Inenting teen MPV in skole 'n omstrede prosedure
Gr. 4-meisies landwyd word gratis ingeënt om hulle teen onder meer servikale kanker te beskerm. Hoe effektief is dit, en kan ouer vroue ook daarby baat vind?
‘ NMENS sou dink enige entstof wat jou kind teen ’ n soort kanker kan beskerm, sal met ope arms verwelkom word. Tog het party ouers ernstige besware teen die MPVentstof waarmee gr. 4-meisies in SuidAfrikaanse staatskole die afgelope paar jaar gratis ingespuit word.
Die menslike papillomavirus (MPV) is die algemeenste oorsaak van servikale kanker en word deur vel-tot-vel-kontak tydens seks oorgedra. Daarom vrees party ouers dat as hul dogters teen dié seksueel oordraagbare siekte ingeënt word dit hulle kan aanmoedig om jonk reeds seksueel aktief te raak. Maar ander ouers stem met die kenners saam dit is ’n belangrike stap in die stryd teen kanker.
Sowat 2 miljoen preadolessente meisies i sin openbare skole landwyd ingeënt sedert die immunisasie program teen MPV in 2014 bekendgestel is. En die departement van gesondheid reken dié program was ’n reusesukses.
Die program is noodsaaklik, meen prof. Michael Herbst, ’n gesondheid spesialis by die Kankerve reniging van Suid-Afrika. “Ons loof die nasionale departemente van gesondheid en basiese onderwys en hoop hulle gaan daarmee voort om elke gr. 4-meisie gratis teen MPV in te ent.”
Die beste ouderdom om die inenting te kry is tussen nege en 12 jaar,” sê prof. Hennie Botha, die hoof van ginekologiese onkologie aan die Universiteit Stellenbosch. “Dit is wanneer die immuunrespons op die entstof die sterkste is,” verduidelik hy.
Servikale kanker is die algemeenste soort kanker onder vroue tussen 15 en 44 jaar. Elke jaar word dit by byna 8 000 Suid-Afrikaanse vroue gediagnoseer – ’n syfer wat kenners meen danksy die M P V-immunisasie program skerp sal daal.
As jou dogter om die een of ander rede nie die entstof in haar gr. 4-jaar by die skool gekry het nie, kan ’n huisdokter dit toedien.
KAN OUER MEISIES EN VROUE OOK INGEËNT WORD?
Daar is geen ouderdomsperk vir inenting nie, sê Hennie. “Maar adolessente en jong volwassenes sal groter voordeel daaruit trek as ouer vroue,” voeg hy by.
Die ideaal is dat die entstof toegedien word voor ’n mens seksueel aktief raak, verduidelik prof. Yasmin Adam, hoofspesialis in verloskunde en ginekologie by die Chris Hani Baragwanath- Akademiese Hospitaal en die Universiteit van die Witwatersrand.
Daar is baie min bewyse dat die entstof werk wanneer ’n vrou reeds aan MPV blootgestel is. “Trouens, die meeste bewyse toon dit werk nie as die vrou reeds ’n MPV-infeksie gehad het nie,” sê Yasmin en voeg by sulke infeksies is taamlik algemeen, met tot 50% van vroue wat dit opdoen. “By die meeste vroue klaar die infeksie op, maar sowat 10% sal letsels op die serviks ontwikkel wat ’n voorloper tot servikale kanker is.”
“Ongelukkig verskaf die staat nie die entstof gratis aan alle vroue nie, maar net aan gr. 4-skoolmeisies,” sê Hennie.
Dit is wel teen sowat R400 per dosis by apteke beskikbaar, en twee of drie dosisse is volgens hom nodig sodat die entstof optimaal werk.
Twee MPV-entstowwe is in Suid-Afrika te kry: Cervarix, wat teen MPV-tipes 16 en 18 beskerm, en Gardasil, wat teen MPV-tipes 16, 18, 6 en 11 beskerm (sien kassie).
WAT VAN SEUNS?
Mans kan ook kanker (soos penis-, anusen keelkanker) weens ’n MPV-infeksie ontwikkel, maar dit is minder algemeen as by vroue, sê Hennie.
“As seuns ingeënt word, beskerm dit hulle én meisies, want dit keer dat die virus tydens seksuele omgang aan hulle oorgedra word. Op die oomblik kry net meisies die entstof gratis in Suid-Afrika, maar party lande, soos Australië, het ’n genderneutrale program waar seuns sowel as meisies ingeënt word.”
Yasmin beaam dat die entstof ook voordele vir seuns inhou, want dit verminder die voorkoms van MPVverwante toestande soos genitale vratte. “Daar was ’n afname in vratte by seuns en meisies wat die entstowwe teen MPV-stamme 6 en 11 ontvang het,” sê sy.
Ouers wat hul tienerseuns wil laat inent, moet hul huisdokter raadpleeg.
IS DAAR NEWE-EFFEKTE?
Soos met die meeste entstowwe wat ingespuit word, het dit sogenoemde “lokale newe-effekte”. “Dit sluit ’n bietjie rooiheid, swelling en pyn in by die plek waar jy ingespuit is, maar dit verdwyn gewoonlik ná ’n paar dae,” sê prof. Gregory Hussey, direkteur van die Vaccines for Africa Initiative by die Universiteit van Kaapstad. Dit word by die boarm ingespuit.
Party mense kla ook oor hoofpyn, spierpyn en moegheid, maar dit verbeter gewoonlik ná ’n dag of twee.
Gregory meen die entstof is veilig en het geen beduidende nadelige uitwerking nie. “Meer as 100 miljoen mense wêreldwyd het al die MPV- entstof ontvang. In uitgebreide kliniese proefnemings is bewys dat dit veilig is.”
Tog het die ouers van ’n 11-jarige Kaapstadse meisie wat ernstige gesondheidsprobleme ontwikkel het kort nadat sy die MPV-entstof gekry het hul bedenkinge hieroor.
’n Maand nadat sy in April 2016 op negejarige ouderdom ingeënt is, het sy oor moegheid en pyn in haar arms, bene en kakebeen begin kla, maar ’n huisdokter het dit as groeipyne afgemaak. Drie maande later het sy ook duiselig geword, en die liggaamspyne was so erg dat sy nie sonder hulp kon loop nie.
Sedertdien was daar weinig verbetering in haar toestand en haar geheue is aangetas. Sy kan nie haar van, huisadres of selfs haar klasmaats op laerskool onthou nie, vertel haar ma in ’n onlangse inskrywing op Facebook. Sy sukkel ook om te lees, skryf en tel.
Verlede November het ’ n opvoedkundige sielkundige bevind die meisie het die kognitiewe vermoë van ’n kind van vier of vyf. Haar ouers soek nou vir haar plek in ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes.
“Ons wil ouers aanmoedig om deeglike navorsing te doen voor enige medikasie of entstof aan hul kinders toegedien word. Ouers moet tydens mediese ingrypings by skole ekstra waaksaam wees,” maan die ma op Facebook.
Dit is “regtig ’n moeilike geval”, sê prof. Pieter Fourie, die pediater wat die meisie behandel het. “Die uitslae van alles waarvoor ons haar getoets het, was negatief. Hulle het steeds geen duidelikheid oor die diagnose nie.”
Die “ongemaklike” ding oor haar toestand, sê Pieter, is dat al haar simptome ná die inenting begin het. “’n Logiese afleiding is dat daar ’n oorsaaklike verband tussen die inenting en die aanvang van die simptome kan wees.
“Teoreties behoort die entstof baie veilig te wees, maar ons weet dat ’n baie klein persentasie kinders wel vreemde reaksies toon.” Dit blyk volgens hom uit inligting wat die vervaardigers van die entstowwe in die pakketinvoegsel daarby verstrek.
Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het die saak ondersoek en bevind die meisie se simptome is nie aan die entstof te wyte nie, sê hul adjunkdirekteur van kommunikasie, Mark van der Heever.
“Die entstof bevat niks wat kanker of ander siektes kan veroorsaak nie,” benadruk hy. BRONNE: WORLD HEALTH ORGANISATION, CANCER ASSOCIATION OF SOUTH AFRICA, IOL