Huisgenoot

SWAER STEL HAAR DIEP TELEUR

-

Ons is ’n baie hegte familie. My suster se man het haar onlangs verneuk. Hy het nie net hul gesin verwoes nie; hy het ook baie hartseer vir my, my man en my ouers veroorsaak.

Ek was baie lief vir hom en het hom nog altyd as my broer beskou. Sedert die voorval het hy nog nie weer sy gesig gewys of met een van ons kontak gemaak nie.

Niemand met wie ek praat, verstaan hoekom dit my so raak nie. SS op KL

Wanneer vertroue geskend word, verloor ’n mens vir ’n ruk nie net jou geloof in die mens wat jou dit aangedoen het nie, maar in die lewe self. Dis moeilik om te verwerk dat iemand wie se eienskappe jy bewonder het nie volmaak is nie. Vergifnis beteken nie jy keur jou swaer se optrede goed nie; bloot dat jy kies om ’n wrok te laat vaar. Jou suster se pyn, jou ouers se angs en jou man se ontstelten­is kan jou wraakgedag­tes laat koester dat hy dieselfde pyn moet ervaar.

Om met woede saam te leef maak ’n mens self seer. Dink so daaraan: Jou lewensangs en hartseer raak hom dalk glad nie, maar laat jou lewe stilstaan. Is hy dit werd?

Jou suster het nou jou ondersteun­ing nodig; dit help nie om langer op hom te konsentree­r of op dít wat vir jou onverstaan­baar is nie. Omdat hy nie die saak met julle bespreek nie, is dit vir jou nog moeiliker om jou gevoelens te verwerk.

Jou swaer vermy waarskynli­k kontak omdat hy skuldig voel. Hy weet hy het julle almal teleurgest­el.

Maak dit makliker vir almal deur leiding te gee en hom te vergewe sodat almal kan aangaan met hul lewe – met of sonder hom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa