Deur CHRIS MARNEWICK (Protea Boekhuis, R250)
“Vroueadvokate se kleedkamer; dit is soos ’n vrou se handsak, meen ek. Net ’n filosoof of ’n gek sal daar inloer,” sê Chris Marnewick.
In sy regsroman Redelike Twyfel is sy hoofkarakter, Manon Viljoen, ’n jong advokaat wat dikwels ’n draai maak in hierdie verkwiklik beskryfde ruimte met sy duur handsakke, brevette en boeke wat rondlê en waar haar kollegas tussen hul sake deur kans kry vir borsvoed en sekspraatjies sonder ’n wag voor die mond.
Chris het self ondervinding hiervan, want hy was 40 jaar in die regsberoep, wat by senior advokaat in Durban geëindig het. Hy het in 2011 afgetree en woon nou in Auckland, Nieu-Seeland.
“In Durban was eers aparte kleedkamers, maar een van die vroue het daarop aangedring om die mans se kleedkamer te gebruik,” vertel Chris. “Ek het nie gekla nie – ek het in ’n huis vol vroue grootgeword – maar een van die ouer manne het daar uitgestorm toe een van die vroue inderdaad haar baba begin borsvoed.”
Adv. Viljoen is so slim soos die houtjie van die galg in die hof en jaag graag naweke op haar motorfiets rond. Die enigste raakpunt aan die stereotipe van die storieboekheldin is dat sy blond is.
“Die Manon-karakter is miskien ’n sameflansing van verskeie vroueadvokate wat ek geken het.
“Om ’n bietjie kleur aan haar te gee, het ek haar op ’n motorfiets gesit. Ek het ook nie juis geweet hoe ’n vrou soos sy ’n liefdesteleurstelling sou hanteer nie. Op die ou end het dit goed uitgewerk terwyl sy om die beurt met haar fiets en haar gevoel vir Nantes (die regter met wie sy as student deurmekaar was) gestoei het.
“Ek het ’n kleintjie dood aan stereotipes in die algemeen en nog meer so in spanningsverhale,” sê Chris. “Die speurders kan tog nie almal alkoholiste en vroueslaners wees nie. En die vroue kan nie altyd swakkelinge wees nie.”
Die bebloede-handregsreël waarvolgens adv. Charles Mouton niks van sy vrou se miljoene gaan erf indien hy haar vermoor het nie, is nou ter plaatse op baie mense se lippe weens die Henri van Breda-saak.
“Ek het in 1994 so ’n moordsaak gedoen toe ’n jong man sy ma, ouma en oupa doodgeskiet het. Ons het vinnig moes leer hoe so iets binne ’n gesin kan gebeur.
“Daar is net drie moontlikhede volgens die kundiges en statistieke: kinders wat psigoties is (‘the mad’), kinders wat psigopaties is (‘the bad’) en kinders wat mishandel is (‘the sad’). Die terminologie is Amerikaans; ek sou meer diplomaties wou w wees. My saak het in i die ‘sad’kategorie k geval.” g
Chris het sy eerste roman, Shepherds & Butchers, wat hy later oorgeskryf het as In die Laksman Se Skoot, in 2002 begin. “Die fliek van Shepherds het dié maand hier in Nieu-Seeland op Sky Movies gewys.”
Die manuskrip vir Redelike Twyfel het ontstaan tydens Nanowrimo (National Novel Writing Month). Dit is ’n aanlyn uitdaging om 50 000 woorde te skryf in die 30 dae van November.
“Ek het Nanowrimo al drie keer gedoen. In die Laksman Se Skoot en Clarence van Buuren – die Man agter die Donkerbril het ook so ontstaan.”
Chris, wat in Afrikaans en Engels skryf en self sy boeke vertaal, sê hy het nog nie ’n skryfkursus bygewoon nie, maar lees wyd oor die onderwerp. “Ek lees juis tans How Novels Work deur John Mullan. Ek leer deur te lees en te skryf.”