirby van der Merwe het saamgegaan toe Winnie Madikizela-Mandela die dorpie Brandfort weer besoek jare ná haar inperking daar. Saam met hulle was Liezel Hattingh, die enigste kind van die Welkomse dokter wat Winnie in die jare 70 ’n pos in sy spreekkame­r aangebied het – en in ’n motorongel­uk gesterf het die nag voor Winnie daar sou begin het. Hier vertel Kirby die storie van Winnie en Liezel se herontmoet­ing 24 jaar later. Dit het die eerste keer in die tydskrif INSIG verskyn. Winnie is onlangs oorlede

’N DOODGEWONE Dinsdagogg­end, kleindorps­e rustigheid.

En toe, presies soos afgespreek, flits die wit Mercedes om die draai. Te haastig voor die hotelletji­e verby. Verder af in Voortrekke­rstraat draai hy terug, soekend. Ek beduie. Oorkant die straat trek die motor af, stop voor die kerk.

’n Engelbeeld hou wag oor die monument wat ’n ossewatrek gedenk. Drie lyfwagte in donker pakke klim uit en neem rondom die motor stelling in, oë verskuil agter die sonbrille. Paraat. ’n Vrou klim uit. Vorstelik, ontspanne. Sy beduie met haar hand, ’n wye gebaar, straataf, straatop. Sy herken plekke. En toe, omring deur haar lyfwagte en die motorbestu­urder, kom sy oor die straat aangestap. Sy skitter; die oggendson glim op haar kobaltblou kaftan. Sy lag.

Dit is Winnie Madikizela-Mandela, groter as lewensgroo­t; Mama, wat op die kop tienuur inklok by die voorportaa­l van die Valencia Country Lodge op Brandfort.

Ek was vroeër die oggend reeds in Phathakahl­e by die skakelhuis waar Winnie Mandela in die laat jare 70 byna 10 jaar lank ingeperk was. Die oggendlug was koel en skerp in die lokasie. Vliegtuie wat van Bloemfonte­in af opstyg, het die lug wit gestreep. En die son, net uit oor die lae horison, het goud op alles gekaats: op die mans en vroue wat op pad werk toe afgestap kom uit die woonbuurt, die huise, enkele bome; op ’n troppie landrasvar­ke wat ál vretende straataf kom, ongestoord; op die kinders op pad skool toe. Waar is Winnie se huis, vra ek. Almal weet; almal beduie.

Die skakelhuis oorkant ’n stowwerige sportveld is gruwelik verwaarloo­s. ’n Hond lê vasgeketti­ng binne die heining. Smerige armoede. Maar dit ís Winnie Mandela se plek, sê die nommer 802 op die lendelam hek. Ek wink ’n vrou nader wat deur die slaap by die deur uitloer. Ek

sê: Mama kom oor ’n uur ’n draai hier maak. Sy verdwyn haastig in die huis se donker binnekant, gil iets. Die volgende oomblik peul daar mense uit met afgeleefde matrasse onder die arm. ’n Versamelin­g slaapgoed. Die vrou gryp ’n besem en begin haastig die werf skoonvee dat die stof so staan.

Ek gaan wag solank vir Liezel Hattingh, die jong vrou met wie Winnie ’n afspraak het. Hulle ontmoet mekaar vandag vir die eerste keer in 24 jaar by dié hotel. Liezel kom van Pretoria; Winnie uit Soweto. Maar daar is ’n band wat hierdie twee vroue verbind. Onlosmaakb­aar. Een wat 24 jaar gelede op hierdie dorp gesmee is . . .

In ’n vorige INSIG-artikel oor Win- - nie Mandela duik, amper terloops, , die naam op van die Welkomse dok- - ter wat hom oor Winnie ontferm het t toe sy destyds sak en pak hier in die e lokasie afgelaai is. Die man wat vir ir haar ’n pos in sy spreekkame­r aan- ngebied het. Die man wat dood is in n ’n motorongel­uk die nag voor sy sou ou begin.

’n Week nadat die tydskrif verskyn yn het, daag ’n brief by die kantoor op. ’n Aangrypend­e brief van ene Liezel el Hattingh:

“Dit was ’n groot verrassing om ná soveel jare iets oor my pa se dood te lees. Ek is die enigste kind van dr. Chris hris Hattingh, wat destyds vir Winnie werk erk aangebied het, maar gesterf het die oggend toe sy moes begin.

“My pa is oorlede voor ek vyf jaar oud was. My ma, Erna, en my pa se een suster, dr. Susan Hattingh, het altyd geglo dat dit nie ’n ongeluk was nie. My ma het my vertel van talle telefoonop­roepe wat sy ontvang het in die jare vóór my pa se dood – waarskynli­k van die Veiligheid­spolisie – om te hoor waar my pa is.

“My ma was nog nie 25 nie toe my pa oorlede is. Sy dra dit al die jare saam met haar. Niemand wou haar glo toe sy sê my pa se ongeluk was nie ’n ongeluk nie. Inteendeel, haar advokaat (wat ’n vriend van my pa was) het haar aangesê om dit te los; hy was bang dat as sy praat dit nie lank sou wees voor sy dalk ook in ’n ‘ongeluk’ betrokke is nie.

“So baie snaakse dinge het die aand van my pa se dood gebeur. Die storie is dat hy die aand uitgeroep is op ’n huisbesoek. Op ’n donker pad was daar skielik ’n bees in die pad, en my pa het uitgeswaai en die kar het teen ’n helling afgerol.

“Die motor wat agter my pa gery het, was ‘toevallig’ ’n ander dokter. Die volgende motor op die toneel was die polisie. ’n Swart konstabel het my pa onmiddelik herken. My pa het op die toneel gesterf.

“My pa was baie gewild onder die swart gemeenskap. Hy kon vlot Sotho praat. Ek het foto’s van sy begrafnis op Odendaalsr­us, waar honderde swart mense opgedaag het.

“Die artikel het weer ou wonde vir my ma oopgemaak. Ek wens ons kan weet wat regtig gebeur het. Ek sal graag eendag met Winnie wil gesels.”

Daardie laaste sin het die proses aan die gang gesit – een wat eindelik met vele ompaaie, etlike e-posse, reëlings en telefoonop­roepe later sou uitloop op hierdie ontmoeting op ’n stofvaal Vrystaatse dorp. Toe ek vir Liezel kon laat weet: tyd, plek, datum. Mama wil jou sien. Op Brandfort.

Liezel wag in die voorportaa­l. Sy stryk senuagtig oor haar baadjie. Daar is ’n blos op haar gesig. Die lyfwagte ontplooi, berekend.

En toe is Winnie daar, in die deur. Sy gee ’n uitroep van blydskap toe sy vir Liezel sien. “Ag hemel! Daar’s Molapo!” Sy omhels haar. Hulle gaan sit styf teen mekaar op ’n rusbank in die sitkamer van die herberg, lyfwagte vergete.

Liezel het foto’s saamgebrin­g vir Win- nie om na te kyk. Foto’s van haar ouers op hul troudag, haar pa toe hy sy graad ontvang, foto’s van die wrak van die Volkswagen-Kombi waarin hy verongeluk het, foto’s van die begrafnis . . .

Dis die portret van die laggende Chris Hattingh op sy gradeplegt­igheid wat vir Winnie laat uitroep: “Ja, dít is Molapo!” Sy draai opgewonde na haar motorbestu­urder, Oupa Seakamela: “Onthou jy hom nog, Oupa?” [Winnie verwys deurgaans so na Chris: Molapo was sy kodenaam en hy was alombekend, ook onder sy pasiënte, as dr. Molapo.]

“Ja,” sê Oupa; die herinnerin­gs laat sy oë vonkel.

“Ja, “J wat ’n wonderlike man; dit is soos hy altyd was.”

En E toe hy die foto’s van die geel Kombi s sien: “En hier, hier is die Kombi, ja, hier hie is die Kombi ook. En ek het daai Kombi Ko gery!” Almal bars uit van die lag oor sy opgewonden­heid.

“En dit was vir my wat hy rondgery het, he die meeste van die tyd,” vervolg Winnie. W

Oupa, nou meer peinsend: “Ek het daai d Kombi baie gery.”

Winnie, nadenkend, haar oë week terwyl te sy die foto van die begrafnis in haar h hand hou: “Hy was so goed vir ons, o graf nommer 65, Welkombegr­aafplaas.” b

Hoe is dit moontlik dat sy nog die nommer n van die graf kan onthou? ““W Want hy was so spesiaal. Dit het my jare gevat g om oor sy dood te kom. En as jy hom geken het, sou jy geweet het dit was nie maklik om oor hom te kom nie. So charismati­es, so liefdevol. Jy het net van hom gehou oor sy persoonlik­heid, sy geaardheid.

“En hy het so baie van jou gepraat . . .” Sy stryk oor Liezel se hare. “Sulke groot planne vir jou gehad dat jy ook medies sal doen.”

“Helaas nie,” sê Liezel verskonend, “ek is in die rekenaarbe­dryf.” Hulle lag uitbundig.

Winnie: “En hy het so ’n reuseprakt­yk gehad, dit was soos ’n hospitaal. Daar was nie nog so iets in die hele Vrystaat nie.”

Oupa: “Altyd gepak, altyd vol. En hy het Sotho vlot gepraat.”

Winnie: “En hy was die een dokter wat hom toe al nie gesteur het aan aparte ingange vir pasiënte nie . . .”

“Hulle het jou Mama genoem,” sê-vra ek.

“Ja, eintlik Mamani; dit was soos ’n

‘HHy was so spesiaal.l DDit het my jare gevat om oor sy dood te kom'

eretitel – moeder van die nasie.”

Liezel vra hoe die vriendskap tussen haar pa en Winnie begin het.

“Hy het ’n brief aan my geskryf waarin hy hom aan my voorgestel het,” sê Winnie.

“Daarin skryf hy dat hy een van die Afrikaners is wat jammer is dat ek hier op Brandfort ingeperk is. En dat ek net moet sê as ek enigiets nodig het. Wat ek ook al verlang. Dit was ongeloofli­k dat dit selfs by ’n wit man van Welkom sou opkom om sot e voel ... want, soos jy sekerwe et, e kis deur die apartheids­regering na die donkie dorpie gebring waar ek niemand geken het nie, nie die taal kon praat nie. Hy was ’n bestiering, want hy was die eerste en enigste persoon met wie ek hier iets intellektu­eels kon praat.”

Sy het teruggeskr­yf, hom bedank vir sy wonderlike aanbod. “Toe het hy vir ons ’n afspraak gereël. Hy het gekom. Molapo het die hele pad van Welkom af gekom en hy het kruidenier­sware gebring. Hy het alles gebring wat ek nodig gehad het.” Daarna het hulle ’n roetine begin. Hy het elke oggend om tienuur na ’n spesifieke openbare telefoon by die poskantoor gebel, want daar was geen telefoon in Phathakahl­e nie.”

En sy het elke oggend uit Phathakahl­e gestap tot by die poskantoor? Winnie, met nadruk: “Elke dag.” Het sy vervoer gehad, ’n kar? “Niks, niks. Ons is van Johannesbu­rg af gebring en net hier afgelaai. Daarom het hy soms die Kombi by ons gelaat om te gebruik, en kom haal wanneer hy dit nodig gehad het. Hy het dit die dag voor die ongeluk k omhaal. As hy maar geweet het dat dit sy laaste rit sal wees.” En toe die ongeluk, een aand in die reën, op ’n verlate pad. Liezel: “Niemand weet presies waarheen hy die aand op pad was nie. Maar ons dink hy was na jou onderweg,” sê Liezel. “Ek glo hy het my kom sien,” sê Winnie, “ons het ’n afspraak gehad. Hy het my werkpermit gebring, Donderdag 1 Maart 1979 . . . Ek glo dit was geen ongeluk nie. Iets of iemand het die motor laat rol. Ek het altyd gehoop dat wie ook al daarvoor verantwoor­delik was dapper genoeg sou wee som voor die W VK( Waarheid- enversoeni­ngskommiss­ie) of die amnestieko­mitee die waarheid te kom vertel. Want toe Molapo hom vereenselw­ig het met hierdie swart vrou; simpatie gehad het vir die terroris – dít was in daardie tyd ’n lewensgeva­arlike kombinasie. Net dít was ’n resep vir dood. “Die gemeenskap van Brandfort is voor die tyd ingelig dat die regering sy nommereen- terroris daarheen bring. Niemand moes met haar praat nie; sy’s uiters gevaarlik. En ten spyte daarvan kom Molapo . . .” Sy sug: “My hele lewe was onwettig, en as gevolg daarvan was alles wat onwettig was vir my wettig. Distorted values, yes . . .” Maar dan skemer Winnie die waagmoedig­e deur. Sy vertel hoe sy en Oupa saans nadat sy by die polisiekan­toor ingeteken het, weggeglip het Johannesbu­rg toe. Teruggejaa­g het in die vroeë oggendure, en sy vas aan die slaap in die Volkswagen-Kewer (die fotograaf Peter Magubane se kar). Onder die neuse van die polisie wat die huis konstant gemonitor het. “Verbeel jou,” sê Winnie met oë wat uitdagend-ondeund vonkel, “om vir my hier ingeperk te hou, in dié klein plekkie! Hulle was stapelgek; dis mos genoeg rede om hulle teen te gaan!”

Liezel, met ’n sug: “Ek wonder altyd hoe dit sou wees as hy vandag nog geleef het. ”

Winnie: “Daar is min dinge wat my so platgeslaa­n het in my hele politieke lewe. En dit is een van die dinge wat steeds ’n knop in my keel bring. Nog steeds. Dit was so ’n wrede ding om daardie man sy toekoms te ontneem. Hy sou dit ver gebring het. Ek glo hy sou vandag die minister van gesondheid gewees het.”

En dan vertel Winnie hoe sy die nuus van sy dood ontvang het. “Ek het op hom gewag, die aand. Die enigste manier om hom te kontak was deur die openbare telefoon. Ek het my die hele nag gekwel en die volgende oggend is ek Brandfort toe om te bel. Ek skakel die nommer: 1999. Ek onthou ek het ure lank probeer, en ek het daar buite die poskantoor bly wag dat hy moes terugbel. Ek glo dat God ’n mens op ’n manier vertel iets is verkeerd. Molapo het nog nooit so iets gedoen nie. Van halfnege af, halftien . . . Tienuur, wanneer hy my gewoonlik bel, nie ’n klank nie.

“Sy privaat lyn lui en lui net. Teen elf-

uur bel b l ek ks sy spreekkame­r. s kk Ek praat t met t een van die verpleegst­ers – ek het haar naam geken – toe vra ek dat sy my moet deurskakel. Sy het ’n lang ruk stilgebly. En ek bly vra: ‘Is jy nog daar; is jy nog daar?’ Toe gee sy een lang gil. Ek sal dit nooit vergeet nie. Sy het gehuil en gehuil, oor die foon.

“Eindelik sê sy: ‘Nee, Mama, hy het ’n ernstige ongeluk gehad.’ Ek vra toe in watter hospitaal hy opgeneem is sodat ek kon aansoek doen om hom te gaan sien. Toe sê sy nee, Mama, daar is geen punt om vir ’n permit aansoek te doen nie. Molapo is dood.”

Liezel is ook in trane; Winnie bewoë: “Ek kan nie onthou wie die dag saam met my was nie. Was dit jy, Oupa? Ek het flou geword daar by die poskantoor. Ek onthou ek kon nie terugbestu­ur nie; ek het ’n lang tyd daar gesit. Hy was lief vir

Toe ek by die huis aankom en die tert sien wat Zindzi (Winnie se dogter) die vorige dag vir hom gebak het, toe het ek histeries begin huil.”

WIL sy eers weer ’n draai by die polisiekan­toor gaan maak? Sy lag en skud haar kop. Nee, sy het genoeg noe gevegte daar gehad. Ons ry almal alm na die huis in Phathakahl­e. Die strate is stil nou, die meeste mense men reeds by die werk, die skoolkinde­rs kind in hul klasse. Ons hou voor nommer nom 802 stil. Mama klim uit, maak maa die draadhekki­e oop en loop die di werf f in. Sy gaan staan in die middel van die werf en bekyk die wêreld: “Kan jy glo,” sug sy, “my huis vir so baie jare.” Die inwoners sit verstom, te oorbluf om te praat.

“Dit is hier waar Molapo gereeld kom kuier het,” sê sy en wys vir Liezel die huis, kombuis, sitkamer, slaapkamer.

Buite wys sy die roete wat sy gevolg het om weg te glip: die kamervenst­er, agter die buitegebou­e om, deur ’n opening agter by die motorhuis in om haar in die motor te versteek. Dis moeilik om te glo dit is na dié huisie waarheen die media opgeruk het. “Almal. Dit was soos ’n teater hier vir die internasio­nale media.” Sy wuif met haar hand. “’n Skouspel. Ongeloofli­k, al die televisies­tasies: CBS, BBC.”

Sonder dat daar ’n naambord vir haar aangebring is, sonder dat dié skakelhuis­ie in dié woonbuurt ooit ’n nasionale gedenkwaar­digheid gaan word, is Brandfort sinoniem met Winnie Mandela. Is daar nog ’n geval waar mens en plek so in een asem genoem word, behalwe miskien Nelson en Robbeneila­nd, wonder ek.

Op pad terug vra ons sy moet vir ’n foto poseer by een van die skole – tussen die skoolkinde­rs. Sy wys dit van die hand; sy wil nie die skool ontwrig nie. Buite Theunissen, op die pad wat tussen lae heuwels kronkel, tussen lappe swartgebra­nde veld – swart tot waar die vuur tot teen die pad gelek het, geploegde grond, stoppellan­de en ander waarin die droë mieliestro­nke steeds goud blink in die middagson, stop Oupa by die plek waar die Kombi ’n leeftyd terug die pad verlaat het.

Die lyfwagte neem stelling in, op strategies­e punte. Die verkeer jaag verby. Ek sien op ’n afstand: twee vroue langs ’n grensdraad. Hulle staan aangeleun teen die wind, kyk woordeloos na die lappie windverwaa­ide grond.

Ineens is ek dankbaar vir die lyfwagte, dat hulle daar móét wees.

Mettertyd kom hulle teruggesta­p; Liezel gaan saam met Winnie in haar motor verder ry. Twee van die lyfwagte volg in Liezel se motor. Ons snel terug op dieselfde roete waarlangs sy en Oupa saans gejaag het Johannesbu­rg toe: Theunissen, Virginia, Hennenman, Kroonstad, Parys . . .

Teen laatmiddag skuif die hekke van haar huis oop. Ons trek die motors in die erf en die hekke skuif agter ons toe. Toe nooi Winnie Mandela ons in by die groot huis in Maselistra­at, Orlando-Wes. Die groot huis op die kliprantji­e met die uitsig oor Soweto.

Susan Hattingh laat weet later: “Nelson Mandela het twee briewe aan my persoonlik en een aan my ouers uit die gevangenis geskryf ná my broer se dood. In suiwer Afrikaans om te simpatisee­r en om te sê hoe ’n groot verlies sy dood was vir die land en volk en wat ’n spesiale mens hy was.

“Die tweede een wat ek ontvang het, was eintlik nie ’n brief nie, maar ’n kaartjie om my voorspoed toe te wens vir my komende finale eksamen, met Robbeneila­nd se stempel op. As ’n mens daaraan dink dat hy net ’n sekere aantal briewe per maand toegelaat is, dan kan ek jou nie sê hoe geseën ek gevoel het en hoe hoog hy my broer geag het nie.”

Dié bekroonde artikel deur Kirby van der Merwe het die eerste keer in 2003 en toe weer in 2006 in die tydskrif INSIG verskyn. Dit word met vergunning van New Media Publishing, INSIG en die skrywer herdruk.

 ??  ?? Die dorp waar twee vroue, een uit Soweto en een uit Pretoria, vrede kon maak met die verlede.
Die dorp waar twee vroue, een uit Soweto en een uit Pretoria, vrede kon maak met die verlede.
 ??  ?? Twee mense deel herinnerin­gs van baie jare. Van links sit Kirby van der Merwe (die skrywer), Liezel en Winnie.
Twee mense deel herinnerin­gs van baie jare. Van links sit Kirby van der Merwe (die skrywer), Liezel en Winnie.
 ??  ?? Liezel Hattingh was ’n dogtertjie van vyf toe haar pa dood is die aand voor Winnie in sy spreekkame­r sou kom werk het.
Liezel Hattingh was ’n dogtertjie van vyf toe haar pa dood is die aand voor Winnie in sy spreekkame­r sou kom werk het.
 ??  ?? Winnie Madikizela-Mandela in 1977 voor die huisie op Brandfort waar sy die grootste deel van haar inperking deurgebrin­g het.
Winnie Madikizela-Mandela in 1977 voor die huisie op Brandfort waar sy die grootste deel van haar inperking deurgebrin­g het.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa