Bestuur velpigmentasie so
Velpigmentasie kan jou selfbeeld lelik knou, maar dit kan bestuur word
TOE sy vir die eerste keer die donker merkie reg bo haar lip opmerk, byna 10 jaar gelede, het sy gedink dis donker gesighaartjies. Dimi Ingle (36) het haar bolip gewaks, maar vergeefs. “Dit het dinge net vererger. Ek het nogal aggressief tekere gegaan en die meeste van my vel afgetrek,” onthou die leefstyl-, mode- en skoonheidsblogger van Johannesburg.
Toe die waks nie haar probleem oplos nie, het sy by ’n dermatoloog gaan aanklop. Hy het haar meegedeel die donker skakering is eintlik die verkleuring van haar vel, ook bekend as pigmentasie, daardie algemene probleem wat soveel vroue skaam en gefrustreerd laat voel.
“Hy het vir my twee middels voorgeskryf: ’n velverhelderingspigmentasiejel en ’ n farmaseutiese produk wat hidrokinoon, ’n bleikmiddel, bevat. Hy het my aangemoedig om altyd ’n sonroom met ’n SBF van 100 te gebruik, wat ek getrou gedoen het, of ek in die son was of nie.”
Drie maande later was die vlekke bo haar lip heeltemal weg. “Ek was in die wolke,” vertel Dimi.
Maar twee jaar later het sy weer ’n onegalige velkleur op haar voorkop en wange opgemerk. “Dit was eers so lig dat dit my nie gepla het nie. Maar dit het naderhand erger geraak.”
Sy is weer dermatoloog toe. “Hy het vir my dieselfde hidrokinoonroom gegee en ook ’n mikroafskilferingprosedure probeer. Dié keer het niks gewerk nie.”
Die dokter het Dimi meegedeel haar pigmentasie word deur hormone veroorsaak. Die toestand staan bekend as melasma, en sy moes aanvaar dit is iets waarmee sy moet saamleef.
Maar dit het haar selfbeeld ’n knou gegee, vertel sy. “Dis die eerste ding wat ek raaksien wanneer ek in die spieël kyk.
“Ek het eers werklik selfbewus geraak toe ’n kollega op ’n dag tydens ’n gesprek heeltyd na my voorkop staar. Ek het agterna my gesig probeer afvee omdat sy gedink het dit is vuil.”
Dimi was later op moedverloor se vlakte omdat haar soeke na ’n oplossing haar deur die jare baie geld begin kos het.
Twee jaar gelede het sy behandeling met ’n fraksionele laserstraal by ’n velsorgkliniek probeer. Tydens dié behandeling word ’n aantal klein laserstraaltjies op ’n probleemarea gefokus om mikrowonde te veroorsaak en so ’n paar lae vel af te skilfer. Dit stimuleer die liggaam se natuurlike helingsproses, en die ou, beskadigde selle word met nuwes vervang.
“Dit het tot nou seker die beste gewerk, selfs al het dit nie die pigmentasie heeltemal verwyder nie,” sê sy. “Ná twee sessies was die vlekke heelwat ligter. Ek kon weer sonder grimering rondloop sonder dat mense my vlekke sien. “’n Mens raak so angstig om van die vlekke ontslae te raak dat jy nie besef hoe selfs ’n effense verligting daarvan jou selfbeeld ’n hupstoot kan gee nie.” Dimi bestuur nou haar melasma deur altyd die regte sonskerm vir haar vel te gebruik. Sy drink ook aanvullings soos vitamien B, wat velgesondheid bevorder.
WAT IS PIGMENTASIE?
“Pigmentasie verwys na die donker verkleuring van die vel,” sê dr. Suretha Kannenberg, ’n dermatoloog aan die Universiteit Stellenbosch. Die toestand het verskillende oorsake en kan gewoonlik enige tyd ná puberteit ontwikkel. “Hoewel dit algemener by vroue is, kan mans dit ook kry.”
Pigmentasie kom meestal op die gesig voor weens baie sonblootstelling, sê dr. Maureen Allem, ’n arts en stigter van die Renewal Institute, waaronder die este-
tiese kliniekgroep Skin Renewal val.
“Jou velkleur word deur jou gene bepaal en die pigment in jou vel word as jou velkleur gesien,” sê sy. “Wanneer ons van pigmentasie in die vorm van sonvlekke of donker kolle praat, verwys ons eintlik na ‘ hiperpigmentasie’, wat beteken dat daar te veel pigment in ’n sekere plek gevorm het.”
VERSKILLENDE SOORTE PIGMENTASIE
“Daar is verskillende soorte pigmentasie; voor jy die probleem kan oplos, moet jy weet waarmee jy te doen het,” sê Maureen.
Die drie algemeenste soorte is postinflammatoriese hiperpigmentasie, melasma en hipopigmentasie.
Postinflammatoriese hiperpigmentasie ontwikkel weens enige besering aan die vel, sê Suretha.
“Van buite, byvoorbeeld met brandwonde of insekbyte, of van binne, deur puisies of siektes,” verduidelik sy. “Dit veroorsaak dat die pigment in dieper vellae gaan sit en byna soos ’n tatoeëermerk onder die vel lê.”
Melasma kom gewoonlik onder vroue met ’n donkerder veltoon voor en behels donker kolle, dikwels aan die bolip, wange en voorkop, sê dr. Ian Webster, ’n dermatoloog van Kaapstad en eienaar van die aanlyn winkel Dermastore. “Die algemeenste oorsake hiervan is voorbehoedpille, swangerskap en sonlig.”
“Hoe ouer ons word, hoe meer kom die sonskade van ons jeug na die veloppervlak,” sê Maureen. “Een slegte geval van sonbrand kan tot die toestand bydra.” Die skade wat jy as kind opgedoen het, kan eers jare later sigbaar raak.
Volgens Suretha kan genetika ook tot melasma bydra, maar vir vroue begin dit dikwels met swangerskap. “Dit word nie verniet die ‘masker van swangerskap’ genoem nie. Maar dit klaar ongelukkig nie noodwendig ná swangerskap op nie,” sê sy.
Hipopigmentasie verwys na die verlies van pigment in die vel, wat wit spikkels tot gevolg het. “Dit het verskillende oorsake, soos sonskade, sekere siektes of beserings,” sê Maureen. “Daarom is dit beter om in dié geval eerder ’n dokter te besoek om vas te stel of dit behandel kan word.”
BEHANDELING
Daar is verskillende pigmentasieverligtingsprodukte wat kan help, sê Ian. Hidrokinoonaansmeermiddels, oftewel bleikmiddels, is net met ’n voorskrif te kry. Suretha waarsku dié produkte moet volgens streng riglyne gebruik word. “As dit ongekontroleerd gebruik word, is daar ’n risiko om kosmetiese okronose te ontwikkel, ’n baie erger en permanente vorm van pigmentasie,” sê sy.
Postinflammatoriese hiperpigmentasie kan taamlik maklik behandel word met onder meer chemiese afskilferings en transdermale mesoterapie by ’n dermatoloog of velsorgkliniek, sê Maureen. Tydens transdermale mesoterapie word ’n toestel wat drukking op jou vel plaas, gebruik om spesifieke aktiewe bestanddele in jou vel in te sit en die pigmentasievlekke af te breek en minder sigbaar te maak.
Ook pigmentasie wat deur die son veroorsaak word, kan met onder meer laserbehandeling en chemiese afskilferings by ’n dermatoloog of velsorgkliniek behandel word. Dié prosedures help selvernuwing bespoedig en die donker pigmente vernietig.
“Melasma is een van die moeilikste soorte pigmentasie om te behandel omdat daar aar verskeie oorsake is. Ongelukkig is dit t soos ’n siektetoestand wat jy moet bestuur stuur en monitor, anders is die kans goed ed dat dit terugkeer,” sê Maureen. n.
Raadpleeg leeg ’n dokter eerder vroeër as s later, is Ian se raad.
“As die e pigmentasie meer onlangs nlangs ontstaan het t en in die epidermis mis (die bolaag van die vel) is, kan dit met behulp ulp van ’n verligtingsgtingsroom en n goeie sonskerm m heelt emal ver- ver - dwyn,” sê Ian. “Maar hoe langer dit al daar is, hoe dieper gaan dit in die vel in, en dan sal behandeling dit dalk net effens verlig, maar nie heeltemal verwyder nie.”
TREE VOORKOMEND OP
Beskerming teen die son is die belangrikste, sê Suretha: “Bly uit die son, veral tussen tienuur die oggend en tweeuur die middag, gebruik ’n goeie sonskerm en dra ’n hoed.
“Sonskerm werk net as jy dit reg aanwend. Dit beteken jy moet die hoogste beskermingsfaktor dra (SBF 50+), die produk moet ultraviolet A-beskerming bied en jy moet elke twee uur voldoende hoeveelhede aanwend.”
Ian maan ook mense met puisies moenie daaraan druk of krap nie, want die merke kan later tot postinflammatoriese pigmentasie lei. “Kry die regte behandeling om aknee te verminder en dra steeds ’n goeie sonskerm wat reg is vir jou veltipe.”