MEKKA (SAOEDI-ARABIË)
Die pelgrimstog (hadj) na Mekka, die profeet Mohammed se geboorteplek, is een van die vyf pilare (godsdienstige verpligtings) van die Islamitiese geloof. Volwasse Moslems wat gesond is, dit kan bekostig en wie se familie versorg sal word tydens hul afwesigheid, moet minstens een keer in hul leeftyd na Mekka reis vir die grootste jaarlikse samekoms van mense ter wêreld. d. Omdat Mekka hul heiligste plek is, word nie-Moslems M l nie toegelaat nie.
Die hadj vind op ’n sekere tyd van die jaar plaas, naamlik van die 8ste tot 12de dag van Dhu al-Hijjah, die 12de maand van die Islamitiese kalender. Omdat dit ’n maankalender is, verskil die datum jaarliks van die Gregoriaanse kalender; vanjaar val dié bedetog aan die einde van Augustus.
Die hadji’s of pelgrims dra eenvoudige wit klere en voer verskeie aanbiddingsdade op hul bedevaart uit. Dit leer hulle dat almal gelyk is. Hulle aanbid in die Arafatvallei, stenig die duiwel simbolies deur klippe na ’n muur te gooi en slag ’n lammetjie of skaap. Mans skeer hul hare af en vroue knip ’n stuk van hulle s’n af. Die tawaf is die ritueel waar die hadji’s sewe keer om die sentrale heiligdom van alle Moslems, die Kaäba, stap. Dit is ’n byna kubusvormige gebou (10 x 12 m en 15 m hoog) wat versier is met ’n swart fluweeldoek wat met gouddraad versier is. Diegene wat die Hadj aflê, verwerf die eretitel hadji (vir mans) en hadja (vir vroue).