BIELIE VAN DIE BOSVELD
Brendan Peyper gedy op die plasie wat hy met sy Island of Treasure-wengeld gekoop het
SO HET bitter min van sy aanhangers hom al gesien. In ’n kakiekortbroek agter die stuur van sy bakkie, met sy Jack Russell op sy skoot, lyk hy sommer pure boerseun terwyl hy ons sy nuwe plasie naby Pretoria wys.
Maar dis eintlik g’n wonder nie – die 21-jarige Brendan Peyper kon ’n trekker bestuur nog voor hy kon praat. Of so vertel hy graag . . . En as ’n kannetjie het hy oral agter sy oupa aangehardloop tydens besoeke aan dié se plaas by Frankfort in die Oos-Vrystaat.
Die sanger van treffers soos Stop, Wag, Bly Nog ’n Bietjie lyk so geborge hier op sy eie stukkie Bosveld, dis moeilik om te glo hy het by die see grootgeword. “Ek was 12 toe my ouers van Gordonsbaai af Bloemfontein toe trek, maar die platteland het gou my hart gesteel,” vertel hy.
Onlangs het sy ervaring van die see goed te pas gekom toe hy deelgeneem het aan die SABC3-werklikheidsreeks Tropika Island of Treasure. Hy is pas tydens die eilandavontuur in die Maledive as die wenner aangewys.
Hier waar hy nou kaalvoet uit sy bakkie klim met die stertswaaiende Trompie vooruit, kyk hy met genoegdoening in sy blou oë na sy plasie, Esibanga. Hy het dié lappie grond met sy eilandwengeld gekoop – ’n ware skat vir die avonturier.
Sanger, boerseun, adrenalienslaaf . . . en binnekort ook verhoogakteur in die musiekspel Buddy – The Buddy Holly Story, waarin hy dié legendariese Amerikaanse sanger uit die 1950’s speel.
’n Mens kan maar sê die wêreld lê aan sy voete – so kaal soos hulle is.
EK WAS nog altyd lief vir die Bosveld,” vertel Brendan oor sy onlangse besluit om van Bloemfontein na die 25 haplasie te verhuis, “en ek wou my eie stukkie grond hê. “My brein kan hier afskakel. Dis stil en rustig; ’n mens hoor nie motors of vragmotors nie. Hier is ook nie mense wat heeltyd iets van my verwag nie,” sê hy.
Sy vinnige opgang in sy musiekloopbaan het bygedra tot sy rede om te skuif – sy dagboek is deesdae volbespreek met optredes, en hy moet baie reis.
“Bloemfontein is nie so sentraal en prakties soos mense sê nie. Vliegtuigkaartjies is duur en dis ver om te ry. Nou is ek 30 km buite Pretoria en dis perfek!”
Sy ouers, Vincent en Celeste, was aanvanklik skepties oor sy besluit. “My pa het gesê ek maak ’n groot fout en wou weet hoekom ek nie liewer vir my ’n woonstel op die dorp koop nie. Ek het vir hom gesê vir ’n paar rand ekstra koop ek liewer dié plasie, waar ek gelukkig is en stilte om my het.”
Brendan se behoefte aan stilte spruit uit sy aandagafleibaarheid, waarmee hy al van kleins af sukkel.
Om weg van ’n bedrywige omgewing te wees help hom konsentreer. “Ander wat so oud is soos ek, jol en doen nie noodwendig iets produktiefs om aan hul drome te werk nie.”
Hy omring hom eerder met “’n handjie vol jong mense” wat ook hul drome wil bewaarheid en geniet die rustigheid van sy lappie aarde. Dis waar sy inspirasie vandaan kom, vertel hy.
Wanneer hy die dag moedeloos raak en nie lus het om te werk nie, herinner hy hom aan die ekstra verantwoordelikheid wat die plasie bring. “Ek sal vir myself sê: ‘Jy het ’n plaas gekoop. Jy sal daai paaiement moet betaal; so jy moet nou maar op jou bas sit en werk.’ ”
Hy glo al van kleins af dis belangrik om verantwoordelik te leef. “Wanneer jy klein is, sal die juffrou vir jou sê jy gaan nou dit en dat doen; so word jy gedwing om te werk. Ek het daardeur geleer om altyd dit klaar te maak waarmee ek begin.”
Hy glo dié dissipline het hom die Tropika-avontuur saam met sy spanmaat, Lisanne Lazarus ( 21) van Durban, help wen. Lisanne is ’n finalejaarstudent in uitsaaiwese en werk as bemarkingskoördineerder. Sy was Mej. Mamelodi Sundowns KwaZuluNatal 2016, Mej. DUT (Durban-universiteit van Tegnologie) 2015, Mej. eThekwini 2014 en eerste prinses in Mej. SA Kampus 2016.
“Dit was aanvanklik moeilik. Ek het gesukkel om my spanmaat te vertrou. Maar ek het later besef as ek haar nie vertrou nie, sal ons elke uitdaging verloor.”
Toe hulle eers besluit om op mekaar te steun, het hulle behoorlik sand in hul mededingers se oë geskop. “Ons het nooit gaan slaap sonder om Bybel te lees nie. Voor elke uitdaging het ons gebid, krag gevra en krag gekry. Ons het ook nooit vergeet om dankie te sê ná elke uitdaging nie,” vertel hy oor hul tyd op die eiland.
SY GROOTWORDJARE saam met sy kleinsus, Elizna (nou 19), en ouers, Celeste, wat naaldwerkklasse gee, en Vincent, wat ’n borduuronderneming het, was nie maklik nie.
“Ons het swaar grootgeword. Daar was ’n stadium toe ons in ’n eenslaapkamerhuisie gewoon het. Maar ek het altyd geweet my omstandighede is nie ’n verskoning om nie my drome na te jaag nie.”
Op 15 het hy die eerste keer in ’n kroeg vir “’n hamburger en tjips” gesing. Later het hy dikwels ná rugbywedstryde by die skool vir ’n brandewyn-enCoke in ’n kroeg gesing.
“My ouers het baie teëgeskop teen my onafhanklikheid. Hulle wou altyd weet hoekom ek alles alleen wil doen, maar dis hoe ek nog altyd is. Ek weet as ek iets self doen, sal ek dit gedoen kry.” Hier waar hy sy verhaal vertel terwyl ons op sy plaas rondstap, verlaat die stertswaaiende Trompie nie vir ’n oomblik Brendan se sy nie.
Die sanger is duidelik ewe geheg aan sy viervoetige makker, wat hy “’n regte bakkiehond” noem.
Aanhangers is daaraan gewoond om Trompie op foto’s, in video’s en selfs op die verhoog saam met Brendan te sien. Die vyf maande oue brakkie het selfs ’n Instagram-profiel, met 10 000 volgelinge.
Maar dis darem nie net Brendan, “Trompers” en die koedoes op die plasie nie. Die hondjie was ’ n verjaardaggeskenk van “iemand baie spesiaals” in sy lewe, erken Brendan. Maar hy wil nie verder uitwei nie, “want ’n mens weet nie wat môre kan gebeur nie. ie wa hu ma M spi on H Sw hoo Bud
“Elke 21-jarige ou het mos maar iemand spesiaals in sy lewe; iemand wat altyd daar is. Ek hou daarvan om huis toe te kom en te weet hier is iemand met wie ek kan gesels.”
Met sy eilandtriomf agter die rug spits Brendan hom vir eers toe op sy ontluikende liefde vir toneelspeel.
Hy vertel dit was die regisseur Frans Swart wat hom genader het oor die hoofrol in die musiekspel Buddy – The Buddy Holly Story, wat van 15 Mei af in Emperors Palace in Kempton Park op die planke sal wees.
Maar Brendan het toe omtrent niks van die rocklegende, wat in 1959 dood is, geweet nie.
“Ek het vir Frans gesê: ‘Oom, ek is nie ’n akteur nie, ek het geen ervaring nie en wil julle nie teleurstel nie,’ maar toe sê hy hy sal vir my ’n afrigter aanstel.”
Brendan het twee maande lank aksente, emosies en “allerhande gimmicks van akteurwees” geleer. “Ek werk volstoom daaraan. Dis ’n groot uitdaging, maar ek sien geweldig uit daarna.
“As jy nie in jouself glo nie, kan jy nie in ander mense glo nie. As jy nie jouself vertrou nie, kan jy nie ander mense vertrou nie. Dis so eenvoudig soos dit.”