Huisgenoot

DAGGASLAAF KRAP FAMILIE OM

-

Iemand in ons familie gebruik dagga. Wanneer hy nie naby sy verskaffer is nie, raak hy onbeheerba­ar. Ons moes hom onlangs ná slegte gedrag by ’n familiebye­enkoms vra om huis toe te gaan. Hy behandel ons familie en veral sy vrou baie sleg. Toe ek hom hieroor aanspreek, het hy fisiek geraak en ek het in die hospitaal beland. Hy het verskoning gevra, maar ek kry dit nie reg om hom te vergewe nie. Om ons almal se onthalwe sal ek ’n uitweg moet vind. OD op GB Vergifnis is nie goedkoop nie, en dit is selde onvoorwaar­delik. Dit is iets wat ’n mens moet verdien. Om bloot verskoning te vra vir een keer se slegte gedrag is nie naastenby genoeg as hy jul familie deurlopend emosionele skade aandoen nie. As berou opreg uitgespree­k word en die daad by die woord gevoeg word, maak dit vergifnis makliker.

Om nie langer aan die seerkry vas te klou wat dié mens jou en jou familie aangedoen het nie, sal meer as stille vergifnis op jou eie verg. Iemand in jul familie sal met hom moet gaan praat en hom oorreed om na ’n rehabilita­siesentrum te gaan. As hy instem en die proses doelgerig voltooi, sal dit wys hy het werklik berou. Dan sal dit vir jou makliker wees om hom te vergewe.

Intussen kan jy self die proses in jou hart aan die gang sit deur te probeer verstaan waarom vergifnis vir jou so belangrik is. Vir jou, as iemand wat blykbaar groot waarde aan familieban­de heg, is dit dalk omdat jy met ’n vervullend­e lewe wil voortgaan waarby almal in die familie betrek word.

Onvergewen­sgesindhei­d verminder ’n mens se innerlike krag. Om te vergewe is daarom ook ’n manier om sterker in jouself te word en familieban­de te verstewig. Dalk kan hierdie wete jou help om te vergewe.

’n Goeie vertrekpun­t is om nie langer oor die familielid se swak gedrag of die voorval te praat nie en dit ook uit jou gedagtewêr­eld te verban.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa