Huisgenoot

Toppolisie­man skryf oor sy lewe

Die toppolisie­man Jeremy Vearey het ’n boek uitgebring oor sy merkwaardi­ge lewe: die konstante gevaar, sy marteling, tronkstraf en jare as Madiba se lyfwag

- Deur KIM ABRAHAMS

HY LYK waaksaam terwyl hy oor die parkeerter­rein na die koffierest­aurant aangestap kom, amper soos iemand wat bewus is van wat reg rondom hom aangaan en niks of niemand ten volle vertrou nie. Twee treë agter hom – diskreet – loop sy lyfwag. Dis maar ’n gewoonte om altyd op die uitkyk te wees na gevaar, erken genl.maj. Jeremy Vearey later. ’n Mens weet nooit.

In tipiese polisiewoo­rdeskat verduideli­k hy: “Wanneer jy vir die intelligen­sieeenheid werk, is jou enigste betrokkenh­eid by jou omgewing om dit vir vyandelike aktiwiteit te bespied.

“Wanneer ek ’n restaurant of kroeg binnestap, kies ek altyd die sitplek wat my die beste uitsig gee. Ek sal kyk na die struikelbl­okke wat in my pad sal wees as ek skielik moet padgee en waar ek kan skuil as daar op my geskiet word. My hele omgewing word ’n operasione­le gebied.”

Dan erken hy: “Ek geniet nou eers die lewe sonder ’n operasione­le oog. Ek kan strand toe gaan sonder om eers dadelik my omgewing vir iets verdags te bespied.”

Vir Jeremy, bevelvoerd­er van Mitchells Plain se polisieklu­ster en hoof van die Wes-Kaap se teenbende-eenheid, is geen gevaar te vergesog nie – hy het al álles gesien: moord en doodslag, skelms en skurke, verskrikli­ke dinge wat ’n leeftyd lank by ’n mens kan bly spook . . .

Al was hy ook ná wyle Nelson Mandela se vrylating in 1990 ’n lyfwag vir dié oudpreside­nt en het hy as toppolisie­man berugte bendeleier­s agter tralies laat beland, het hy nou op 55 een van die prestasies bereik waarop hy die heel trotsste is: Sy memoires is pas uitgereik.

In sy boek, Jeremy vannie Elsies, vertel hy hoe hy as ’n kaalvoet sesjarige sy eerste politieke bewuswordi­ng beleef het en hoe hy in sy later jare sy stryd om geregtighe­id onder die bendes van die Kaapse Vlakte voortgesit het.

Hy het drie jaar lank aan die boek geskryf en moes sy familie vra om al die stukkies onthou in sy lewensverh­aal aanmekaar te help las.

DIT was sy ma, Annette Vearey, wat kleintyd by hom ’n passie vir die politiek gekweek het. Sy was in die 1960’s ’n klerewerke­r in Elsiesrivi­er in die Kaap en was aktief betrokke by organisasi­es soos die Klerewerke­rsunie. Sy was toe al ’n vreeslose vrou wat nie gehuiwer het om enigiemand aan te vat wat moeilikhei­d vir haar seun wou maak nie.

Die polisieman onthou veral een geleenthei­d toe sy ma ingegryp het. Hy was ses en het saam met sy ma, pa Dennis en kleinsus Merle in Elsiesrivi­er gewoon.

Terwyl hy en Annette op ’n dag met die bus op pad was na die noordelike stadsgebie­d Parow, het hy uit die bus gespring toe dit by die terminus stilhou. Opgewonde het hy na ’n duikweg laat vat. Sy ma het geskree hy moet terugkom, maar vergeefs. So beskryf hy dit in sy boek: Die klonkie vaar die duikweg met blinde onskuld in, skrik eers in die donker tonnel wakker en besef dat hy alleen is. Hy voel ’n skop in sy maag en sak hygend inmekaar. Êrens tussen die klanklose trane voel hy hoe ’n groot hand hom aan die oor gryp en sleep-trek na die uitgang.

Die man het gevloek, gedreig en op klein Jeremy geskree. Dit was ’n wit man wat geglo het die bruin seuntjie hoort nie daar nie.

In sy boek skryf hy verder: Maar deur sy trane gewaar hy die silhoeëtte van Ma en ’n paar vroue wat wydsbeen, vuiste op hul heupe, in die helder lig van die ingang paradeer. Een van die vroue het die man vertel

wat hulle met hom sou doen as hy die seuntjie nie laat los nie. Hy het weggehardl­oop.

Jeremy skryf: Toe gebeur daar iets wat Ma se gees van verset teen ongeregtig­heid diep by my ingeboesem het. Sy en haar krygsvroue trek om my saam en trotseer die Whites Only-duikweg sonder dat enige Boere ons keer.

Hy vertel nou dit was vir hom ’n keerpunt. “Jy begin jou ouers vrae vra soos: ‘ Waarom sê daardie bordjie “slegs blankes” en daardie een “nie-blankes”?’ Dit was die eerste keer dat ek daardie bordjies prakties en polities ervaar het.”

Jeremy het onderwys aan die Universite­it van Wes-Kaapland studeer en in 1985 as Engels- en geskiedeni­sonderwyse­r aan die Sekondêre Skool Valhalla in Elsiesrivi­er begin skoolhou. Hy is reeds as student vir die gewapende vleuel van die ANC, Umkhonto weSizwe, gewerf. Dit was toe dat sy werk onder die dekmantel begin het.

In 1987 is die jong onnie uit sy klas ontbied om ’n oproep in die skoolhoof se kantoor te neem. Hy was skaars by die deur uit toe twee lede van die veiligheid­spolisie hom gryp en boei.

Hulle het hom na die hoof se kantoor geneem, waar ’n luitenant, nie die skoolhoof nie, op hom gewag het. Sy dae in die klaskamer was getel.

Hy is aangekla van terrorisme weens sy betrokkenh­eid by Umkhonto weSizwe en in 1987 vir drie jaar na die gevangenis op Robbeneila­nd gestuur.

Dit was tydens die skryf van sy boek moeilik om die gebeure van daardie jare in herinnerin­g te roep, erken hy. “Jy word gemartel tot op ’n punt waar dinge surrealist­ies raak.”

Ná sy vrylating op 10 Junie 1990 het hy by die ANC se intelligen­sievleuel in die Wes-Kaap aangesluit en is hy as lyfwag vir Mandela opgelei. Om vir Mandela te werk het hom anders na die wêreld laat kyk, sê hy. “Madiba het die wêreld as grys gesien – hy het iemand nie as net goed of net sleg beskou nie.”

In dié tyd kon hy dit nie waag om, tipies jong man, verlief te raak nie, vertel hy. “’n Mens wou nie gebind wees aan ’n situasie waar jy emosioneel weerloos kon wees nie. Dit was iets wat die vyand sou kon uitbuit.”

Maar toe kom Bernice Roeland in 1995 oor sy pad nadat ’n gemeenskap­like vriend hulle op Pacaltsdor­p aan mekaar voorgestel het. Dit het alles verander. Hulle is ’n jaar later getroud en het twee opgeskote seuns van 17 en 20.

Jeremy verklap min oor sy gesin; hy het immers al geleer om versigtig te wees.

DIE waaksaamhe­id het veral ingetree toe hy as polisielid bendes begin vasvat. Nadat hy in 1995 weg is as Madiba se lyfwag, is hy na die nasionale intelligen­sieagentsk­ap as ’n adjunkdire­kteur. In 1995 is hy oorgeplaas na die polisiemag met die rang kolonel, waar hy in 2000 bevorder is tot brigadier en in 2011 tot sy huidige rang, generaal-majoor.

In sy eerste jaar in die polisie (1995) het hy en ’n kollega, Gordon Brookbanks, ’n voorstel by die destydse provinsial­e speurhoof, genl.maj. Willem Smit, ingedien oor hoe om bendegewel­d vas te vat.

Hul plan is goedgekeur en hul eerste optrede was teen die berugste bendes, die Sexy Boys, Hard Livings, 28’s, Amer- icans ic en Mongrels. Dit was te danke aan Jeremy en sy kollegas dat die berugte ru Hard Livings-bendeleier Rashied Staggie in 2004 aangekeer is, asook die Sexy Boys-bendeleier Michael Booysen in 2003. Staggie is in 2013 op grond van goeie go gedrag op parool vrygelaat. Booysen se is lewenslank tronk toe gestuur.

Weens sy pogings om bendegewel­d uit ui te wis is hy al baiekeer met die dood gedreig, ge vertel Jeremy. “Kyk, die (bende) 26’s sê ek is kop in een mus met die 28’s, tot hulle besef ek sit 28’s agter die tralies. Dan beskuldig die 28’s my van dieselfde, tot hulle sien ek sit si 26’s agter tralies.”

Intussen was daar ook binnegeveg­te wat sy lewe versuur het. Jeremy en sy polisiekol­lega genl.maj. Peter Jacobs is verlede jaar heraangest­el in hul poste as onderskeid­elik o Wes-Kaapse hoof van misdaadint­elligensie en provinsial­e speurhoof nadat hulle ’n lang hofsaak teen die Suid-Afrikaanse Polisiedie­ns gewen het.

Die twee het hulle in 2016 tot die arbeidshof gewend nadat hulle uit hul poste verplaas is. Hulle het in hofstukke aangevoer hulle is geskuif na poste waar hul kennis van bendegewel­d nie benut kon word nie. Dit was om “suiwer politieke redes”, sê Jeremy nou; “daar was geen logiese verklaring nie.”

Hulle was voor hul verplasing betrokke by die ondersoek na die bedrywighe­de van Christ iaan Prinsloo, ’ n oudpolisie­kolonel wat onwettige vuurwapens aan bendebase verkoop het. Hy is sedertdien skuldig bevind.

Vir Jeremy was die hofsege ’n groot triomf.

AANTYGINGS oor korrupsie is al in sy rigting geslinger, maar Jeremy hou vol dis net vuil spel en pogings om sy goeie naam te beklad juis omdat sy hande skoon is. “As jy op hierdie vlak werk en nie gekorrupte­er kan word nie, wat is die volgende stap?

“Om jou te probeer diskredite­er. Dis hoe dit werk.”

Dan waarsku hy: “Al die mense wat daardie bewerings van korrupsie teen my gemaak het se dag sal kom. As hulle toegelaat het dat bendelede hulle gebruik, sal hulle die gevolge dra . . .”

‘Madiba het niemand as net goed of net sleg beskou nie’

 ??  ?? Ná drie dekades se misdaad- en intelligen­siewerk sê Jeremy Vearey hy kan eindelik ontspan en ’n slag die lewe geniet. Sy outobiogra­fie het onlangs verskyn.
Ná drie dekades se misdaad- en intelligen­siewerk sê Jeremy Vearey hy kan eindelik ontspan en ’n slag die lewe geniet. Sy outobiogra­fie het onlangs verskyn.
 ??  ?? BO: Hy en Bernice is in 1996 getroudget­roud, ’n jaar nadat hulle mekaar ontmoet het. HEEL BO: Jeremy (links) was tot 1995 ’n lyfwag van oudpres. Nelson Mandela.
BO: Hy en Bernice is in 1996 getroudget­roud, ’n jaar nadat hulle mekaar ontmoet het. HEEL BO: Jeremy (links) was tot 1995 ’n lyfwag van oudpres. Nelson Mandela.
 ??  ?? Hy het drie jaar geskryf aan sy outobiogra­fie, Jeremy vannie Elsies. Dis by takealot.com teen R275* te kry.
Hy het drie jaar geskryf aan sy outobiogra­fie, Jeremy vannie Elsies. Dis by takealot.com teen R275* te kry.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa