WAT IS DEMENSIE?
Demensie is ’n versamelnaam vir meer as 100 verskillende toestande waar die persoon wat daardeur aangetas word se geheue, denke, optrede en emosies weens die agteruitgang van die brein aangetas word.
Alzheimersiekte is die algemeenste vorm daarvan, maar daar is ook ander.
Wêreldwyd raak demensie 50 miljoen mense en elke drie sekondes word ’n nuwe geval aangemeld.
Weens ’n gebrek aan navorsing oor die siekte in Suid-Afrika is geen plaaslike statistieke beskikbaar nie, sê Karen Borochowitz, die uitvoerende hoof van die organisasie Demensie Suid-Afrika.
Die oorsaak van die toestand is onduidelik. Die risiko vir demensie neem met die jare toe. Na raming ontwikkel een uit vyf mense bo 80 dié toestand. Tog kan dit ook by mense onder 65 voorkom.
Een van die eerste gevaartekens is geheueverlies, veral oor onlangse gebeure. Nog simptome kan insluit: Vergeetagtigheid oor wat ’n mens van plan was om te doen of waar jy besittings neergesit het. Iemand wat daaraan ly, kan verdwaal of verward raak, veral in ’n nuwe omgewing. Jy kan sukkel om die regte woorde te vind om iets te verduidelik of voorwerpe te beskryf. Verlies aan konsentrasie of belangstelling in jou stokperdjies. Swak oordeels- en denkvermoë, soos met die beplanning van aktiwiteite of die volgorde waarin dinge gedoen word. Buierigheid, irritasie, verhoogde angs, agterdog en aggressie. Persoonlikheidsveranderings. Onvanpaste taal of reaksies op alledaagse situasies. By sommige soorte demensie kan medikasie die simptome tydelik verlig. “Dit vertraag die verloop van die siekte,” sê Karen, “maar kan dit nie genees nie.”
En hoe moet iemand met demensie se geliefdes hom of haar bystaan? Karen se raad is om so iemand gereeld daarvan te verseker hulle is steeds waardevol, word gerespekteer en is geliefd.
“Laat hulle kalm ’n vaste roetine volg en aan aktiwiteite deelneem, kommunikeer opbouend met hulle en leer watter dinge ’n sneller vir angs kan wees.”