DIE GROOTSTE DRAMA
‘Daar was doodsdreigemente en ons het persoonlike lyfwagte gehad. Dit was baie opwindend om al die aandag te kry, maar ook verwarrend’
Met die jare het opspraakwekkende oomblikke en drama ons mooistes al agter die skerms oorval.
Adele Kruger, wat in 1957 as Mej. SuidAfrika gekroon is, het ’n finalis geword nadat haar professor se dogter foto’s van haar geneem het vir ’n fotografiekompetisie. “’n Paar maande later het ’n joernalis van die Sunday Times my gebel en gesê ek is ’n finalis vir Mej. Suid-Afrika. Ek kon dit nie glo nie,” het sy tydens ’n onderhoud vir ’n dokumentêr, A Salute to Beauty: 40 Years of Miss South Africa, gesê. “Hulle het nog foto’s van my kom neem en ’n paar maande later het ek gehoor ek het gewen.”
Moya Meaker, Mej. Suid-Afrika van 1959, se pa was ’n vlieënier en hy het haar na die Mej. Wêreld-kompetisie in Londen gevlieg.
Denise Muir (1960) se familie was ontsteld omdat sy in swemdrag op die verhoog moes deelneem. “Haar familie het dit nie goedgekeur nie en het kontak met haar verbreek,” vertel Louis Fourie, onafhanklike argivaris van Pretoria. Sy is in 1992 oorlede.
In 1968 se Mej. Heelal-kompetisie moes die Suid-Afrikaanse deelnemer, Monica Fairall, haar laaggesnyde aandrok op die nippertjie vir iets anders verruil omdat die organiseerders gemeen het dit is te gewaagd.
Lynn Massyn, Mej. Suid-Afrika 1976, en Lydia Johnson, Mej. Afrika-Suid, het albei vir die eerste keer oorsee gegaan toe hulle aan Mej. Wêreld gaan deelneem het. Die feit dat daar twee deelnemers van Suid-Afrika was, het baie deelnemers ontstel en meer as ’n dosyn lande het hul deelnemers onttrek. “Ons kon nie onttrek nie, want ons moes by ons standpunt staan. Daar was doods- en bomdreigemente en ons het persoonlike lyfwagte gehad, so dit was baie opwindend aan die een kant om al die aandag te kry kry, maar dit was ook verwarrend,” het Lynn in ’n vorige onderhoud gesê. “Ons is nooit toegelaat om saam afgeneem te word nie. Daar moes altyd ’n ander meisie tussen ons staan.”
Weens sanksies in die apartheidsjare mag Suid-Afrika tussen 1978 en 1990 nie aan die Mej. Wêreld-kompetisie deelgeneem het nie.
Mej. SA 1979, Karen Sickel, het ’n storm ontketen toe die nuus lek sy woon by haar kêrel. Tot vandag mag die wenners nie in ’n “openbare verhouding” wees nie.
Michelle Bruce, Mej. Suid-Afrika van 1989, s se verhouding met Tony Leon, die latere DA-leier, was groot nuus toe hulle in 1994 pres. Nelson Mandela se inhuldiging saam bywoon. Hy was toe nog leier van die Demokratiese Party. Michelle het ook opspraak gewek toe sy kondome bemark.
In 2012 het ’n herrie losgebars toe Melinda B Bam aankondig sy wil eerder aan die Mej. Heelal- as die Mej. Wêreld-kompetisie deelneem. Allerlei wilde gerugte het daarna die ronde gedoen, maar Melinda het verduidelik s sy meen die Mej. Heelal-kompetisie bied vir haar beter geleenthede as sy die sakewêreld sou betree.
Drie semifinaliste is in 2015 gediskwalifiseer omdat hulle tatoeëermerke het. Op die inskryfvorm vir die Mej. SA-kompetisie staan deelnemers mag geen “sigbare tatoeëermerke” hê nie. Die drie deelnemers se tatoeëermerke is opgemerk toe hulle tydens ’n uitdunronde in swemdrag verskyn.
Kort nadat Demi-Leigh Nel-Peters verlede jaar as Mej. Suid-Afrika gekroon is, het 10 van die deelnemers gekla die kompetisie is in haar guns “bekook”. Hulle het onder meer beweer die organiseerders het meer inskrywings oor Demi-Leigh in die sosiale media gemaak, haar liefdadigheidsprojekte het voorkeur geniet en sy het danksy haar afrigter, Werner Wessels, ’n onregverdige voorsprong geniet. Die Mej. SA-organiseerders het gesê die bewerings is “ongegrond”.