Akteur terug van VSA ná bloutjies
Frank Rautenbach het sy heil in Amerika gaan soek, maar sy mooiste drome is daar verydel. Uit dié beproewing het hy vele lesse geleer Deur PIETER VAN ZYL
’NMENS herken hom dadelik as ’n destydse stoutseun van 7de Laan, Tiaan Terreblanche. Al speel ’n grys haar plek-plek wegkruipertjie in sy hare en verskyn lagplooitjies om sy seeblou oë, is Frank Rautenbach op 45 nog net so aantreklik as toe ons hom in Hillside gesien het.
’n Mens sou maklik kon dink die lewe het hom goed behandel sedert hy die Laan en later ook Suid-Afrika verlaat het om sy heil in Hollywood te soek, maar vir hom het die Stad van Drome in ’n nagmerrie ontaard. Daar moes hy om den brode werk as opsigter by ’n kerk en as huurmotorbestuurder.
“Die Here het toegelaat dat deure vir my toegaan sodat ek my eie hart kon sien. Hy het nou ander deure vir my oopgemaak,” sê die diep gelowige akteur wat Angus Buchan in die fliek Faith Like Potatoes gespeel het.
Hy het twee maande gelede uit Amerika teruggekeer en is vir die eerste keer in nege jaar terug voor die TV-kameras. Hy speel die bankier Leonard Patterson in die Amerikaanse reeks Warrior, wat nou in die Kaap verfilm word. Op sy Instagram en Twitter vier Frank dit met die hutsfrase #backinthegame.
Daarby het hy en sy fotograafvrou, Leigh (47), werk gekry by ’n nuwe aanlyn Christelike TV- kanaal, RoepTV. Frank sal onder meer in ’n drama speel wat nog ’n naam moet kry – en dit in sy moedertaal, waarvoor hy so lief is.
Hy tree ook op as een van die kanaal se ambassadeurs, vertel hy in ’n koffierestaurant in die Tygervallei-sentrum in Bellville. Dis ’n hanetree van die ateljeehuis van waar RoepTV van September af sal uitsaai en waar Frank en Leigh nou op die boonste vlak woon. “Ons rol sommer uit die bed werk toe,” skerts hy.
Wanneer hy Afrikaans praat, is dit sonder ’n aksent, maar sy Engels se r’e rol soms op die Amerikaanse manier swaar van sy tong af.
“Ek het baie belê in spraak- en dramaklasse om my aksent vir flieks reg te kry.” Dit het hom tot R2 500 per uur uit die sak gejaag, vertel Frank, wat voor sy vertrek uit Suid- Afrika ook te sien was in flieks soos Hansie: A True Story, waarin hy die gevalle krieketheld Hansie Cronjé gespeel het, en The Bang Bang Club. Daarin was hy die persfotograaf Ken Oosterbroek, wat in die spervuur doodgeskiet is terwyl hy kort voor SuidAfrika se eerste demokratiese verkiesing foto’s van ’n skermutseling geneem het.
In 2006 is Frank vol verwagtings vir die eerste keer Amerika toe om sy groen kaart te gaan haal; in 2008 het hy en Leigh soontoe getrek. Daar het hy vergeefs oor die 10 000 km afgelê agter oudisies, afrigters, agente en rolle aan.
Die keerpunt vir hom was al op ’n koue Novembernag in 2011 toe hy wakker skrik en ’n paniekaanval kry saam met die skokbesef dat sy mooiste drome
toe nie waar geword het nie.
’n Jaar tevore is sy pa, Johann, ’n dokter, op 69 aan pankreaskanker dood en in dieselfde tyd het Leigh haar vierde miskraam gehad. Daarna het die egpaar, wat in 1996 getroud is, al hul energie in hul werk gestort.
Maar in daardie donkerste tyd het die lig eindelik weer deurgebreek. “Ek het God probeer wys wat die fliek van my lewe is, maar Hy het die kamera geflip en vir my die fliek uit sý oogpunt gewys. En dit was nie ’n mooi prentjie nie.”
Hy verduidelik hy het hom so op sy loopbaan togespits dat hy sy verhouding met die Here en met sy vrou afgeskeep het. Dan haal hy ’n R100-noot uit sy sak. “Dit het nie ’n hart, ore, mond, deernis nie,” sê hy. “As jy geld aanbid, word jy net soos daai geld: Jy verloor jou menslikheid. Maar hoe meer jy God aanbid, hoe meer mens word jy.”
SY LEWENSVERHAAL was ’n suksesstorie tot sy hoop op Hollywood- sukses wreed verydel is. Nadat Frank aan die spogseunskool Selbornekollege in Oos-Londen gematrikuleer het, het hy in 1991 en 1992 klubrugby in Frankryk gespeel.
Daarna het hy aan ’n Bybelkollege in die Britse hoofstad, Londen, studeer.
In 1994 het hy na Kaapstad teruggekeer en ’n B.Com.-graad aan Unisa verwerf. Tussendeur het hy sy lyf model gehou in TV-advertensies. Dit het daartoe gelei dat hy in 2000 ’n rol in 7de Laan losgeslaan het. Dit was die begin van ’n loopbaan as akteur wat hom van die kassie na die silwerdoek geneem het.
Kort ná sy aankoms in Amerika het dit gelyk asof die droom om in die Glinsterstad naam te maak binne sy be- reik was. ’n Agent was so beïndruk met sy spel in The Bang Bang Club dat hy opgewonde rondgevra het: “Wie de f** is hierdie man?” Toe nader hy Frank en vra of hy hom kan verteenwoordig.
Die vooruitsigte het belowend gelyk toe hy die tweede ronde oudisies vir die rol van Superman haal. Maar in ’n stad met duisende hoopvolle, werklose ateurs het die rolle hom bly ontwyk.
Ná twee jaar by een van die mees gerespekteerde agentskappe in Hollywood het Frank by hulle navraag gedoen oor oudisies vir rolle in nuwe TV-reekse. “Ons verteenwoordig jou van verlede jaar af nie meer nie,” moes hy hoor by die agent wat hy eens as ’n vriend beskou het. “Die reeks Entourage is op hom geskoei,” vertel Frank.
“Nes in roulette het ek alles op die spel geplaas,” sê hy oor sy besluit om sy geluk in Amerika te beproef. “Ek het my huis in Johannesburg verkoop; ons het ons motors en ons loopbane agtergelaat om Hollywood toe te gaan. Toe verloor ek als: my geskiedenis, kredietwaardigheid, netwerke en reputasie.”
Terwyl hy tussen 2012 en 2014 eers ’n huurmotor en later ’n Uber-limousine bestuur het, was hy 10 tot 12 uur per dag agter die stuur om ’n minimum loon te verdien, sonder enige vakansies. Vir ’n seun uit ’n gegoede huis waar hulle Sondae “drie soorte vleis op die tafel gehad” en elke jaar met vakansie gegaan het, was dit ’n groot aanpassing.
Maar daaruit het hy geleer: “Jou redding lê in jou gevangenis. Ek was vasgevang in daardie motor en het baie tyd gehad om na te dink.
“Ek het duisende mense rondgery; alle soorte van nasty to nice. Ek het na hul stories geluister, saam met van hulle gebid, hul tasse help dra, huis toe bestuur wanneer hulle dronk was . . . Daar het die Here my geleer om mense te dien – hul voete te was – en te leer liefkry sonder om te oordeel.”
In 2015 het hy werk gekry as opsigter van ’n drieverdiepingkerkgebou in Santa Monica. “Ek was verantwoordelik vir 2 250 m² en 16 toilette.” Oor dié werk sê hy: “Jesus het soveel meer vir ons gedoen en oneindig meer opgeoffer.”
Frank het in dié tyd aan sy memoires begin skryf, wat hy hoop eersdaags gepubliseer sal word. Toe hy die land vroeër vanjaar besoek om op ’n bootvaart op te tree, het ’n vriend hom vertel van die Kaapse oudisies vir Warrior.
Terselfdertyd het die mense van RoepTV hom en sy vrou elkeen ’n kontrak aangebied. Benewens toneelspeel sal hy ook as vervaardiger vir hulle werk en met draaiboeke help. Leigh sal hoofsaaklik as vervaardiger werk.
Hy wil graag ’n voet op albei vastelande hou en moontlikhede hier en in Amerika bly verken, sê hy. “Dis wonderlik om terug te wees in Suid-Afrika,” voeg hy by. “Ek voel weer soos toe ek sewe jaar oud was en saam met my beste maats gespeel het. Om weer rolle te vertolk voel vir my soos om in ’n speelgoedboks te speel.”
‘As jy geld aanbid, word jy net soos daai geld: Jy verloor jou menslikheid’