Huisgenoot

Slimfoon dalk oorsaak van jou skete

As jy baie tyd op jou slimfoon bestee, kan dit verskillen­de dele van jou liggaam knou. Hier’s maniere waarop jy kan keer dat jou toestel vir jou ’n las word

- Deur LINDSAY DE FREITAS

JY HET moontlik nog nooit van “slimfoondu­im” of “tekshand” gehoor nie, want dit word nie amptelik as mediese toestande erken nie. Maar as jy op jou slimfoon boer, is dit dalk die oorsaak van daardie pyne wat jy ervaar. Ál meer mense word vir foonverwan­te skete en kwale behandel omdat hulle gedurig boodskappe tik, met dieselfde handbewegi­ng oor die skerm vee of na die skerm staar, sê dokters en fisioterap­eute. En hoe erger jou slimfoonve­rslawing, hoe groter die stremming op jou liggaam.

Wat is die algemeenst­e skermskete waarmee fisioterap­eute en dokters deesdae te doen kry? En wat kan jy doen om die eise aan jou liggaam te verlig?

Sit gou jou foon neer en lees eers hier.

SEER OË

Deesdae raak rekenaarvi­siesindroo­m (droë, seer en jeukerige oë) nie net mense wat heeldag voor ’n rekenaar werk nie. Skerms het so ’n groot deel van ons lewe geword dat jy waarskynli­k ’n paar uur per dag na een kyk.

Gelukkig is daar nog geen bewyse dat lang sessies voor die skerm jou sig- of ooggesondh­eid op lang termyn beïnvloed nie, sê dr. Joshua Dunaief, ’n professor in oogheelkun­de aan die Universite­it van Pennsilvan­ië. Dis eerder korttermyn­simptome (hoof- en oogpyn en droë oë) wat die probleem is.

Navorsing toon baie mense ly aan fisieke ongemak nadat hulle so min as twee uur na ’n digitale toestel gestaar het. En volgens die oogkundety­dskrif Optometry Times bestee tot 28% van die wêreldbevo­lking sowat 10 uur per dag voor ’n digitale skerm.

As jy op ’n rekenaar werk, kyk jy waarskynli­k ’n paar uur ononderbro­ke na ’n skerm sonder om jou oë gereeld en genoeg te knip.

Dit veroorsaak wasige visie, hoofpyn en algemene oogstremmi­ng. “Dit is veral die geval as jy in die eerste plek onbehandel­de sigproblem­e het,” sê Nicole Levy, ’n oogkundige van Johannesbu­rg.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa