So word’n pad gebou
Dis ’n reusetaak om ’n stewige pad te bou waarop almal veilig kan ry.
DIT is lekker om met jou karretjies op selfgemaakte paaie te ry. Regte motors ry ook beter op paaie. Grond paaie kan goed wees, maar dis beter om op ’n teerpad te ry. Ingenieurs het slim metodes uitgedink om paaie te bou sodat ons moeiteloos van die huis na die skool, winkel of vakansieplek kan ry.
BEPLANNING
Dit is uiters ingewikkeld om ’n pad te bou. Die eerste stap is natuurlik beplanning. Baie mense is hierby betrokke, soos ingenieurs, grond-, omgewings- en boudeskundiges. Ook moet vir die pad begroot word. Dit beteken die owerheid moet genoeg geld opsysit, gewoonlik miljoene rande, om met die bouwerk te begin. Benewens die koste moet die beplanning ook die pad se uitwerking op die omgewing, die beskikbaarheid van boumateriaal en veiligheidsfaktore in ag neem.
TYDSDUUR
Dit kan maande duur om ’ n eenvoudige stuk pad te beplan voor die bouwerk kan begin. As dit ’n ingewikkelde pad met verskillende konstruksies soos brûe en tonnels is, kan dit jare duur. Dink maar aan Kaapstad se Strandgebiedsnelwegbrug wat reeds langer as 40 jaar (sedert 1977) wag om afgehandel te word. Die Stad Kaapstad het onlangs eers aangekondig bouwerk aan dié stuk pad gaan hervat word. Maar hulle is nog in die beplanningsfase daarvan en die bouwerk sal na verwagting eers in 2020 begin.
VASTE PLANNE
Aan die einde van die beplanningsfase ontwikkel landmeters en ’n konsultasiefirma die vaste planne waarvolgens die pad gebou sal word. As dele van die grond waarop hulle die pad wil bou aan privaat grondeienaars behoort, moet die owerheid en regskenners eers onderhandel om dit te koop. Die owerheid wat die pad wil bou, sal ook tenders van verskeie padboumaatskappye aanvra. Die firma met die beste aanbod sal gekies word om ’n pad van gehalte teen ’n billike prys te bou. Nou kan die eintlike padbouery begin.
VOORBEREIDING
Sodra die padontwerp aanvaar is, neem die padboumaatskappy oor. Die firma wat die pad ontwerp het, sal steeds as raadgewers betrokke bly. Die padbouers merk die gebied uit waar hulle
die pad wil bou. Plantegroei, soos bome, moet dan in dié gebied verwyder word. Hulle gebruik boumasjinerie soos stootskrapers en vragmotors om die omgewing volgens die ontwerpplanne skoon te maak, ’n weg deur heuwels te grawe en laagtes in te vul. As ’n omgewingsimpakstudie aandui bedreigde plante of diere kom daar voor, word hulle eers verskuif.
BOUMATERIAAL
Die grondwerk is seker die belangrikste deel van die bouproses. Dit is waar die groot masjinerie gebruik word om ’n stewige fondament vir die pad te maak. Die pad word in verskillende lae gebou. As dit nie stewig is nie, kan die pad sommer gou vol slaggate raak en uitmekaarval. Die boumateriaal vir hierdie lae van die pad word gewoonlik met groot vragmotors na die bouperseel vervoer. Soms word ’n gruisgat naby die bouplek gegrawe om aanvullingsmateriaal te verskaf.
LAAG OP LAAG
Elke laag waarop die pad gebou word, moet net reg wees. Stootskrapers skuif die lae grond of gruis rond wat met vragmotors aangery word om ’n gelyke oppervlak te vorm. Water is belangrik in die kompakteringsfase, waar- tydens die padwerkers swaar padrollers gebruik om die oppervlak harder en platter te druk. Die klam laag boumateriaal moet eers uitdroog voor die volgende laag aangebring kan word. Dit is hoekom m ’n mens soms lang stukke pad in aanbou bou sal sien sonder enige padwerkers in sig.
’n Laboratorium sal toetse uitvoer om seker te maak elke laag van die pad voldoen aan die wetenskaplike vereistes om ’n stewige en veilige pad te verseker. Die padwerkers bring ook vroeg in die proses vore en stormwaterdreineringstelsels aan om seker te maak reën word van die padoppervlak weggelei sodat voertuie later in stormweer veilig kan ry.
TYD VIR TEER, MENEER
Sodra al die lae van die fondament reg is, kan die padoppervlak aangebring word. Die algemeenste boumateriaal hiervoor is asfalt (teer) en soms ook beton. Asfalt is ’n soort taai aardolie (bitumen) wat sand en gruis soos gom bind. Nadat die asfalt tot ’n hoë temperatuur verhit is, word dit oor die padoppervlak gegiet, waar die padwerkers dit uitsprei en in die pad se fondasie kompakteer.
Die bou van betonpaaie werk op dieselfde manier, maar die sand en gruis word deur sement gebind. By betonpaaie moet die werkers gleuwe of voeë tussen die beton aanbring sodat dit in die hitte en koue kan uitsit en saamtrek sonder dat die pad kraak.
VERF
Ná die bouwerk is die pad nog nie voltooi nie. Lyne, stippels en nog padmerke moet aangebring word. Dit moet volgens die spesifikasies van die Suid-Afrikaanse Padtekenhandleiding op die padoppervlak geverf word. Die groottes en lengte daarvan word fyn bereken om padgebruikers se veiligheid te verseker. Ander padtekens word ook in dié stadium opgerig.
Is dit nie verstommend hoeveel beplanning, werk en berekenings nodig is om die paaie te bou waarop ons elke dag ry nie?