Hulle bly glo hul seun sal terugkeer
Elf jaar ná hul seun se verdwyning het hulle vergeefs gedink hy is Happy Sindane, maar aan die vooraand van sy 34ste verjaardag bly hulle glo hy sal terugkeer
HUL seun was net sewe jaar oud toe hy 26 jaar gelede spoorloos verdwyn het. In 2003, 11 jaar ná hul lieflingkind se verdwyning, het die hoop in hul hart kortstondig opgevlam toe ’n 16- jarige seun in die Bronkhorstspruit-polisiekantoor instap met ’n verhaal wat die land laat gons het. Die seun het vertel hy is ’n wit kind wat deur ’n swart gesin ontvoer en in KwaMhlanga in Mpumalanga grootgemaak is. Sy naam, het hy gesê, is Happy Sindane.
’n Rukkie lank het die egpaar van Danville in Pretoria geglo Happy is hul verlore seun, Jannie Botha.
Miskien, net miskien, het hulle gehoop, sou Jannie sy pad weer huis toe vind.
Maar kort voor lank het dit geblyk Happy was nie hul seun nie, en sy verhaal was boonop vals.
Happy se lewensverhaal het in 2013 tot ’n einde gekom toe hy vermoor is, maar die gesin vir wie sy storie vlugtig hoop gebring het, het aanhou soek na die seun wat toe nie Happy was nie.
Vandag, aan die vooraand van Jannie se 34ste verjaardag, glo sy ouers steeds Jannie sal die een of ander tyd huis toe kom.
“Ons kan maar net hoop; dis al wat ons kan doen,” sê sy pa, Jan Botha (64), hier waar ons saam met hom en sy vrou, Sarie (60), in hul huurhuis in die Leeuwfontein-gebied oos van Pretoria kuier.
Jan was destyds ’n skoonmaker by die atoomenergie- navorsing sentrum in Pelindaba, maar is nou afgetree.
Jan beduie met sy vinger na bo. “Dis die man daar Bo. Dis Hy wat vir ons hoop gee.” Langs hom knik Sarie haar kop instemmend.
Want hoe kan ’n ouerpaar ooit ophou wonder wat van hul verlore seun geword het?
SARIE vertel sy onthou daardie dag in 1992 toe haar bruinkopseuntjie weggeraak het soos gister. “Want ’n ma se hart kan mos nie so ’n ding vergeet nie.” Klein Jannie het saam met maatjies videospeletjies in ’ n winkel naby aan die Bothas se huis gespeel, maar het weggedwaal. Toe die maatjies hom later soek, was hy net weg.
Sy onthou hoe hulle haar kom roep en gesê het: “Tannie, ons het vir Jannie gesoek, maar ons kry hom nie.”
Daarna het die gebroke ouerpaar saam met die Danville-gemeenskap en die polisie dagin en daguit na hom gesoek.
“Ons was straatop en straataf,” vertel Sarie verder. “Niks. Hy was net weg. Later weet jy nie watter kant toe nie.”
In daardie tyd het die ouerpaar ’n berader by hul kerk gaan sien om die gebeure te verwerk. Dié het vir hulle vertel hulle moet net bly glo hul seun sal gekry word.
“Wat kan jy anders doen?” vra Jan weer. “Jy moet net glo.”
Dan raak hy ergerlik en leun vooroor op sy stoel. “Weet jy wat my kwaad gemaak het daardie tyd? Die mense wat gesê het ek moet hom dood gaan verklaar by die polisie. Dit was so ’n jaar
nadat hy weggeraak het. Maar hoe kan ek dit doen?” wil hy weet. “Want dan maak jy mos jou geloof dood.”
Dis juis hul geloof wat destyds die hoop laat ontstaan het dat Happy in der waarheid hul Jannie is. Aan die polisie het Happy vertel hy is deur sy “grootmaakouers” as ’n werkslaaf aangehou nadat hy ontvoer is. Omdat hy minderjarig was, is hy deur die polisie in ’n plek van veiligheid geplaas tot die saak uitgepluis kon word.
Jan en Sarie het Happy se storie in die media gelees en die polisie gekontak. Dié het hulle toe versoek om na die Bronkhorstspruit- polisiekantoor te gaan. Binne ’n week het vriende die egpaar Bronkhorstspruit toe geneem, waar hulle bloedmonsters laat neem het om DNStoetse te doen.
“Jou kop is maar deurmekaar. Ons het nie eintlik geweet wat om toe te dink nie,” herleef Jan daardie rit. “Jy hoop maar dit is jou kind, maar jy weet nie wat om te verwag nie.”
Maar toe hulle Happy die eerste keer by die polisiekantoor sien, het die werklikheid hulle getref. Jan het Happy een kyk gegee en geweet dis nie sy kind nie, vertel hy. “Dis ’n ding wat jy net weet.”
Sowat vier weke later het die uitslae van die DNS-toetse bevestig Happy is nie hul kind nie.
Daarna het verskeie ander mense vermoed Happy kon hul kind wees, maar in die polisieondersoek is eindelik bevind sy storie was fiksie en hy was die kind van ’n huiswerker van Midrand en haar Duitse werkgewer.
Sy ma het hom kleintyd vir ’n vriendin gegee, en dié het hom aan haar pa, Koos Sindane in KwaMhlanga, gegee. Koos het hom grootgemaak en Happy het hom as sy oupa geken.
Op 16 het Happy weggeloop en sy pad het vlugtig met dié van die Bothas gekruis.
In 2013 is Happy se liggaam in ’n straat in Tweefontein, Mpumalanga, gevind. Hy is met klippe doodgegooi. ’n Vriend van hom is vir die moord in hegtenis geneem, maar later vrygelaat weens ’n gebrek aan bewyse. Happy was 28 met sy dood. Die Bothas het destyds gehoop hul eie seun se lot sou ligter, mooier en sagter uitspeel.
Die egpaar het nog ’n seun, Fanie, wat as ’n veiligheidsbeampte in die omgewing van Roodeplaat werk.
Fanie was skaars nege toe sy kleinboet wegraak. “Ek kan nie veel van daardie tyd onthou nie,” erken hy vandag.
“Ek onthou eintlik maar net hoe baie ons saamgespeel het saam met van die ander maatjies. Dit was maar tipiese kinderspeletjies soos wegkruipertjie en cowboys en kroeks.”
Hy vertel hy het nie eintlik destyds verstaan wat gebeur het nie, maar onthou dat hy sy broer baie gemis het.
“Maar wanneer jy grootword, leer jy om te aanvaar. Net die Here sal weet wat gebeur het.”
As volwassene moes hy sy ouers dikwels ondersteun en moed inpraat, “want hulle het nog nooit aanvaar dat Jannie weg is nie”.
EN NOU, aan die vooraand van Jannie se verjaardag, sit die paar in die tuin voor hul huis en kyk na die hek. Sê nou net die hekkie gaan op ’n dag oop en die man wat instap sê: “Pa, ma, dis ek.”
Hy het deur die jare geleer jou geloof is jou geloof, verklaar Jan. “Ons kan nie nou ons geloof los en dink hy is dood nie. Want wat moet ek dan vir hom sê as hy die dag dalk voor daardie hek kom stop?”
Hy dink wel hulle sal hom nie herken nie, “want ’n man se gesig verander mos wanneer hy eers oor 21 is”.
Hulle het nie meer baie foto’s van Jannie as klein seuntjie nie aangesien hulle destyds alles vir die polisie gegee het, sê Sarie. “Ons het niks van hom oor nie. Hy is net in ons gedagtes.”
In die tweevertrekhuis waarin hulle woon, lê ’n Bybel op ’n plastiekstoel langs die dubbelbed. Hulle verwyl hul dae met TV kyk, “want wat anders moet ons doen?” sê Jan.
Maar hy is lief vir tuinmaak en dit hou hom ook besig. Teen die buitemuur van die huis hang rye oopgesnyde plastiekkoeldrankbottels met vetplante daarin.
Elke verjaardag is maar hartseer, vertel Sarie, al is dit nou 26 jaar later en was daardie kortstondige ontmoeting met Happy die enigste opflikkering van hoop in hul lang ervaring van verlies en verdriet.
Maar hulle sal nooit tou opgooi nie, sê albei beslis. Dis, ná alles, al wat oorbly.
‘Ons kan nie ons geloof los en dink hy is dood nie. Wat moet ek dan sê as hy dalk voor die hek stop?’