‘ ’N MOORDENAAR? NIE DIÉ MARINDA’
’n Eksman van een van die Krugersdorp- moordbeskuldigdes vertel van haar gedaantewisseling ná hul huwelik en van haar kinders wat hy glo die slagoffers van boosheid is
DIE vrou op die foto lyk sag en stylvol in ’ n wit geborduurde bloes. Haar hare is in ’ n elegante kapsel gesny, haar grimering keurig en haar glimlag oop en warm. “Dié vrou het gehuil wanneer jy te hard met haar gepraat het,” sê Marcus Koekemoer. “Sy sou nie die
gehad het om te moor nie.” Maar die staat beweer sy hét. Die goed versorgde vrou op die foto is niemand anders nie as ’ n veel jonger Marinda Steyn.
Dis die Marinda wat nou saam met haar kinders, Le Roux en Marcel, in die opspraak wekkende Krugersdorpmoordsaak teregstaan. Die vermeende moordkliek waarvan hulle glo deel was, het tussen 2012 en 2016 na bewering 11 mense vermoor.
Marinda is Marcus se eksvrou. Hy kyk verstom na die foto van sy eks. Die Marinda op dié foto van 12 jaar gelede lyk inderdaad glad nie soos die Marinda wat glo vir die moorde verantwoordelik was nie.
Toe Marinda in Augustus 2016 weens die moorde in hegtenis geneem is, was haar donker hare, sag en blink op die foto op Markus se koffietafel, stomp afgeknip. Die netjiese grimering het plek gemaak vir tatoes aan haar nek, arms, hande en vingers.
“Dit was ’n helse skok,” vertel Marcus oor die dag toe sy huidige vrou hom die nuus oor sy eks vertel.
Intussen het die vrou met wie hy destyds drie jaar getroud was nog ’n gedaantewisseling in Johannesburg se Sun City-tronk, haar tuiste van die afgelope jaar en ’n half, ondergaan.
In haar jongste hofverskyning het sy ’n skouerlengte-haredos gehad. Maar op 51 is haar hare nou grys en droog, anders as die 39-jarige Marinda van destyds se glansende kapsel met die windmakerige kuif.
Marcus en Marinda was voor hul ontmoeting albei voorheen getroud, en soos sy het hy twee kinders uit sy eerste huwelik gehad. Ná hul blitsromanse en troue in 2003 het hulle almal as een gesin saamgewoon.
Hulle het nie saam kinders gehad voor hulle in 2006 geskei is nie.
Marcus onthou Le Roux (nou 22) as “stil en teruggetrokke, met sulke pokkelwangetjies”. Hy onthou Marcel (nou 20) se “borrelende persoonlikheid en glimlag”. Dit is vir hom onmoontlik om te dink dié twee kinders van sy eks sou sulke grudade kon pleeg. “Marcel en Le Roux is beslis nie natural
born killers nie. Ek glo hulle is die ongelukkige slagoffers, die produk van (iemand) wat hulle so gemaak het. En nou moet hulle duur daarvoor betaal,” sê hy. “Geen mens kan durf om hulle te oordeel nie. Marcel en Le Roux is slagoffers van boosheid.”
Die sibbes was reeds in aanhouding weens hul beweerde aandeel in die Krugersdorp-afspraakmoorde toe hul ma ook deur die polisie aangekeer is. Kort voor haar inhegtenisneming het Marinda in ’n onderhoud aan Huisgenoot gesê: “Bid asseblief vir my kinders.” “Daaroor was Marinda reg,” sê Marcus. Maar bid vir die Marinda in die beskuldigdebank? Nee, nie hy nie.
SOOS ’n waaier lê die hand vol foto’s op die koffietafel voor Marcus oopgesprei. Dit spreek van gelukkiger dae. Daardie jonger, goed versorgde Marinda van weleer poseer op talle foto’s saam met haar kinders. Sy
lyk liefdevol en beskermend.
“Sy is van die een extreme na die ander,” sê Marcus oor haar voorkoms. “Sy het destyds so goed na haarself gekyk. Sy was byna elke Saterdag in die salon om haar hare en naels te laat doen en was bitter selde sonder grimering.”
Op hul troufoto’s hang haar lang kuif skeef oor haar voorkop en glimlag sy breed.
Hulle het mekaar in 2003 ontmoet by die versekeringsmaatskappy in Midrand waar hulle gewerk het. Albei was geskei.
“Ons het albei gerook en het so begin gesels en vriende geword. Ons het maklik gekliek en oor en weer begin gekuier. Marinda was regtig ’n nice mens; sy het
prim en proper grootgeword.” Die vriendskap het vinnig in ’n verhouding ontwikkel en binne ses maande was hulle getroud. Eers het net Le Roux (toe 9) en Marcel (7) by die nuwe paartjie gewoon. Vroeg in hul huwelik het Marinda by ’n hoërskool in Witpoortjie aan die Wes-Rand ’n leerkrag geword.
Nadat Marcus se eerste vrou haar eie lewe geneem het, het sy seun (toe 7) en dogter (toe 11) ook by hulle ingetrek. “Al die kinders het in Oktober verjaar,” vertel hy met ’n halwe glimlag.
Maar Marcus se tienerdogter en haar stiefma het gou begin koppe stamp.
“Wanneer ek smiddags by die huis gekom het, het Marinda dikwels sit en huil. Wanneer ek gevra het wat fout is, het sy vertel sy en my dogter het baklei.”
Later het dit so erg geword dat sy dogter smiddags ná skool na ’n vriendin se huis gegaan het, waar Marcus haar ná werk opgelaai het. “Dit was asof sy (Marinda) jaloers was op my dogter. Sy het nie daarvan gehou as ek my dogter vashou of soen nie.”
Op ’n dag in 2006 het Marinda voorgestel Marcus plaas sy dogter in die skoolkoshuis. “Ek het geweier. Marinda wou nie langer onder dieselfde dak as my dogter bly nie.” Nie lank daarna nie is hulle geskei.
Hy het steeds ’ n sagte plekkie vir Marinda se kinders. “Marcel was so ’n oulike kind, so ’n smiling poppie. En Le Roux was altyd ’n sagte kind. Hulle was soos sterretjies in die huis.”
Sowat ’n jaar ná hul egskeiding het hy Marinda eendag by die skool gesien waar albei se kinders steeds was. Haar blink kapsel was stomp afgesny, soos dit later met haar inhegtenisneming was. “Toe ek haar daaroor vra, het sy gesê dis om kankerlyers te steun.”
Daarna het hy haar gereeld met ’n nuwe tatoe gesien. Sy het verduidelik dit hou verband met die “Christelike groep teen Satanisme” waarby sy aangesluit het.
“Sy het gesê elke tatoe verteenwoordig ’n siel wat hulle gered het.”
Hy tik-tik weer op een van die jonger Marinda se foto’s. “Die vrou wat ek geken het, sou nooit dit (moord) op haar eie gedoen het nie; sy was te bang.”
MARCUS se eie kinders is vandag al groot en uit die huis, en hy is ’n derde keer getroud. Toe sy jongste vrou hom van die twee sibbes vertel wat in hegtenis geneem is weens die afspraakmoorde, kon hy eers nie glo dis sy voormalige stiefkinders nie. Hy het na Marinda en haar kinders se sosialemediablaaie gaan kyk om seker te maak. “Ek was baie geskok toe ek uitvind die kinders word by die moorde betrek.” Dit is vir hom ironies dat Marinda nog altyd ’n groot Christen was, maar nou saam met haar kinders van moord beskuldig word. “Jy kon haar niks van die Bybel vertel nie.” Hy skud sy kop. “Dit maak my siek,” sê hy. “Ek voel jammer vir die kinders, veral Marcel. “Ek kan nie glo hulle is moordenaars nie. Iemand moes iets in hul kop geplant en hulle jare lank gemanipuleer het.” Hy kyk weer na die vrou met die sagte glimlag wat op die foto’s op die koffietafel na ons staar, haar arms beskermend om haar kinders. Wat, wonder hy, het van daardie Marinda geword?
‘Sy het gesê elke tatoe verteenwoordig ’n siel wat hulle gered het’