Huisgenoot

BUURVROU PLA MET BOODSKAPPE

-

Ek en M is al ’n jaar lank saam, maar woon nie by mekaar nie. ’n Getroude vrou in sy woonstelbl­ok whatsapp hom daagliks oor sport op TV of om oor haar man te kla. Sy stuur ook vir hom liedjies en is ontsteld wanneer hy nie antwoord nie.

Hy vertel my hiervan en sal selfs wanneer ons uitgaan haar boodskappe oopmaak en kastig daaroor beswaar maak by my. Dit gaan al langer as ses maande so aan.

Ek ignoreer dit. Hy sê hy het al probeer om dit stop te sit, maar sy kom altyd weer terug. Sy kan glo nie verstaan dat hulle nie meer as vriende mag wees nie. Ek dink nie haar man weet hiervan nie. Ek wil nie klewerig klink nie.

NE, SMS

Tegnologie kan baie intiem wees, want daarmee kan iemand voortduren­d jou lewe binnedring. As jy pal so met iemand kommunikee­r, kan dit tot emosionele intimiteit lei.

Dis jou volle reg om beswaar teen dié indringer in jul verhouding te maak. Min verhouding­s tussen mans en vroue is suiwer platonies, veral as die een ongelukkig getroud is. Dis ongesond om iemand van die teenoorges­telde geslag daagliks in jul verhouding toe te laat.

Stippel dié gevoelens uit wanneer hy weer oor haar praat. Vra of jy hom kan help om haar op sy foon te blokkeer. Nes jy nie sal toelaat dat iemand voor jou met jou kêrel flirt nie, hoef jy dit nie langer te verduur dat sy foon sy aandag opeis nie.

Moenie daaroor skuldig voel nie. Dit het min met jaloesie te doen en gaan eintlik daaroor dat jy jul verhouding wil beskerm.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa