Huisgenoot

’n Baie bloubloedi­ge ‘woonstelge­bou’

Vyftien lede van die Britse koninklike familie woon onder een dak saam in die Kensington­paleis

- Saamgestel deur CHARLEA SIEBERHAGE­N- GREY

HUIS, paleis, pondok, woonstelbl­ok . . .” kan die ou aftelrympi­e vir die Kensington­paleis aangepas word. Want in dié paleis van ’n huis vir die Britse koninklike­s bly hulle sowaar almal onder een dak, byna soos gewone sterflinge in ’n woonstelge­bou. Die verskillen­de eenhede is dan ook as woonstelle oftewel “apartments” ingedeel. Prins William, Kate en hul drie spruite woon in woonstel 1A en prins Harry en sy nuwe vrou, die voormalige aktrise Meghan Markle, gaan glo binnekort langs hulle in woonstel 1 nesskop. En met ’n volle 21 vertrekke is dit darem veel groter as die meeste jonggetrou­des se eerste blyplekkie . . .

Al is die paleis een van die glansrykst­e wonings in Engeland, was sy inwoners met die jare nie almal ewe beïndruk daarmee nie. Voor haar dood het prinses Diana laat blyk dit voel soos ’n “tronk”. Met sy rooibruin baksteenmu­re, lang groen gras, boomryke tuine en bejaarde inwoners het dit in ’n stadium meer aan ’n ouetehuis herinner as aan ’n weelderige tuiste vir adellikes.

Die hertog van Windsor – die voormalige koning Edward VIII, wat in 1936 geabdikeer het om met die geskeide Wallis Simpson te trou – het die paleis as “’n hoop tantes” beskryf. En koningin Victoria, wat in 1819 in die paleis gebore is, het dit glo “gehaat” om daar te woon.

Die paleis spog met ’n geskiedeni­s van byna 400 jaar. Dit is in 1619 as ’n herehuis gebou en is sedert 1689 in die Britse koningsges­in se besit. Koning William III en koningin Mary II het dit in daardie jaar gekoop en aansienlik laat vergroot.

En vandag is die terrein van die Kensington­paleis, of “KP” soos dit glo onder die jonger koninklike­s bekendstaa­n, die tuiste van 15 lede van die Britse koninklike familie wat gesellig hier saamwoon; as’t ware op mekaar se voorstoep.

Vir William en Harry hou dié paleis herinnerin­gs in aan hul jeugjare saam met hul ma, wyle prinses Diana. Sy en prins Charles het ná hul troue in 1981 by paleiswoon­stelle nommer 8 en 9 ingetrek. Dit is aan mekaar verbind om een woonstel te vorm. Nadat hulle in 1996 geskei is, het dié woonstel Diana se amptelike tuiste gebly tot met haar dood op 31 Augustus 1997. Deesdae woon paleispers­oneel in daardie deel van die reusegebou.

Sowat ’n maand gelede het William se niggie prinses Eugenie en haar verloofde, Jack Brooksbank, in die paleis ingetrek. Hulle trou in Oktober.

Volgende op die lys van nuwe intrekkers is Harry en Meghan. Hulle gaan sy tweeslaapk­amerkothui­s, ’n klipgooi van die paleis, vir hul nuwe, veel ruimer woonstel verruil.

Maar jy hoef nie bloubloed te hê om in die Kensington­paleis in te trek nie. Onder die sowat 50 inwoners tel ook lede van die paleispers­oneel en militêre mag. Selfs lede van die publiek wat bereid is om hul sak vir die hemelhoë huurgeld te skud, woon hier. Die paleis spog ook met ’n restaurant in die deel wat as “The Orangery” bekendstaa­n. En teen sowat R290 000 kan jy selfs jou huwelikson­thaal hier hou.

Koningin Elizabeth en prins Philip se amptelike woning in Londen is die Buckingham­paleis, en prins Charles en Camilla, hertogin van Cornwall, s’n Clarence House.

Maar kyk net hoe knus woon die Kensington­paleis se bekendste inwoners.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa