’n Leser dink verlangend terug aan haar heerlike, sorgelose kinderdae
IEMAND vra onlangs ’n vraag op Facebook: “Wat onthou jy van jou jong dae waarvan vandag se jeug nie weet nie?”
Gits, ek het skoon nostalgies geraak. Ek onthou hoe ek, my ousus en boeties elke Saterdag in die tuin vir ons sakgeld moes werk. Vir die dag se arbeid het ons ’n blink 15c-stuk verdien. Dit het jou sommer skatryk laat voel. Jy kon koeldrank, skyfies en Wilson-toffies daarmee koop.
In daardie jare was daar nie plastieksakke vir tuinvullis nie. My pa het groot sigaretbokse by die Griekse kafee op die hoek gekry waarin ons die gras en blare moes gooi. Later het die 15c-stuk ’n 20c-stuk geword waarmee jy ’n Pikkie-kondensmelk kon koop – ’n soet lekkerte wat jy uit ’n vierkantige pakkie kon suig.
Sondae het ons kerk toe gegaan en daarna het ma die tafel vir middagete gedek. Dan het ons aan die heerlikste oondvleis, soetpatat, rys, kool en poeding weggelê. Ons het saam skottelgoed gewas en moes dan elke Sondagmiddag vir ’n uur gaan lê voor ons buite kon speel of swem.
Daar was nie ’n TV nie – ons het Springbok Radio geluister. Ons was kinders en te jonk om te verstaan waaroor politiek en apartheid gaan. Ons was sorgeloos, gelukkig en bruingebrand in die somer. In die winter is ons sommer met boererate reg gedokter.
Ma het al ons klere self gemaak en dit was vir ons so mooi. Ons het klere gehad wat niemand anders gehad het nie. Nou is ons oud en tegnologie neem ons kleinkinders se lewe oor.
Ai, maar dit was lekker om weer ’n slag aan die ou dae terug te dink. Ek mis dit tog so baie. EMSIE, SASOLBURG