MA, DOGTER STRY OOR MUISNESTE
V My dogter is 17 en in matriek. Ons baklei die laaste tyd vreeslik baie oor al die kêrels en muisneste. Ons was altyd so na aan mekaar, maar nou voel dit asof ons vyande word.
Ek wil seker maak sy stap die regte pad deur volgende jaar te gaan studeer. Sy sê sy sal, maar ek wonder of sy met al dié muisneste ooit haar studie sal voltooi. Wat moet ek in hierdie stadium toelaat en wat nie?
OH op KA
A Net so moeilik soos dit vir jou is om ’n ouer van ’n jong volwassene te wees, is dit vir jou kind om ’n jong volwassene te word. Gemengde gevoelens oor identiteit en liefdesverhoudings speel nou ’n groot rol. Jong volwassenes weet dikwels nie hoe om hul gevoelens uit te druk nie en is nóg vis nóg vlees. Dit lei tot innerlike spanning en stres in verhoudings.
Wisselende hormoonvlakke vererger hul wipplankemosies. Voorts maak senuagtigheid oor akademiese prestasies, toekomsbesluite en vriende en kêrels van tieners en jong volwassenes wandelende tydbomme.
Hoe negatiewer jy oor jou dogter – nou al ’n jong volwassene – en oor haar lewe is, hoe moeiliker sal jul verhouding wees. Bemeester dus die kuns om ernstig met haar oor haar verliefdheid en verhoudings te praat terwyl jy haar ook sover kry om op haar skoolwerk te bly konsentreer.
Gesels steeds met haar oor haar toekoms, maar vra ook vrae oor wat sy graag uit ’n verhouding wil hê en waar sy haar oor vyf jaar sien.
Dit is belangrik om veral met die oog op die matriekeindeksamen te onderhandel oor perke en verwagtings wat haar afsprake met kêrels betref. Doen dit liewer vroegtydig as om later tydens ’n konfrontasie voorwaardes te stel. Gee haar kans om tot die gesprek by te dra.
Benewens onvoorwaardelike liefde en steun kort jong volwassenes leiding oor hoe hulle hul tyd moet verdeel. Deur haar tegnologietyd in te perk kan julle meer tyd vir haar huiswerk wen.