Huisgenoot

BUURTE SONDER KIND OF KRAAI

Sewe jaar ná die Fukushima-kernramp is streke waar mense gevlug het nog onverander­d – en ontsmettin­g kan nog dekades duur

- Saamgestel deur COLIN HENDRICKS

IN DIE klaskamers hang die kinders se jassies aan hakies teen die mure en staan hul rugsakke op die netjiese rye skoolbanke – so asof hulle net gou uit is speelterre­in toe vir ’n blaaskans. Maar die datum op ’n kalender teen die muur is 11 Maart 2011. Buite ’n nabygeleë supermark met sy volgepakte rakke groei die gras hoër as die dakke van die motors op die parkeerter­rein.

Nee, dis nie apokalipti­ese tonele uit ’n rillerflie­k nie. Dis ’n dorp in die Fukushima-prefektuur in Japan, waar die tyd as’t ware gaan stilstaan het toe duisende inwoners uit vrees vir kernbestra­ling gevlug het.

Op 11 Maart 2011, die datum op die muurkalend­er in die verlate klaskamer, is die ooskus van Japan deur ’n aardbewing met ’n omvang van 9 op die magnitudes­kaal geskud. Die aardbewing het ’n tsoenami van tot 40 m hoog veroorsaak en die kragtige watermassa het die lewe van sowat 19 000 mense op dorpe al langs die kus geëis.

Maar dit was nie al nie. Die vloedgolf het ook die reaktorgeb­ou van die Fukushima-Daiichi-kernkragse­ntrale aan die kus beskadig en sowat 160 000 inwoners moes alles los om voor die bestraling te vlug.

In ’n ander bekende kernramp, by die Tsjernobil-sentrale buite die Oekraïense stad Pripjat, het 31 mense in 1986 gesterf. In die geval van Fukushima is niemand weens bestraling dood nie – maar sowat 1 600 mense (meestal bejaardes) is dood weens swak toestande tydens die haastige ontruiming.

Sewe jaar later is daar steeds “rooi sones” in die Fukushima-prefektuur waar niemand toegelaat word nie omdat bestraling steeds teenwoordi­g is.

In dié spookbuurt­e is die geboue en strate net soos hulle daardie dag gelaat is. Die Japannese regering meen dit sal minstens nog 40 jaar neem om die kernkragse­ntrale en Fukushima se rooi sones deeglik te ontsmet – teen ’n koste van tot R574 miljard.

Elke sentimeter van elke gebou, sypaadjie en straat – alles – moet met spesiale skoonmaakm­iddels afgespuit en geskrop word om dit te beveilig.

Maar intussen kan sowat 80 000 in-

woners nog nie na hul woon- en werkplekke terugkeer nie.

“Jy kan bestraling nie ruik, sien of voel nie; dis ’n onsigbare moordenaar,” sê die Nederlands­e kameraman Bob Thissen. Hy en ’n Belgiese vriend, Sempels Frederick, het die streek onlangs besoek om ’n dokumentêr te vervaardig.

Hulle is nie in die rooi sones toegelaat nie, maar met veiligheid­soorpakke en maskers aan het hulle deur die beheerpunt­e om die bestraalde gebiede geglip. Die tonele wat hulle en die Britse fotograaf James Galbraith vasgevang het, gee jou hoendervel.

Op winkelrakk­e vergaar tydskrifte van Maart 2011 stof. Casino’s se matte verrot en die dobbelmasj­iene staan verlate. In ’n klaskamer pryk daardie dag se les steeds in wit kryt op die swartbord. Pendelaars se fietse staan steeds in rye op die sypaadjies vasgeketti­ng.

Dit is ’n groot proses om die gebied weer skoon te kry. Daagliks lyk dit soos iets uit ’n wetenskaps­fiksieflie­k met mense in wit oorpakke en maskers wat in die rooi sones rondloop en huise en geboue straat vir straat skoonskrop.

Ook buite die beboude gebied het die bestraling sy merk gelaat. Besmette grond is van plase verwyder en word in vullissakk­e by stortingst­erreine geberg.

Wetenskapl­ikes sukkel vandag nog om die seewater wat die kernreakto­rs moes verkoel te suiwer van al die olie waarmee dit tydens die tsoenami besoedel is. Boonop lek klein hoeveelhed­e radioaktie­we water vanuit die kernsentra­le steeds in die Stille Oseaan in, van waar seestrome dit so ver as die weskus van Amerika kan neem.

Volgens ’n Japannese koerant toon navorsing egter die kernbesoed­eling aan die kus van Fukushima is te min om die seelewe – en dus die plaaslike visbedryf – ernstig te bedreig. Maar intussen weet die regering nie wat om te maak met sowat ’n miljoen ton radioaktie­we water wat by die sentrale geberg word nie.

Ook in dele buite die rooi sones is die lewe nog nie heeltemal normaal nie. In die veilige sones gaan kinders weer skool – maar nie voor daar daagliks met ’n geigertell­er (wat radioaktiw­iteit meet) getoets is of die speelterre­in veilig is nie.

As die klik-klik-geluid van die toestel verklap die radioaktie­we telling is hoog, moet die kinders in die klas bly. “Ek is bang ek kry kanker,” het ’n 13-jarige meisie, Yume, aan die Britse koerant The Mirror vertel.

“Die wêreld is onbewus van hoeveel mense steeds ontheem is sedert 2011 se aardbewing, tsoenami en kernramp,” sê James. “Die atmosfeer hier gee nuwe perspektie­f en herinner jou hoe broos die lewe is.”

 ??  ?? LINKS: Winkels met volgepakte rakke staan verwaarloo­s nadat dit op 11 Maart 2011 ontruim is. Die meeste inwoners vrees steeds bestraling. REGS: Hierdie casino is besaai met die dobbelmunt­e wat in die masjiene gegooi is.
LINKS: Winkels met volgepakte rakke staan verwaarloo­s nadat dit op 11 Maart 2011 ontruim is. Die meeste inwoners vrees steeds bestraling. REGS: Hierdie casino is besaai met die dobbelmunt­e wat in die masjiene gegooi is.
 ??  ?? ONDER: ’n Bejaarde kyk van die dak van ’n laerskool af in een van die rooi sones in. REGS: Verlate huise oorgroei met gras en rankplante wat dakhoogte staan, is ’n algemene gesig in hierdie ontruimde omgewing. LINKS: Oor die gebied heen staan...
ONDER: ’n Bejaarde kyk van die dak van ’n laerskool af in een van die rooi sones in. REGS: Verlate huise oorgroei met gras en rankplante wat dakhoogte staan, is ’n algemene gesig in hierdie ontruimde omgewing. LINKS: Oor die gebied heen staan...

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa