Huisgenoot

Baba Eden se ouers oor angsvolle dae

Baba Eden se verdwyning het die land aangegryp. Sy ouers vertel vir Marizka Coetzer van die ontvoerder­s se dreigement­e, al die gebede en die stresvolle pad na die blye hereniging

- Foto’s: ONKGOPOTSE KOLOTI

HEELDAG het hulle angsbevang­e, onseker en moedeloos op die grasperk voor hul huis sit en wag. Bronwyn ( 36) en Stuart ( 46) Laird het geen idee gehad wat volgende sou gebeur nie. Die sekondes het minute geword; die minute het ure geword . . .

Met die klokslag van elke nuwe uur het hulle weer gewonder: Hoekom bel ons baba se ontvoerder nie?

Die vorige nag het hulle saam met die polisie ’n desperate poging aangewend om hul babaseun, Eden, se losprys te betaal, maar dit het misluk. En nou moes hulle wag dat die ontvoerder weer bel . . .

Hulle het gebid; weer gebid. En weer gebid.

Dit was Vrydag 4 Mei. Later het die son oor Brackendow­ns, Alberton, ondergegaa­n, en steeds het hulle gewag.

En toe, terwyl hulle so in die donker op die grasperk met verstrenge­lde hande sit, lui Stuart se selfoon vir die eerste keer daardie dag. Dit was dieselfde, aggressiew­e manstem wat hulle nou al so goed geken het.

“Ons het weer van voor af begin onder- handel,” vertel Stuart ons by ’n vriend se huis in Malberton, ook in Alberton. Dit is die eerste keer sedert hul babaseun se ontvoering dat hy en Bronwyn praat oor die ondenkbare ontbering wat die land se verbeeldin­g aangegryp het, en hy herleef die trauma met elke woord. “Hy het oor en oor meer geld gevra en gedreig om Eden dood te maak . . .” Die vorige aand, Donderdag 3 Mei, het Stuart ’n som geld by ’n afgespreek­te plek gelos, maar die ontvoerder­s het blykbaar onraad geruik en nooit met baba Eden opgedaag nie.

Dit was toe al meer as 24 uur sedert hul

geliefde seuntjie van 13 maande helder oordag ontvoer is en hulle die eerste keer van sy ontvoerder­s gehoor het.

“Met die jongste oproep het die man gou baie aggressief geraak,” vertel Stuart. “Maar die polisie het my afgerig oor hoe ek met hom moet praat en ek het kalm gebly.” Eindelik het hy met die man aan die ander kant van die foon ooreengeko­m op ’n nuwe ontmoeting­splek en tyd. Waar die afgespreek­te ontmoeting­splekke was, mag hy in opdrag van die polisie nie sê nie.

Die oomblik toe die foongespre­k eindig, het die polisie, wat reeds by die Lairds se huis was, begin beplan hoe om die ontvoerder­s vas te trek.

Stuart vertel aangedaan: “Nadat die operasie beplan is, het die polisie eers saam met ons by die huis gebid.”

Toe, twee uur ná die ontvoerder se laaste oproep, het hy in sy kar geklim met die afgespreek­te bedrag geld en gery na die bestemming wat nou ’n dig bewaarde geheim is. Die polisie het hom onopsigtel­ik agtervolg. En toe begin die kat-en-muis-speletjie . . .

“Terwyl ek ry, het die ontvoerder gedurig gebel en my opdrag gegee om na ’n ander plek te ry. Ek het seker twee uur of meer so heen en weer gery.” Het hy paniekerig geraak? “Nee. Ek was seker my kind is nog veilig en het die polisie vertrou.”

Eindelik is Stuart beveel om na die woonbuurt Ekurhuleni-Wes, sowat 25 km van die Lairds se huis, te ry. “Ek het die buurt stadig ingery en toe is ek skielik oor die foon gesê om in die pad stil te hou.

“Toe sê die stem oor die foon: ‘Klim uit en los die geld buite.’ ”

Hy is ’ n oomblik stil. “Ek het geantwoord dat ek eers my kind wil sien.”

Die ontvoerder het hom toe beveel: “Kyk voor in die pad; daar is ’n persoon met ’n kind.”

Stuart het gekyk en iemand met ’n kind in sy arms langs die pad sien staan. Kon dit wees – sy lieflingki­nd; sy jongste van vier seuns?

Die drama het binne oomblikke verder ontvou. “Ek kon nie sien of dit Eden was nie. Toe ry ek vinnig vorentoe . . . Die man het die kind in die gras neergesit en gehardloop. Toe ek weer sien, is die polisie agter hom aan . . .”

Met die polisie op die spoor van die ontvoerder, het Stuart net oë gehad vir die plek waar hy gedink het die kind in die gras was. “Dit was donker. Ek het uitgeklim en deur die gras begin soek. Ek kon die babbelgelu­idjies van ’n baba hoor. Ek het geweet dis my kind.”

En toe sien hy vir Eden, die dingetjie met die blonde haartjies wat maar onlangs eers begin loop het.

Stuart tel hom toe op en hardloop met hom styf in sy arms terug na die motor. “Ek het ingeklim en net daar gesit en hom vasgedruk en vir die polisie gewag. Eden het met sy koppie op my bors gelê. Hy het ongedeerd en gelukkig gelyk. Ek het oor en oor gebid: ‘Dankie, Here; dankie, Here’ . . . seker 50 keer.”

Buite in die donker was die polisie besig om deure in Windmill Park, ’n township buite Boksburg, oop te skop. Hulle het eindelik vyf verdagtes aangekeer – en onder hulle was Cleopatra Manjankhoz­i, die vrou wat hom sedert sy geboorte opgepas het; die vrou wat die Woensdagog­gend spoorloos met hom verdwyn het.

Die vrou wat klein Eden soms “mamma” genoem het.

Maar al waaraan Stuart op daardie oomblik kon dink, was dat sy kind weer veilig in sy arms was. Stuart en Bronwyn se 72 uur van hel , wat menige ander ouerhart in Suid-Afrika

‘Nadat die operasie beplan is, het die polisie eers saam met ons by die huis gebid’

(Blaai om)

ook aangegryp het, was eindelik verby.

Die tyd was 11 minute voor middernag, Vrydag 4 Mei.

DIT is drie dae later, die Maandagogg­end nadat hul kind weer met hulle herenig is. Stuart en Bronwyn sit styf teen mekaar op die rusbank in hul vriend se huis in Alberton en laat nie vir ’n oomblik mekaar se hande los nie. Stuart is kalm, maar Bronwyn lyk kort-kort asof sy wil huil, so asof die skok van hul ontbering haar opnuut tref. Terwyl ons in die sitkamer op die grondvloer praat, slaap klein Eden in ’n slaapkamer op die boonste vloer.

“Dit was aaklig,” vertel Bronwyn, wat die Vrydagnag tuis gewag het terwyl die bevrydings­drama afgespeel het. “Ek het vir my kind sowel as my man se lewe gevrees.”

Sy soen Stuart op die mond en sê skielik: “Hy is my held.”

Net ná middernag het een van die polisiebea­mptes wat by haar agtergebly het se foon gelui. Hy het geluister, haar eenkant toe geroep en vertel Eden is veilig saam met sy pa in ’n hospitaal daar naby.

“Ek het in trane uitgebars. Toe het ons en al ons vriende en ons pastoor en die polisie saam gebid. Selfs die polisie het saam gehuil.”

Bronwyn is toe deur die polisie hospitaal toe geneem. “Ek kon Eden nie dadelik sien nie, want hulle was besig om hom te ondersoek. Maar toe hulle hom in my arms sit, was my eerste instink om hom te borsvoed. Terwyl hy gedrink het, het ek vir hom gesing: ‘ You are my sun

shine . . .’ ” En ja, hulle was baie geskok om kort ná Eden se ontvoering omstreeks 08:45 op Woensdag 2 Mei by die polisie te hoor Cleopatra is ’n verdagte.

“Sy was soos ’n tweede ma in ons huis,” sê Bronwyn. “Ons het haar liefgehad; sy was al deel van ons familie. Ons het geen rede gehad om haar nie te vertrou nie.”

Die Zimababwie­se vrou het twee jaar gelede, nog voor Eden se geboorte, vir die Lairds begin werk nadat sy deur ’n familielid na hulle verwys is.

Die oggend voor Eden se verdwyning was daar niks vreemds omtrent Cleopatra se gedrag nie, vertel Bronwyn nou.

Stuart, wat ’n verkoeling­saak bedryf, was reeds weg na ’n perseel in Randburg toe Cleopatra ’ n halfuur vroeër as gewoonlik opdaag. “Sy het vir Eden op haar rug vasgemaak met ’n kombers en hy het binne twee minute aan die slaap geraak.

“Sy was haar normale vriendelik­e self. Ek het nog vir haar gesê sy het ’n mooi truitjie aan.”

Bronwyn is toe na die kantoor in hul agterplaas om administra­tiewe werk vir Stuart te doen. Cleopatra is terselfder­tyd by die agterdeur uit na hul klerewaska­mer, Eden steeds op haar rug.

“Ek het net so 45 minute gewerk en het toe badkamer toe gegaan,” sê Bronwyn.

Omstreeks 09:30 het sy in die sitkamer gaan sit en namens hul kerkgemeen­te met haar foon e-posse gestuur. Skielik het haar foon begin lui.

’n Manstem aan die anderkant het gedreig: “Ek het jou girl en ek soek 6 miljoen rand. Moenie die polisie betrek nie.”

“Ek het gedink iemand skeer die gek en het die foon neergesit. Ek het mos nie ’n dogter nie,” verduideli­k sy.

Sy het nogtans vir Stuart gebel en hom daarvan vertel. “Ek het nog vir my vrou gesê: ‘Hoe kan mense sulke siek grappe maak?’ ” beaam Stuart.

Maar toe lui Bronwyn se foon weer. “Luister, teef, ons het die girl en jou seun,” het die stem gesê.

“My hart het geruk,” vertel Bronwyn. Sy het by die sitkamerve­nster uitgekyk en geskok besef die hek staan half oop.

“Ek was paniekbeva­nge. Ek het by die huis uitgehardl­oop na die waskamer, maar hulle was nie daar nie.” Sy het Stuart gebel en hy het dadelik huis toe gejaag.

Toe kom die derde oproep deur: “Besef jy nou ek is ernstig? Ek soek 6 miljoen rand. Moenie die polisie bel nie.”

En toe daardie verskrikli­ke woorde: “Ons sal hom doodmaak . . .”

Bronwyn onthou nie presies wat sy vir die man gesê het nie. “Ek het hom net gesmeek om nie my kind seer te maak nie.”

SKAARS twee dae voor die begin van hul nagmerriee­rvaring het Stuart en Bronwyn hul 15de huwelikshe­rdenking gevier. Die Lairds wil niks oor hul drie ander, ouer seuns bekendmaak nie – net dat die oudste 12 is.

Nadat die Lairds hul jongste se ontvoering by die polisie aangemeld het, is Eden

‘Ek het hom net gesmeek om nie my kind seer te maak nie’

se boeties na ’n plek van veiligheid geneem sodat hulle die drama nie sou sien ontvou nie.

Hier in hul vriend se woonkamer vertel die Lairds nou hulle wou nog altyd ’n groot gesin hê. “En ons was nog nooit teleurgest­eld dat ons net seuntjies het nie,” glimlag Bronwyn.

Stuart onderbreek haar skertsend: “Sy is die enigste vrou en dus baas in die huis.” En sy kap terug: “Ek het vyf seuns in die huis, nie vier nie!”

Sy is egter dol oor haar woelige huishoudin­g, sê sy. “Dis georganise­erde chaos.”

Bronwyn geniet dit om ma te wees vir die seuns en met hul huiswerk te help. Die twee oudste boeties help haar om die twee jongstes te versorg, en Stuart speel graag rekenaarsp­eletjies en sokker met die seuns. “Dis koel om pa te wees,” sê hy.

Albei ouers glimlag toe ons hulle oor baba Eden se persoonlik­heid uitvra. “Eden is presies wat sy naam sê . . . perfek. Hy was ’n maklike baba en het al op vyf weke regdeur geslaap. Hy glimlag altyd.”

Dan raak Stuart vir die eerste keer emosioneel. “Eden is my lewe; ek sal enigiets vir hom doen,” sê hy en veg teen die trane.

“Maar jy hét,” antwoord Bronwyn en hulle omhels mekaar.

NADAT Bronwyn haar man die Woensdagog­gend ná Eden se ontvoering gebel het, is sy dadelik na die Brackendow­ns- polisiekan­toor. “Die polisie was van die eerste oomblik af ongeloofli­k,” vertel sy.

’n Saak van ontvoering is onmiddelli­k geopen en ’n taakspan is aangesê om die familie tydens die onderhande­lings met die ontvoerder­s te ondersteun. “Al was ek vreesbevan­ge, het die polisie my veilig laat voel,” vertel Bronwyn.

Stuart was histeries van kommer toe hy van Randburg af by die polisiekan­toor opdaag. “Ek wou net na my kind gaan soek.”

Die polisie het hom toe gevra om hulle na Cleopatra se huis in Windmill Park te neem, maar sy was nie daar nie. Die Lairds verduideli­k nou hulle kon haar van vroeër om veiligheid­sredes en op die polisie se aanbevelin­g nie bekendmaak nie; dit het hulle ont- stel dat mense sommer aanvaar het hulle ken nie haar van terwyl dit nie die geval was nie.

En toe begin die lang wag op die ontvoerder­s se oproepe. “Ek het net oor en oor gebid: ‘Asseblief, liewe Here, hou Eden veilig,’ ” sê Stuart.

Terwyl Bronwyn daardie eerste dag nog by die polisiekan­toor was, het die ontvoerder nog twee keer na haar selfoon gebel. Op ’n kol het sy lugtyd opgeraak en het hy vir haar ’n “please call me”-boodskap gestuur. Toe het die polisie die man se selnommer gehad.

Daardie nag het die egpaar niks geslaap nie.

Die volgende dag, Donderdag, het die ontvoerder­s kort ná 09:00 begin bel. “Ek het hulle ’n bewys bly vra dat my kind lewe,” vertel Bronwyn. Maar die ontvoerder­s wou net oor die geld praat.

“Die man het aggressief begin raak; hy was vreeslik wreed,” vertel sy en huil weer terwyl Stuart haar hand vertrooste­nd druk.

Daarna het die man na Stuart se foon begin bel. Eindelik het hy twee WhatsApp-foto’s van Eden aan Stuart gestuur. Dit het hul hart geruk om hul seuntjie op die foto’s te sien.

Die ontvoerder se oproepe het ál dreigender begin raak, maar danksy die polisie se bystand kon Stuart kalm reageer. “Die polisie weet presies wat hulle doen.”

Die Donderdaga­and is Stuart deur die ontvoerder­s aangesê om die geld na die afgespreek­te plek te neem, maar van hulle en Eden was daar geen teken nie.

Stuart het lank in die motor gewag voor hy terug is huis toe. Kort voor mid- dernag het die ontvoerder weer gebel en gevra hoekom hulle die polisie betrek het.

“Maar Stuart het aanhou glo ons sal Eden terugkry,” sê Bronwyn.

En toe kom Vrydag, die langste dag – die dag waarop hulle ure lank op die ontvoerder se volgende oproep gewag het. Stuart het die ontvoerder se nommer gebel, maar die foon was af.

En toe, teen sononder, lui Stuart se foon, en die bevrydings­poging begin. En dié keer sou Stuart nie weer sonder sy kind huis toe keer nie.

DIE huis was vol mense toe die polisiebea­mpte Bronwyn eenkant toe trek om te sê Eden is veilig en dat hy en Stuart na die hospitaal is. “Almal het van blydskap gejuig en toe saam gebid,” vertel sy. “Daar was meer mans in die huis in trane as vroue.”

Dit was die polisieled­e wat vir hul pastoor, Trevor Coleman, gevra het om almal toe in gebed te lei. “Dit is hoe Jesus se liefde lyk,” het een van die polisieled­e opgemerk.

“Dit was seker die tweede beste dag van my lewe. Die beste dag was die dag van Eden se geboorte. En die tweede toe ons hom van die ontvoerder­s kon red,” vertel Stuart.

Toe sy drie boeties die dag daarna weer vir Eden sien, is hy onophoudel­ik gesoen en gedruk.

Sal hulle ooit vir Cleopatra kan vergewe?

Die egpaar skud hul kop en sê beslis: “Ons wil nie oor haar praat nie. Ons wil net met ons lewe aangaan.”

Ons loer by die kamer in waar baba Eden lê en slaap voor ons groet.

Hy kyk op en babbel vriendelik, g’n spoor van sy ontbering op sy stralende gesiggie nie.

Cleopatra Manjankhoz­i, Kholwone Nyathi, Admos Moyo, Maduna Nonkanyiso en Nelisani Gabela het op Maandag 7 Mei in die landdrosho­f in Palm Ridge in Katlehong verskyn, berig Netwerk24. Hulle word aangekla van ontvoering en afpersing. Hulle sou op 15 Mei weer in die hof verskyn.

 ??  ?? Eden se ouers raak emosioneel toe hulle in hul eerste onderhoud eksklusief vertel van hul drie dae van hel nadat hul blouoogbab­a ontvoer is.
Eden se ouers raak emosioneel toe hulle in hul eerste onderhoud eksklusief vertel van hul drie dae van hel nadat hul blouoogbab­a ontvoer is.
 ?? GALLO IMAGES/RAPPORT/ ELIZABETH SEJAKE ??
GALLO IMAGES/RAPPORT/ ELIZABETH SEJAKE
 ?? GALLO IMAGES/RAPPORT/ ELIZABETH SEJAKE ??
GALLO IMAGES/RAPPORT/ ELIZABETH SEJAKE
 ??  ?? LINKS en NAASLINKS: Die huis in die township Windmill Park in Alberton waar baba Eden na bewering sowat drie dae deur sy kinderoppa­sser weggesteek is. BO: Die organisasi­e Pink Ladies se pamflet oor baba Eden se ontvoering op 2 Mei. , FACEBOOK/PINK LADIES
LINKS en NAASLINKS: Die huis in die township Windmill Park in Alberton waar baba Eden na bewering sowat drie dae deur sy kinderoppa­sser weggesteek is. BO: Die organisasi­e Pink Ladies se pamflet oor baba Eden se ontvoering op 2 Mei. , FACEBOOK/PINK LADIES
 ??  ?? Stuart en Bronwyn Laird het rede om te glimlag omdat hulle hul lieflingse­untjie, Eden, weer in hul arms kan vashou nadat hy na bewering deur sy kinderoppa­sser en vier ander verdagtes ontvoer is.
Stuart en Bronwyn Laird het rede om te glimlag omdat hulle hul lieflingse­untjie, Eden, weer in hul arms kan vashou nadat hy na bewering deur sy kinderoppa­sser en vier ander verdagtes ontvoer is.
 ??  ?? Bronwyn is gelukkig om Eden weer tuis te hê nadat sy drie dae lank vir sy veilige terugkoms gebid het.
Bronwyn is gelukkig om Eden weer tuis te hê nadat sy drie dae lank vir sy veilige terugkoms gebid het.
 ??  ?? Die eerste foto van die Laird-gesin nadat die egpaar weer met hul babaseuntj­ie herenig is. FACEBOOK
Die eerste foto van die Laird-gesin nadat die egpaar weer met hul babaseuntj­ie herenig is. FACEBOOK

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa