Skokromanses tussen familielede
In ’n nuwe dokkie word verhale vertel van langgeskeide naverwante wat ’n seksuele verhouding begin het. Kenners probeer dit verklaar
SY WAS net 14 jaar oud toe sy die lewe aan ’n babaseun skenk en hom noodgedwonge moes laat aanneem. Byna 27 jaar het verloop tot hulle op ’n blye dag op ’n lughawe met mekaar herenig is. Sy het nie gedink sy sou hom herken nie, maar toe hy aangestap kom, het sy dadelik geweet dis haar langverlore seun.
“Hy was my baba wat ek verloor het,” sê Dianne, ’ n 40-jarige Amerikaanse vrou. “Ek het regtig gedink ek gaan op die plek weer melk produseer, so sterk was die aantrekkingskrag.”
Toe hulle mekaar vir die eerste keer styf vashou, het hy “haar hartklop herken”, vertel haar seun Steve in ’n omstrede dokumentêr, Brothers & Sisters in Love, wat nou op YouTube te sien is en die internet aan die gons het. Dit bied ’n opspraakwekkende blik op verliefde pare wat dieselfde gene dra.
Steve en sy biologiese ma, Dianne, probeer vir die verlore jare vergoed deur as man en vrou op ’n klein dorpie in Amerika saam te leef sonder dat die bure van iets weet.
Want daar is iets aan passievolle liefde tussen bloedfamilie wat ander se bloed laat kook en die meeste mense laat sidder. Die fisieke uitlewing daarvan word immers deur die wet verbied, en die naam wat dit verwoord, wys hoe die samelewing daaroor voel: bloedskande.
Tog is dit ’n algemene gevoel by naverwante familielede wat mekaar vir die eerste keer eers as volwassenes ontmoet, sê kenners. In navorsing wat in die British Medical Journal verskyn het, is bevind tot die helfte van ontmoetings tussen langvervreemde naverwante familielede lei tot ’n seksuele verhouding – al is dit kortstondig. Daar is selfs ’n sielkundige term daarvoor: genetiese seksuele aantrekking.
“Niemand kies so ’n verhouding nie,” sê Steve, wat nes Dianne vir die TVkameras vermom is.
“Net soos ek haar hartklop herken het, het elke sel in my lyf na dinge gesmag wat ek nooit voorheen ervaar het nie; daardie geborgenheid (as baba in jou ma se arms).”
Dit het daarop uitgeloop dat hulle ’n paar weke ná hul herontmoeting intiem verkeer het. Vir albei was dit emosioneel ’n pynlike ervaring. “Ek het gedink ek is besig om mal te raak,” onthou Dianne in ’n bewende stem.
Maar dan verduidelik sy haar tragiese smagting: “Ons wou een word, ’n band smee . . . ”
OOK ander gevalle soos dié het die afgelope paar maande die nuus gehaal. Die verhaal van ’n pa en dogter wat verlede September die ouers van ’n babaseun geword het, het pas op ’n tragedie uitgeloop toe Steven Pladl ( 42) van Noord-Carolina ’n moordtog deur drie Amerikaanse deelstate onderneem het. Eers het hy sy biologiese dogter, Katie (20), en hul baba doodgeskiet, toe haar aanneempa, Anthony Fusco (56), en daarna homself.
Steven en sy eks het Katie as baba laat
aanneem, maar twee wee jaar gelede het pa en dogter mekaar in die sosiale media gekontak. Steven is vroeër vanjaar in hegtenis geneem omdat hy ’n kind by sy eie volwasse dogter verwek het. Hy sou vandeesmaand in die hof verskyn het.
Ook in Amerika is Patricia Ann Spann (43) van Oklahoma onlangs tot twee jaar tronkstraf gevonnis en as seksoortreder geregistreer omdat sy met haar dogter Misty (23) getroud was. Patricia het toesig oor Misty en nog twee kinders verloor toe hulle baie klein was.
Skokkende verhale soos dié het een ding gemeen: Die bloedfamilie wat in so ’n verbode liefdesverhouding gewikkel raak, is kort ná geboorte van mekaar geskei.
In sulke gevalle kan die normale binding tussen ma en baba nie plaasvind nie, verduidelik dr. Konrad van Staden, ’n kliniese sielkundige van Port Elizabeth. ’n Ma skei ná geboorte hormone af wat haar in die eerste week van die baba se lewe ’n hegte band met hom of haar laat smee. Sy raak dan as’t ware “verlief ” op die baba en die baba op haar. Hierdie bindingsgedrag is ter wille van oorlewing sodat sy die baba sal versorg.
As die baba in dié tyd van die ma weggeneem word, kan daar in sommige gevalle ’ n obsessiewe hunkering na hierdie binding wees as die ma en kind mekaar weer as volwassenes ontmoet. Konrad beveel aan dat hulle mekaar dan nie in isolasie leer ken nie, maar eerder omring deur familie en vriende wat hulle bystaan.
Bloedskande word deur baie mense as een van die grootste taboes beskou, maar dit kan nie bloot as perversie afgemaak word nie, sê dr. Marlene Wasserman, ’n kliniese seksuoloog en verhoudingsterapeut van Kaapstad, beter bekend as die radio- en TV-persoonlikeid Dr. Eve.
In gevalle van aanneming, egskeiding, immigrasie en ook kunsmatige bevrugting met ’n skenker se eiersel of sperma kan ’ n kind en ’ n biologiese ouer belangrike jare van ontwikkeling saam misloop. Wanneer hul paaie as volwas- senes se kruis, kan hulle tot mekaar aangetrokke voel; dit is die verskynsel wat sielkundiges met die term “genetiese seksuele aantrekking” probeer verklaar.
Dit word omskryf as intense seksuele, emosionele en romantiese gevoelens en liefde tussen mense wat naverwante van mekaar is. Vir baie van hulle is dit ’n traumatiese belewenis, sê Marlene.
“Dit laat sielkundige letsels as hierdie mense vervolg, verag, veroordeel, afgeknou en gespot word. Hulle moet eerder op ’n terapeut se stoel as agter tralies beland.”
Broers en susters wat tot op ses jaar saam grootgeword het, hoef nie bekommerd te wees oor genetiese seksuele aantrekkingskrag nie. Volgens die Westermarck-effek raak sibbes wat tot op ses jaar saam grootgeword het, “gedesensitiseerd” vir mekaar en ontwikkel hulle nie ’n seksuele aangetrokkenheid tot mekaar nie, verduidelik Marlene.
WÊRELDWYD en ook in Suid-Afrika raak dit ál makliker vir jong volwassenes wat as kinders aangeneem is om met hul biologiese ouers herenig te word. Dieselfde geld vir kinders wat met die hulp van ’ n eiersel- of spermaskenker deur kunsmatige bevrugting verwek is, mits die skenker daarvoor toestemming gee. Nie net word EKSTRA BRONNE: NETWERK24, FOX13NOW.COM, DAILYMAIL.CO.UK, CUMBRIA.GOV.UK/ADOPTION, YOUTUBE.COM dit wetlik vir hulle moontlik gemaak nie; Facebook, Instagram en ander sosiale platforms maak dit ook makliker om hul biologiese ouers en langverlore sibbes op te spoor.
Ron, ’n Brit, en sy bloedsuster, Doris, albei in hul 60’s, het mekaar as volwassenes deur die internet opgespoor. In die nuwe Brothers & Sisters-dokumentêr vertel hy hoe hy haar met hul eerste ontmoeting “onbeheers begeer” het. Daarna het hy drie jaar lank vir Doris, wat in Bermuda woon, passievolle briewe geskryf. Maar sy wou nie byt nie tot groot verligting van sy vrou, Mary, met wie hy al dekades lank getroud was.
Eindelik het Ron besluit om eerder ’n langdurige verhouding as broer en suster met haar op te bou. Pasop vir daardie eerste ontmoeting, waarsku hy.
Naverwante wat mekaar eers as volwassenes leer ken, moet goed op hul eerste ontmoeting voorberei word, waarsku dr. Marelize Swart, ’n sielkundige en seksterapeut van Somerset-Wes.
Sy stel voor hulle ruil voor die herontmoeting foto’s van mekaar uit en bly hulself herinner daardie oorweldigende gevoel sal mettertyd bedaar. Noem mekaar “my ma”, “my seun”, “my broer”.
“Genetiese seksuele aantrekking kan beskou word as ’n soort seksuele oriëntasie waar dit nie soveel oor seks gaan as oor die behoefte om ’n lewe saam te bou nie,” meen dr. Elna Rudolph, ’n mediese dokter, seksuoloog en die kliniese hoof van My Sexual Health in Johannesburg.
Bloedfamilie behoort beslis nie voort te plant nie, want dit kan tot baie ernstige genetiese defekte in die kinders lei, waarsku sy.
Sielkundige terapie kan mense met sulke gevoelens help om ’n gesonde verhouding met hul langverlore familielid te vestig wat by intellektuele, geestelike of emosionele intimiteit bly.
“Ek raai mense aan om hulp te kry om die lewe vir hulself en hul families makliker te maak.”
Hulle moet eerder op ’n terapeutstoel as agter tralies beland