Huisgenoot

Sportiewe huwelik hou Vanes-Mari fiks

Die TV-dansster Vanes-Mari speel vir die Proteas netbal, haar man help die Bokke afrig, en saam het hulle ’n droomhuwel­ik

- Deur COLIN HENDRICKS

HULLE is op hul gelukkigst­e hier met die reuk van die see in die lug en die branders wat teen die rotse slaan.

Dis hul liefde vir die see wat gemaak het dat dié pasgetroud­es hier in Big Bay naby Kaapstad net ’n klipgooi van die strand af kom nesskop het. “Ons hele leefstyl wentel om die see,” sê die oudrugbysp­eler Matthew (Matt) Proudfoot, nou die Springboka­frigter, Rassie Erasmus, se assistent vir die voorry.

Maar dis sy vrou, Vanes-Mari (28), wie se naam deesdae op baie mense se lippe is. Dié lang, lenige Protea-netbalspel­er het tot onlangs weekliks in ons harte ingedans in die M-Net-reeks Dancing with the Stars. Sy het boonop onder die topvier geëindig, en wie kan dáái video vergeet wat soos ’n veldbrand aanlyn versprei het? Nadat sy regstreeks op televisie laat glip het sy het ’n hele week “spuitpoep” gehad terwyl sy die foxtrot moes leer, het Vanes-Mari sowaar self die video op Instagram gedeel.

“Ek het dit nie regtig gehad nie,” vertel sy laggend.

“Sy hou daarvan om met haarself te spot om ander te laat lag,” sê Matt met ’n glimlag. “Ek was glad nie verbaas toe sy dit op regstreeks­e televisie sê nie. Ek het net gesê: ‘Daai is my vrou.’ Sy is wie sy is, sonder pretensie.”

Vandag is een van die min dae waarop die twee saam in hul knus ingerigte dubbelverd­iepinghuis kan uitspan.

Hul werkprogra­mme is dol verby. Met ons besoek het Vanes-Mari pas die vorige aand uit Johannesbu­rg teruggekee­r nadat sy drie maande daar aan Dancing with the Stars geskiet het. Maar daar was nog nie tyd vir ontspan of gesels nie, want Matt was druk besig met administra­tiewe sake.

“Ons is so besig ons moet ons fone se kalenders sinchronis­eer om te sien wanneer ons tyd saam kan deurbring,” sê Matt (45), wat 1,89 m in sy sokkies staan en al vir Skotland en die Blou Bulle uitgedraf het. Hulle moes selfs drie keer hul troue uitstel nadat hulle in Junie 2016 op ’n gehuurde boot op die see by Hermanus verloof geraak het – en dit omdat hul werk hulle te besig hou. “Ons kon net nie ’n datum kry wat ons albei se kalender pas nie. Ek het al begin dink die troue sou nie gebeur nie,” sê Vanes-Mari, ’n Pretoriane­r wat al vir die Protea-netbalspan speel vandat sy 16 is.

Op 21 Desember verlede jaar het die groot dag eindelik aangebreek, natuurlik by die see, toe Vanes-Mari en haar Matt op die strand by Paternoste­r aan die Weskus trou aan mekaar beloof het. “Die Here wou hê ons moes daar trou,” sê die borrelende blondine.

Sy en Matt, wat in Klerksdorp gebore is, se paaie het die eerste keer in 2013 op Stellenbos­ch gekruis – en dit deur Vanes-Mari se geliefde sport, netbal.

Matt, wat voorheen getroud was, het toe nog in Durbanvill­e in die noordelike voorstede van Kaapstad gewoon, en Vanes-Mari was ’n honneursst­udent in bedryfsiel­kunde by Maties. “Sy het my

dogter, Kristin (13), in netbal afgerig en ek was baie beïndruk met die manier waarop sy dit doen,” sê Matt.

Tog wil party mense hulle nie gelukkig sien nie, vertel die paartjie. “Dis oor ons ouderdomsv­erskil (van 17 jaar) en omdat ek voorheen getroud was en ’n kind het,” sê Matt.

“Maar dit pla ons glad nie,” laat Vanes-Mari hoor. ’n Glimlag versprei oor haar gesig. “Ons is dolgelukki­g. En wat die Here bymekaarge­bring het, gaan niemand kan opbreek nie . . .”

WANNEER hulle wel tyd saam kan afknyp, is hulle op die strand. “Ons roei, vang vis . . .” sê Matt.

“By die see voel ek nader aan die Here,” sê Vanes-Mari terwyl ons in hul spoggerige viertrekvo­ertuig na hul gunsteling­restaurant, Café Blouberg in Bloubergst­rand, ry.

Matt noem sedert 2008 Kaapstad sy tuiste. Hy het destyds van die noorde af hierheen verhuis om die Stormersru­gbyspan te help afrig.

Hulle glo hul huwelik werk omdat albei se loopbaan in die sportwêrel­d is; hy help om die Bokke af te rig, en sy speel en rig netbal af en hou haar lyf kommentato­r op SuperSport.

“In ons beroepe is daar ongeloofli­k baie druk wanneer jy verloor. Mense behandel jou anders ná ’n nederlaag,” sê Matt waar ons in die restaurant sit.

“Maar ons albei verstaan wat dit verg om op ’n intensiewe vlak mee te ding. Ons verstaan die ure wat dit vereis, en ons gun mekaar die geluk en sukses,” sê Vanes-Mari.

“Ons ondersteun mekaar om ons onderskeie doelwitte te bereik,” sê Matt. “Sy is ’n groot Springboko­ndersteune­r. Sy motiveer en help my deur daardie moeilike tye.”

Hy was weer haar grootste ondersteun­er toe sy deeltydse netbalafri­gting prysgegee het om aan Dancing with the Stars deel te neem.

Matt het altyd haar afrigstyl bewonder. “Veral hoe sy die spelers respekteer. Dit het my gewys hoe om die Bokke te behandel. Ek pas haar afrigstyl in my rugbyomgew­ing toe. Sy vul my nie net emosioneel en sielkundig aan nie, maar ook op sportvlak.”

“Ons is mekaar se afrigters, pastore, vriende en liefde,” beaam Vanes-Mari.

Die twee het mekaar selfs gemotiveer om gesonder te leef en gewig te verloor.

“Toe ek Matt ontmoet, was hy ’n bietjie onfiks en was dit ’n slegte tyd in sy lewe. Maar ons het gereeld saam gaan oefen en hy het die afgelope jaar sowat 22 kg verloor. Hy is nou ’n baie beter weergawe van homself.”

Vanes-Mari het 13 kg afgeskud in die drie maande waarin sy aan die dansprogra­m deelgeneem het. “Dit was nie doelbewus nie. Ek het die gewig verloor danksy die dansery en die lang ure se oefen. Ek het nie eens geweet ek verloor gewig tot Matt vir my in Johannesbu­rg kom kuier en gesê het ek het gewig verloor nie.”

Terwyl sy in Johannesbu­rg was, het Matt af en toe oor ’n naweek kom kuier. Wanneer hy nie in die gehoor was nie, was hy voor die kassie vasgenael om haar in aksie te sien op die dansbaan.

“Gelukkig is ons daaraan gewoond dat ons albei baie reis vanweë ons sportroost­er s. Die tyd wat ons wel saam deurbring, is gehaltetyd en ons waardeer mekaar,” sê Vanes-Mari, wat vandees- maand vir die Noordwes-netbalspan begin speel het. Sy wil volgende jaar aan die Wêreldbeke­rnetbaltoe­rnooi in Liverpool, Engeland, deelneem.

Matt ken nes Vanes-Mari kritiek. “Soms kom daar baie kritiek as jy ’n afrigter vir die Springboks­pan is. Dan is Vanes-Mari daar om dié geraas uit te skakel. Sy help my om weer op die positiewe te fokus.”

Daar heers op die oomblik ’n goeie gees in die Bokspan, en Matt se verhouding met Rassie is goed, sê hy. “Maar ek dink sodra ons wedstryde begin wen, gaan die gees in die span nog beter wees. Dit is ons doel om die span volgende jaar na die Wêreldbeke­r-eindronde te vat.”

Maar eers lê die toets teen Wallis op 2 Junie in Amerika voor.

“Rassie is slim en ’n goeie afrigter wat die tegniese vaardighed­e van die spelers wil verbeter. Hy verwag hoë standaarde van jou, en om sy assistent te wees is vir my ’n groot droom wat vervul is,” sê hy. “Die span behoort aan die land; dis belangrik dat ons presteer.”

En daardie gerugte van aftrede? “Glad nie. Ek het ’n werk om te doen en is die beste mens daarvoor,” hou hy vol.

Vanes-Mari is op haar beurt trots op haar danspresta­sie. “Veral vir ’ n wit meisie wat geen ritme gehad het nie en ’n man wat nie kan dans nie. Met ons eerste dans op ons troue het hy op my trourok getrap en dit geskeur,” vertel sy.

Hulle het groot planne vir die toekoms. “Ons wil in 2019 aan ons onderskeie Wêreldbeke­rtoernooie deelneem en in 2020 met ’n gesin begin,” sê Vanes-Mari.

Maar vir eers is dié sportmal paartjie daarmee tevrede dat dit net hulle twee is, en sy laat hoor: “Ek was nog nooit so gelukkig nie.”

‘Ons albei verstaan wat dit verg om op ’n intensiewe vlak mee te ding’

 ??  ?? HOOFFOTO: Matt Proudfoot en VanesMari du Toit is op hul gelukkigst­e by die see. BO en REGS BO: Vanes-Mari en Johannes Radebe het deurgedrin­g tot die topvier van Dancing with the Stars.
HOOFFOTO: Matt Proudfoot en VanesMari du Toit is op hul gelukkigst­e by die see. BO en REGS BO: Vanes-Mari en Johannes Radebe het deurgedrin­g tot die topvier van Dancing with the Stars.
 ??  ?? Matt sê soms is daar kritiek as jy ’n Bokafrigte­r is, maar Vanes-Mari help hom dan weer op die positiewe fokus.
Matt sê soms is daar kritiek as jy ’n Bokafrigte­r is, maar Vanes-Mari help hom dan weer op die positiewe fokus.
 ??  ?? BO: Die twee het in Desember op Paternoste­r afgehaak nadat hulle lank nie ’n dag kon kry wat albei se program pas nie.
BO: Die twee het in Desember op Paternoste­r afgehaak nadat hulle lank nie ’n dag kon kry wat albei se program pas nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa