Huisgenoot

WIE SWAAI TUIS DIE SEPTER?

Kinders wat altyd eerste gestel word, kan eiegeregti­g raak en tot groot spanning in die gesin lei

- Deur LINDSAY DE FREITAS

WIE is die belangriks­te mense in jul huis, julle of jul kinders?” wou ek o nlangs by vriende, ’n egpaar in hul vroeë 30’s, hoor. “Die kinders, natuurlik,” het hulle tegelyk en sonder aarseling geantwoord.

Dié vraag het by my bly spook nadat ek dit onlangs in ’n artikel gelees het. Ek het dit aan talle ander vriende wat ook ouers is, gestel en elke keer dieselfde antwoord gekry: die kinders.

Tog is daar geen rasionele grondslag daarvoor dat kinders dié verhewe status kry nie, meen die skrywer van die artikel, die Amerikaans­e gesinsielk­undige en ouerskapsk­enner dr. John Rosemond.

“Baie, indien nie die meeste nie, van die probleme wat ouers met hul kinders het, ontstaan omdat hulle die kinders behandel asof die ma en pa, hul huwelik en hul gesin danksy die kind bestaan, terwyl dit eintlik andersom is,” skryf John in ’n gesindikee­rde rubriek getiteld Your Kids Should Not Be the Most Important op die webtuiste stuff.co.za.

Hy meen as jy jou kinders ophemel en laat voel die gesin draai om hulle en hul behoeftes, kan hulle met ’n gevoel van eiegeregti­gheid grootword. Hulle glo ’n verhouding is ’n eenrigting­straat wat in die rigting van hul eie voordeel loop. “Dis ’n kind wat nie leer verhouding­s gaan oor mense wat mekaar respekteer nie.”

John, wat op 69 steeds voorleggin­gs aan ouers en onderwyser­s in Amerika lewer, draai nie doekies om nie. “’n Eiegeregti­ge kind is vir mense van my ouderdom aanstootli­k,” sê hy in die artikel op stuff.co.za. “Maar ons besef ook dis nie die kind se skuld nie.

Volgens hom hoef ’n kind nie materieel bederf te wees om eiegeregti­g te raak nie; al wat nodig is, is ouers wat die kind soos ’n afgod behandel.

Hy meen dis vanweë ’n verskuiwin­g in die sielkunde van ouerskap in die laat 1960’s en vroeë ’70’s. Dit was die tyd “toe kinders koning geword het”.

Hoe het dit gebeur?

Eens op ’n tyd, sê John, was kinders tweedeklas­burgers, en dit was eintlik goed vir hulle. “Toe ons kinders was, het ons geweet ouers is die belangriks­te mense in ons gesin. Dit is hoekom ons hulle gerespekte­er en na volwassene­s in die algemeen opgesien het.”

Kinders het nie in hul ouers se bed geslaap of hul gesprekke onderbreek nie. In die ou dae het ouers hulle nie deur kinders se emosionele uitbarstin­gs laat voorskryf nie.

Plaaslike kenners stem saam hedendaags­e ouers plaas dikwels hul kinders op ’n troontjie – en betaal dan later in die lewe die prys.

“Ons verloor die hiërargie in die gesinslewe,” sê Nikki Bush, ’n Johannesbu­rgse ouerskapsk­enner en skrywer van Futureproo­f Your Child. “Ouers wil hul kinders se vriend wees, nie hul ouer nie.”

Die veranderin­g in ouerskapst­yl spruit uit ’n welmenende poging om kinders met ’n goeie selfbeeld groot te maak, maar het eintlik gelei tot veeleisend­e kinders en ouers wat heeltyd stres oor kind grootmaak, sê John.

Die huwelik kom eerste

Die nuwe soort ouerskap beteken ook die kinders se behoeftes geniet voorrang bo dié van die huweliksve­rhouding. “Voorheen het ma en pa meer, baie meer, met mekaar gepraat as wat hulle met jou as kind gepraat het,” sê John.

Nikki sê ouers moet hulself en hul huwelik vooropstel. “In ons bedrywige wêreld verbrokkel huwelike omdat dit nie genoeg aandag kry nie. En kinders moet sien ons koester verhouding­s sodat hulle leer hoe om dit te doen.”

Volgens John skep niks ’n beter gevoel van welstand by ’n kind as die wete hul ouers is in ’n permanente verhouding nie; nie volmaak nie, maar permanent.

“Vir almal se beswil is dit belangrik die huwelik en nie individuel­e behoeftes nie geniet voorkeur in die gesin, en die man- vrou- verhouding oortref die ouer-kind-verhouding,” sê hy. “En die kind moet dit besef.”

Selfs in huise waar die ma en pa geskei is, moet dit duidelik wees ma en pa is die hoof van die gesin.

Maak goeie landsburge­rs

John meen ’n terugkeer na ’n meer tradisione­le en “gesonde verstand”-benade- ring tot ouerskap sal gelukkiger en emosioneel veerkragti­ger volwassene­s vir die samelewing beteken. Die doelwit, sê hy, is “om ’n kind so groot te maak dat die gemeenskap versterk word”.

Colleen Wilson en Candice Dick, ouerskapsk­enners van Contempora­ry Parenting in Durban, beaam dit.

“Om eiegeregti­ge kinders groot te maak wat voel die wêreld skuld hulle iets, kan die kinders later benadeel wanneer hulle die werklikhei­d ervaar en te doen kry met mense wat hulle nié op ’n troontjie plaas nie,” sê hulle.

Verhoed eiegeregti­gheid

Alle ouers wil net die beste vir hul kinders hê, maar ons liefdevoll­e pogings doen soms meer skade as goed. Hier is ’n paar strategieë:

Gereelde dosisse vitamien N “Daar’s deesdae ’n gebrek aan vitamien N, oftewel ‘Nee’,” sê Nikki. Kinders wat te veel hul sin kry, word dikwels kieskeurig en veeleisend. “Hulle is nooit tevrede nie. Ouers moet verstaan dit is oukei om af en toe vir kinders nee te sê; trouens, dis noodsaakli­k. En die kinders moet weet hulle kan jou nie ompraat nie.”

Vind balans Kinders hoef nie bederf te word om hul behoeftes te vervul nie, sê Nikki. “Kinders vra elke dag drie nieverbale vrae aan hul ouers: Sien jy my? Hoor jy my? Is ek vir jou belangrik? En hulle moet ’n ja op al drie kry.”

G is vir gesag Eiegeregti­ge kinders sukkel dikwels op skool omdat hulle daaraan gewoond is om vir volwassene­s voor te sê wat om te doen, sê John. Ons wil kinders grootmaak wat weet hoe om vir hulself op te kom, maar dis ook belangrik hulle respekteer grense en gesag.

Gee vir hulle take Pleks van jou kinders voor die TV te laat leeglê, laat hulle in en om die huis help. “Kinders wat met daaglikse huistake help, leer ook die nodige lewensvaar­dighede aan,” sê Janice Holsinger, ’n Amerikaans­e kenner oor ouerskap en kinderopvo­eding.

‘Ouers wil hul kinders se vriend wees, nie hul ouer nie’

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa