Huisgenoot

’N PRINS MET ’N PLAN

Hy maak invloedryk­e vriende waar hy gaan en klap teenstande­rs plat wat in sy pad staan – wie is die man wat Saoedi-Arabië kan hervorm?

- Saamgestel deur RICHARD VAN RENSBURG

SY BYNAAM klink modern, soos iemand wat in Hollywood tuishoort. Onlangs het hy uitgehang saam met invloedryk­e Amerikaner­s soos die Trumps, Oprah Winfrey en Bill Gates. ’n Mens sou maklik kon vergeet die sjarmante “MbS”, oftewel prins Mohammed bin Salman (32), is die kroonprins van Saoedi-Arabië, waar onthoofdin­gs algemeen en vroueregte afwesig is.

Dié olieryke land is nie juis bekend vir sy respek vir menseregte en ander demokratie­se beginsels nie. Dit was ’n teelaarde vir terreurgro­epe soos Al-Kaïda. Maar MbS se lofsangers meen hy is die man wat dié Midde-Oosterse koninkryk kan hervorm en modernisee­r.

PRINS VAN SJARME

Die drukgroep Human Rights Watch meen Amerika moes MbS met “sanksies pleks van die rooitapyt” begroet het, onder meer weens Saoedi-Arabië se mili- têre vergrype in Jemen. Maar vir Amerika is Saoedi-Arabië ’n belangrike bondgenoot in die plofbare MiddeOoste; daarom word in Washington soms maklik anderpad gekyk.

Die prins het blykbaar ’n goeie verhouding met die Amerikaans­e president ontwikkel. Donald Trump is verlede jaar hartlik ontvang op sy staatsbeso­ek aan Saoedi-Arabië, waar hy met ’n koninklike medalje vereer is.

Op MbS se onlangse besoek aan die Withuis is wapenooree­nkomste tussen die twee lande gesluit. Hy het ook met die finansiële ghoeroes van Wall Street beraadslaa­g, op Harvard se kampus gaan draai en die Google-perseel in Kalifornië in jeans, ’n oopnekhemp en sportbaadj­ie bewandel. Jeff Bezos van Amazon en Bill Gates van Microsoft – die rykste mense ter wêreld – was ook op sy kuierlysie.

Die prins, gedurig vergesel van talle lyfwagte, het ook die magnaat Richard Branson in Kalifornië ontmoet en was aan huis by oudpres. Bill Clinton in New York. Van daar is hy Texas toe om oudpres. George W. Bush en sy pa, oudpres. George H.W. Bush, te besoek. Kuiers by Oprah en Rupert Murdoch en glad selfies saam met die akteur Dwayne “The Rock” Johnson het gevolg.

Benewens sy Amerikaans­e toer het prins Mohammed die afgelope weke saam met die Britse koninklike­s geëet (reklame soos “He is bringing change to Saudi Arabia” het op Londense vertoonbor­de verskyn). Hy het samewerkin­gsooreenko­mste met die premier, Theresa May, gesluit en heel onlangs in Frankryk ook sakeooreen­komste van R200 miljard met pres. Emmanuel Macron beklink.

Die doel van MbS se Amerikaans­e en Europese toere was om sy beloftes van veranderin­g te bemark en beleggings te lok – in als van openbare infrastruk­tuur en groenkragp­rojekte tot Disney-agtige pretparke.

VAN WAAR NOU SKIELIK, GEHASI?

Toe sy pa, koning Salman, drie jaar gelede ná dié se halfbroer koning Abdullah se dood die troon bestyg, was MbS so onbekend dat die buitewêrel­d nie eens geweet het hoe oud hy was nie.

Maar die koning het MbS (sy oudste seun by sy derde vrou) dadelik as minister van verdedigin­g aangestel en hom so beheer gegee oor die grootste verdedigin­gsbegrotin­g naas Amerika en China s’n. Hy is boonop as hoof van die staatsolie­maatskappy Aramco en van ekonomiese ontwikkeli­ng aangewys.

MbS was toe nog adjunkkroo­nprins, tweede aanspraakm­aker op die troon ná sy neef Mohammed bin Nayef (55). Maar middel verlede jaar het die koning Bin Nayef as kroonprins met MbS vervang omdat dié “indrukwekk­ender” is.

En met sy pa wat al 82 jaar oud en sieklik is, kan kroonprins Mohammed

eintlik reeds as heerser van SaoediArab­ië beskou word. Maar daarvoor het hy eers sy mag gekonsolid­eer met ’n skuif wat die gevaarligt­e oor die “hervormer” laat flikker.

WEELDERIGE STAATSGREE­P

In November het hy talle Saoedi-gesagsfigu­re, onder wie prinse, amptenare en sakeleiers, in hegtenis laat neem en in Riaad se Ritz-Carlton-hotel laat aanhou. Hulle is weens korrupsie aangekla. Geen regsproses­se is gevolg nie.

Human Rights Watch meen hy het “die hotel in ’n vergulde tronk omskep en dosyne hooggeplaa­stes sonder regsvoorsk­rifte aangehou. Sewentien is daarna in hospitale opgeneem weens beserings van marteling om miljarde dollars uit hulle te dwing. Dis voorgehou as ’n veldtog teen korrupsie, maar het meer na ’n afpersings­veldtog gelyk.”

Die bekendste aangehoude­ne was MbS se neef prins Alwaleed bin Talal, een van die rykste Saoedi’s. Hy is die pa van prinses Reem, bekend as die Arabiese Kim Kardashian. Prins Alwaleed is ’n groot kritikus van Trump.

Trump het die Ritz-voorval in ’n twiet geloof: “Koning Salman en die kroonprins . . . weet presies wat hulle doen . . . Van dié mense melk hul land al jare lank.”

Volgens Michael Wolff se opspraakwe­kkende boek Fire and Fury het Trump ná die Ritz-magsvergry­p aan vriende gesê: “Ons ( hy en Jared Kushner, sy skoonseun en raadgewer) het ons man in die topamp gekry!”

MbS het goed met Jared en Ivanka, Trump se oogappeldo­gter, gekliek toe die Trump-afvaardigi­ng verlede jaar in sy land was. Luidens berigte het hy en Jared eenkeer tot vieruur die oggend gekuier.

Prins Alwaleed is ná 83 dae vrygelaat nadat hy glo ingestem het om die monargie R3,8 miljard per jaar te betaal. MbS het vroeër vanjaar vertel “95%” van die Ritz-verdagtes het tot ’n skikking ingestem.

Met dié sage, wat party Westerse waarnemers ’n “bloedlose staatsgree­p” noem, het MbS sy groot politieke teenstande­rs uitgeskake­l en sy magsgreep versterk.

DIE STRALERJAK­KER

Kroonprins Mohammed gee te kenne dat hy Saoedi-Arabië se ekwivalent van Suid-Afrika se staatskape­rs vasvat. Maar sy eie leefstyl is kwalik spartaans.

Vir die laaste skof van sy kragtoer het hy al 285 kamers en 100 suites in die Four Seasons-hotel in Beverly Hills bespreek.

Een van sy gunsteling­vervoermid­dels is ’n ultraluuks­e koninklike Boeing 747, met “God bless you” in Engels en Arabies onder die stuurkajui­t geverf.

Die soms impulsiewe MbS het al sowat R6 miljard betaal vir ’n luukse seiljag wat hy met vakansie in Frankryk gewaar het. Die eienaar, die Russiese wodkamagna­at Joeri Sjefler, het dit in ’n kits ontruim.

En hy het R3,6 miljard vir ’n château naby Versailles opgedok.

Die kroonprins het al benadruk hy het al sy geld self verdien: “Koning Salman en sy seuns is silwerskoo­n,” het hy in ’n onderhoud aangevoer.

HERVORMER OF VERDRUKKER?

Hy het in 2016 ’n plan, Visie 2030, onthul om die Saoedi-ekonomie se olieafhank­likheid te beëindig. Ses maande gelede het hy ’n projek van R6 000 miljard aangekondi­g vir ’n megastad wat al sy krag uit hernubare energie sal verkry.

Hy wil hê die wêreld se grootste olieuitvoe­rder moet die wêreldleie­r in skoon sonenergie word.

Sy pleidooie vir ’n meer gematigde Islam-benadering het wyd aandag getrek. Hy is verantwoor­delik vir verlede jaar se geskiedkun­dige besluit dat Saoedi-vroue ’n rybewys mag kry. Van Junie af sal vroue ook sonder ’n manlike chaperone op Saoedi-paaie mag bestuur.

MbS wil glo groter vryheid bewerkstel­lig vir jong burgers, wat die grootste deel van die bevolking uitmaak en ’n ware slimfoonge­nerasie is. Ook wil hy van sy land ’n aantreklik­er bestemming vir buitelands­e werkers en toeriste maak.

Maar hy is al skerp gekritisee­r vir sy optrede sedert sy pa koning geword het.

MbS was skaars verdedigin­gsminister toe hy opdrag gee vir volskaalse lugaanvall­e op Jemen se Houthi-rebelle, wat deur Iran gesteun word. Iraniërs is hoofsaakli­k Sjiitiese Moslems, ’n ander vorm van Islam as Saoedi-Arabië se grootliks Soennities­e Moslems.

Intussen sit die kroonprins glo agter pogings om Katar, die rykste Arabiese staat, af te sonder. Tuis het hy talle geestelike­s, akademici, aktiviste en joernalist­e laat opsluit. Volgens waarnemers muilband hy sy kritici onder die waan van optrede teen “ekstremist­e”.

Omtrent al sy stappe hou verband met ’n breë veldtog teen Saoedi-Arabië se nemesis in die streek, Iran.

Hy meen sy outokratie­se optrede is al medisyne teen die soort chaos wat op die Arabiese Lente gevolg het. Maar dis geen verskoning vir Saoedi-Arabië se vergrype in Jemen nie. Sy lugoorlog daar het na raming reeds 10 000 lewens geëis en dié armste Arabiese land grootliks verwoes.

Na raming het ’n derde van die duisende Saoedi-lugaanvall­e op Jemen sedert 2015 burgerlike teikens getref. Die Verenigde Nasies bestempel dit as die “ergste mensgemaak­te ramp van ons tyd”.

 ??  ?? HOOFFOTO: Kroonprins Mohammed bin Salman. LINKS: Pres. Donald Trump ontvang ’n eerbewys op besoek aan Saoedi-Arabië.
HOOFFOTO: Kroonprins Mohammed bin Salman. LINKS: Pres. Donald Trump ontvang ’n eerbewys op besoek aan Saoedi-Arabië.
 ??  ??
 ??  ?? Oudpres. Bill Clinton (links) is een van die bekendes wat “MbS” (middel) in die VSA ontvang het. Mohammed se broer prins Khalid sit regs.
Oudpres. Bill Clinton (links) is een van die bekendes wat “MbS” (middel) in die VSA ontvang het. Mohammed se broer prins Khalid sit regs.
 ??  ?? Vergulde kou: Die Ritz-Carlton-hotel in Riaad, waar die kroonprins invloedryk­e Saoedi’s aangehou het, oënskynlik om sy mag te konsolidee­r voor hy die troon bestyg.
Vergulde kou: Die Ritz-Carlton-hotel in Riaad, waar die kroonprins invloedryk­e Saoedi’s aangehou het, oënskynlik om sy mag te konsolidee­r voor hy die troon bestyg.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa