Huisgenoot

Leanne Manas blom met nuwe leefstyl

Nadat haar gewig lank wipplank gery het, het Morning Live se Leanne Manas met ’n nuwe leefstyl ’n volle 17 kg verloor

- Deur SHANAAZ PRINCE

DIE lekkerte om met haar nuwe lyf te spog is soeter as enige sjokolade, verklaar die donkerkop. Hier staan sy: op 43 ’n volle 17 kg ligter nadat sy maande lank geoefen en haar dieet dopgehou het. Sy voel goed, sê Leanne Manas. Beter as ooit. Die aanbieder van die nuusprogra­m Morning Live op SABC2 dra noupassend­e blou jeans en ’n skouerlose hemp. Waar sy op die trap van haar huis poseer, lyk sy pragtig. En sy weet dit en geniet dit. Ná jare se kitsdiëte en wipplank ry met haar gewig g het sy die leefstyl gevind wat vir haar r werk. Wat’s haar geheim?

“Ek wens daar was een,” sê sy terwyl l sy aan koffie in haar huis in Northcliff, ff, Johannesbu­rg, teug. Haar twee Brus- selse griffonhon­de, Bentley en Zara, sit t stil by haar voete.

“Dit gaan oor wat jy in jou mond sit, t, niks anders nie. Dit is hoekom hulle sê ê ’n lyf word in die kombuis gemaak.”

Die ma van twee erken sy het deur ur die jare ’n paar slegte gewoontes geekweek en moes dit eers afleer om haar ar doelgewig te bereik. “Wanneer my kinnders nie iets wou eet nie, het ek dit in my mond gedruk,” erken sy.

Wanneer sy nou na ou foto’s terugkyk, yk onder meer van toe sy 87 kg geweeg het, is Leanne verstom oor hoe sy haarself in ’n gemaksone laat verval het.

“Ek is oor die jare al deur soveel dinge. Kykers het my gesien toe ek verloof raak en trou. Ek het gegaan van die oulike, maer, jeugdige Leanne tot die maer bruid en toe met my eerste swangerska­p die gelukkige Leanne.

“Ná die eerste baba het ek mooi maer geword, en toe ek aan my dogter die lewe skenk, het ek alles weer aangesit. My gewig het wipplank gery en ek is deur dit alles op regstreeks­e televisie.”

Met dié dat sy in die glanswêrel­d is, word sy omring deur mense wat op hul voorkoms fokus. Tog het Leanne haar voorheen nie veel aan haar gewig gesteur nie. “Ek besef ek moes my gewig dalk ’n bietjie ernstiger opgeneem het. Maar ek is bly ek het nie obsessief geraak nie. Ek was gemaklik in my vel.”

Toe sy verlede jaar ’n kennis sien wat heelwat gewig afgeskud het, het iets in haar gekliek. As dié vrou dit kon doen, het sy gedink, kan sy ook die wilskrag bymekaarsk­raap om dit te doen.

Sy was so geïnspiree­r, sy het by Beate Schulte-Brader van die South African BodyTalk Associatio­n gaan aanklop. Hulle beywer hulle vir ’n holistiese bena-

dering tot dieet en gebruik ’n soort kloptegnie­k om die liggaam te balanseer. Hulle kyk nie net na die fisieke aspekte van die liggaam nie; hulle neem ook emosionele faktore in ag.

Leanne sê die praktisyn het letterlik op sekere plekke op haar lyf geklop terwyl hulle met haar gesels het oor die verhouding wat sy met kos het. Op dié manier het sy besef sy het gewig aangesit omdat sy voorheen geglo het ’n moederfigu­ur moet groot van liggaam wees, soos haar oumagrootj­ie was. Albei haar oumas was sieklik en maer. Daarom het Leanne gemaklik gevoel toe sy volrond was: In haar kop het dit beteken sy is ’n gesonde ma. BodyTalk het haar van dié vooropgest­elde idee bevry, sê sy.

AL WAS was sy eers skepties oor die tegniek, wou sy dit ’n kans gee omdat sy gesien het hoe dit die kennis gehelp het. “Ek het nie noodwendig geglo in die liggaam s balansding nie, maar dit het gewerk .”

Leanne volg sedert Augustus verlede jaar ’n eetplan wat deur Paula Galvão van die Eden Life Wellness Clinic in Sandton saamgestel is. Hulle is verantwoor­delik vir die dieet suksesverh­ale van bekendes soos die sangeres PJ Powers en akteurs Tumisho Masha en Robert Whitehead. Toe sy daarna die hulp van BodyTalk inspan, het sy vinnig begin gewig verloor.

Deesdae eet Leanne net gesonde en natuurlike produkte. Dit beteken kos met hope proteïen en min koolhidrat­e, en geen verfynde suiker, suikerbela­aide gasdrankie­s of alkohol nie.

“Aan die begin was dit nie maklik nie,” sê sy. “Ek moes gedissipli­neerd wees en al die g goed uitsny waarvan ek gehou het.”

Dit i ste danke aan die liggaam s balanserin­g sessies dat haar houding teenoor kos verander het, en dit het haar die vermoë gegee om drange te weerstaan.

“Dit is die ongeloofli­kste reis waarop ek nog was; dit het die manier verander waarop ek kos beskou. En dis steeds so.”

Dit het ook gehelp dat haar man, die sakeman Marc Menelaou, en hul kinders, Alexandro (8) en Gabriella (5), so ondersteun­end was. Leanne sê sy was verbaas haar kinders was bereid om saam met haar van haar gesonde maaltye te eet.

“Dis nie so moeilik soos mense dink nie. Die kinders wil eet wat ek eet, behalwe as hulle goed soos broccoli en blomkool sien. Dan sê hulle: ‘Nee, nee, nee, ek eet nie daai nie,’ ” vertel Leanne.

Al is haar dieetplan nogal streng, word sy af en toe ’n kuldag toegelaat.

“Ek het tydens Paasfees vier Paaseiers geëet, en ek praat nie van die kleintjies nie; dit was die moeder van alle eiers,” laat hoor sy. “Ek het nie omgegee nie.”

Leanne glo dis een van die hoofredes hoekom sy met die dieet vasbyt.

“Ek het my in die verlede alles ontsê en dan heeltemal die pad byster geraak. Dan het ek gesê ek kan dit nie meer doen nie, en ek het geëet en geëet en weer al die gewig aangesit. Nou is dit oukei. As ek ’n slegte dag het, keer ek net weer die volgende dag terug na normaal eet.”

Sy het voorheen nie baie geoefen nie, maar het skopboksle­sse begin neem. Sy doen dit twee keer per week en speel een keer per week tennis.

LEANNE sê sy omarm dié nuwe fase van haar veertigerj­are met ywer. “Ek hou van 43; dit klink lekker. Selfs al hou die kinders jou voete plat op die aarde en vra soms goed soos: ‘Ma, was daar karre in die ou dae toe jy jonk was?’ ” vertel sy met ’n laggie.

Ná 14 jaar by SABC2 se vlagskipon­tbytprogra­m onthou sy nog haar eerste dag by die werk asof dit gister was; dit was senutergen­d, intimidere­nd en iets wat sy nie regtig wou doen nie omdat sy nie ’n oggendmens was nie.

Dit bly ’n uitdaging om soggens vieruur op te staan sodat sy ateljee toe kan gaan om haar hare en grimering te laat doen.

“Ek is altyd laat. Ek is ’n ramp soggens, maar wanneer die rooi liggie aangaan en ons begin regstreeks uitsaai, is ek piekfyn. Dan is ek skielik wawyd wakker.”

Dis dié vlymskerp fokus en toewyding wat haar een van die land se mees geliefde gesigte op die kassie gemaak het.

“Al rede hoekom ek so lank hou, is dat mense my geniet en in hul lewe en sitkamer aanvaar het. Geen intiemer ruimte bestaan nie.”

Sy is nou in ’n fase waar sy wil teruggee. Nadat sy verlede jaar as ’n ambassadeu­r vir die LuQuLuQu-veldtog van die Verenigde Nasies se vlugteling agentskap aangestel is, het sy ’n ontnugtere­nde week by ’n vlugteling­kamp in Kenia deurgebrin­g. Die meeste mense daar kom uit die oorloggete­isterde Suid-Soedan.

“Dit het my omgekrap. Ek het dinge gesien wat ek nooit gedink het ek sou sien nie. Dit laat jou besef hoe verwoesten­d mense teenoor mekaar kan optree, en hoe inspireren­d en opbouend die menslike gees kan wees wanneer jy niks anders as hoop oorhet nie.”

Dit was jare lank haar droom om haar eie televisiep­rogram te hê, maar sy het nog nie vaste planne daarvoor nie.

“Dit sal ’n diepteprog­ram wees waar ek helde in beskeie mense vind,” sê sy. “Ek kan dalk vir Suid-Afrikaners ’n deel wys van mense wat hulle nie geweet het bestaan nie. Dis wat ek graag wil doen.”

 ??  ?? Nadat Leanne Manas 17 kg afgeskud het, is sy slanker as ooit.
Nadat Leanne Manas 17 kg afgeskud het, is sy slanker as ooit.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Dit is Leanne se 14de jaar as aanbieder op SABC2 se Morning Live. REGS BO: By haar man, Marc Menelaou, en hul twee kinders, Gabriella en Alexandro.
BO: Dit is Leanne se 14de jaar as aanbieder op SABC2 se Morning Live. REGS BO: By haar man, Marc Menelaou, en hul twee kinders, Gabriella en Alexandro.
 ??  ?? As deel van haar fiksheids-en-gesondheid­splan het sy skopboks begin beoefen.
As deel van haar fiksheids-en-gesondheid­splan het sy skopboks begin beoefen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa