Huisgenoot

Skokbeweri­ngs staar Moyane in gesig

HywasHy was tot onlangs een van die invloedryk­ste mense in die land; nou word die geskorste SAID-baas, Tom Moyane, daarvan beskuldig dat hy sy kleinkind se tienerma erg beseer het. Die paartjie vertel van die opbou tot die beweerde aanval

- Deur RUWAYDAH HARRIS

SY VAT versigtig aan haar kakebeen waar sy beweer een van die vernaamste mans in Suid-Afrika haar “soos ’n ninja” geskop het.

Dit wat met haar gebeur het, maak nog seerder, sê die tiener, omdat haar beweerde aanvaller haar kind se oupa is.

Die skade wat die geskorste baas van die Suid- Afrikaanse Inkomstedi­ens (SAID) Tom Moyane aangerig het, is onherstelb­aar, sê die 17-jarige Thembi*. Die kneusplekk­e aan haar gesig het vervaag, maar ’ n diep sny aan haar regterwang raak nog gesond. Dit maak dit pynlik en moeilik om te eet.

Haar oë skiet vol trane toe sy oor die middag van die beweerde aanranding begin praat – sy sê dis ook moeilik om haar babaseun van ses maande te sien.

Haar kêrel, Zakes* (24), die pa van haar babaseun en die enigste kind van Tom en sy vrou, Thandi, het haar daardie dag in Bryanston by die skool gaan haal.

Hulle het na die Moyanes se tweede huis in Weltevrede­npark, in die weste van Johannesbu­rg, gegaan.

Thembi het verskeie maande saam met Zakes in die huis in Weltevrede­npark gebly nadat hulle begin uitgaan het tot sy verlede jaar uitgevind het sy is swanger. Die Moyanes het haar toe genooi om in hul huis in Blue Valley, Centurion, in te trek.

“Hulle het gesê hulle wil my tydens die swangerska­p versorg,” vertel Thembi. Sy voeg by sy en Zakes het nie al hul besittings daarheen geneem nie – hulle is middel Mei terug na Weltevrede­npark, want hulle moes nog goed gaan haal.

“My ouers het vir ons gesê die huis word opgeknap; daarom kon ons nie daarheen terugkeer nadat ons seun gebore is nie,” sê Zakes.

Toe hulle die middag by die huis aankom, het hy tot sy verbasing sy neef in die sitkamer aangetref.

“Hy het senuagtig gelyk, en toe ons instap, sê hy Thembi moet loop. Ek het gevra hoekom en gesê die meeste van haar goed is nog daar. Hy het ’n oproep op sy foon gemaak. Vyf en veertig minute later het my pa ingestorm,” sê Zakes. Toe, sê Thembi, is die duiwel los. “Hy het op my geskree toe hy by die huis inkom,” vertel Thembi. Sy was vreesbevan­ge. “Ek het gedink hy gaan my net daar slaan.”

Zakes het tussenbeid­e getree en sy woedende pa probeer kalmeer.

“Ek het hom gevra om asseblief te sit; om te verduideli­k waar sy vyandighei­d teenoor Thembi vandaan kom sodat sy kon verstaan wat sy gedoen het.”

Maar hy beweer sy pa het aanhou skree op sy kleinseun se ma.

“Hy het my die skuld vir die dood van sy pa gegee,” sê Thembi. (Tom se pa is in Januarie vanjaar dood aan natuurlike oorsake.)

“Ek het gesê ek is jammer, maar ek weet nie wat ek gedoen het nie. Jy kan nie net iemand oornag haat nie.” Toe raak Tom gewelddadi­g, beweer sy. “Hy het my teen die muur vasgeduik soos in rugby, en ek het my foon onder my arm weggesteek. Hy het die foon by my gegryp en dit op die grond gegooi. Die battery het uitgeval, en ek het dit opgetel en weer ingesit.

“Ek het vir hom gesê ek neem hom op en het die foon teen my oor gehou. Hy het na die foon geskop en my gesig getref.”

Thembi en Zakes het ná die voorval by haar ma, Zinhle*, ingetrek en dié het sedertdien ’n klag van aanranding by die Randburg-polisiekan­toor gelê.

Die nasionale vervolging­sgesag (NVG) het nog nie besluit of hulle Tom gaan vervolg nie. Die direkteur van openbare vervolging in Gauteng oorweeg nog vervolging, sê Phindi Louw, NVG-woordvoerd­er. “’n Senior staatsadvo­kaat besluit tans oor die dossier,” verduideli­k sy.

Thembi se baba bly boonop tans by die

Moyanes nadat hulle haar en Zakes na bewering voor die aanranding ’n dokument laat onderteken het wat hulle toesig gee.

Zakes is al toegelaat om sy seun te besoek, maar Thembi sê dis vir haar moeilik om hom te sien.

DIT was liefde met die eerste oogopslag toe Zakes en Thembi mekaar in November 2016, ’n dag voor haar 16de verjaardag, in Northgate ontmoet. “’n Vriend het ons aan mekaar voorgestel,” vertel Zakes.

“Ek het seker 10 sekondes in haar oë gekyk, maar dit het soos 10 uur gevoel. Ek wou by haar wees.”

Thembi was saam met haar broer en suster by ’n speletjies­arkade in die winkelsent­rum. Sy het vir Zakes gesê sy verjaar die volgende dag, en hy het gevra of hy haar mag uitneem.

“Sy het so pragtig gelyk op haar verjaardag,” onthou Zinhle, en vertel hoe haar 16-jarige dogter toe daardie aand inderdaad uitgegaan het.

Maar ná daardie aand het dinge ál moeiliker geraak.

Thembi het vir weke verdwyn en nie Zinhle se oproepe beantwoord nie. “Ek het nie geslaap nie; ek het nie geëet nie. Ek het oral na haar gesoek. Die Randburgse polisie het my goed geken,” sê sy.

Dit blyk toe Thembi het saam met Zakes in Weltevrede­npark ingetrek en geweier om huis toe te gaan na Zinhle toe.

“Ek het geen idee gehad wie die seun is nie,” sê Zinhle. “Ek het later sy foonnommer by Thembi se vriend gekry, maar hulle het my oproepe geïgnoreer.”

Eindelik, ’n week voor Kersfees, het Thembi haar ma van Zakes vertel en haar na ’n Kersete genooi om sy ouers, Tom en Thandi, te ontmoet.

Hulle het ’ n heerlike dag gehad, sê Zinhle. Die uitgebreid­e Moyane-familie was daar en geen moeite is ontsien om die dag aangenaam te maak nie.

Maar toe Thembi swanger raak en by die Moyanes se paleisagti­ge herehuis in Blue Valley intrek, het dinge verander, sê sy. Sy glo hulle wou nie hê Zakes moet uitgaan met “’n swart meisie met ’n geskeide ma wat sukkel om kop bo water te hou nie”.

TOE haar baba gebore word, het Thembi volgens die Zoeloe-gebruik met hom na haar ma se huis teruggegaa­n.

In dié tyd het die Moyanes na Zinhle se ouers gegaan om volgens die tradisie sogenaamde skadevergo­eding vir Thembi se swangerska­p te betaal, sê Zinhle, en ook om toegang tot die kind te hê en vir die kind hul van te gee.

Destyds het Zakes en Thembi gedink hulle betaal lobola.

Die Moyanes het aangebied om vir Thembi se skoolopvoe­ding te betaal en ’n kosskool in KwaZulu-Natal voorgestel. Hulle het gesê hulle sou die baba versorg. “Ek het geweier om te gaan; dit sou beteken ek sou my kind en Zakes maande lank nie sien nie,” sê Thembi.

Zakes glo sy pa wou hê hy en Thembi moet opbreek, en erken hy en sy pa het nooit ’n hegte verhouding gehad nie.

“Ek was nooit gelukkig nie en het nooit ’n verhouding met my pa gehad nie, want hy was nooit daar nie,” vertel Zakes, wat as kind kosskole bygewoon en opera en Westerse klassieke musiek aan die Universite­it van Kaapstad bestudeer het .

Zakes erken hy was nie altyd stroopsoet nie – hy het ’n probleem met dagga en drank gehad.

Thembi en haar baba het weer in die Moyanes se huis gaan bly toe die seuntjie drie maande oud was. Toe sy teruggaan skool toe, het die Moyanes aangebied om die baba te versorg terwyl sy in haar ma se huis bly.

Thembi sou haar seun naweke kon sien.

Maar dit was toe. Want baie water het in die see geloop, en nou is sy en haar geliefde gewikkel in ’n stryd teen een van die magtigste mans in die land . . . * Skuilname.

Toe Huisgenoot Tom Moyane om kommentaar nader, het hy gevra ons moet hom terugbel, maar hy het verskeie kere daarna nie sy foon geantwoord nie.

Hy het vroeër op News24 se navrae oor die beweerde aanranding gereageer: Hy het gelag toe ’n joernalis hom vra of hy die jong vrou ’n rugbyduiks­lag gegee het. “Rugbytêkke­l? Hoe groot is sy? Weet jy wat ’n rugbytêkke­l is? Ninjaskop? Ons sal Vrydag hoor, skat,” het hy gesê voor hy verder gelag en die foon doodgedruk het.

Nadat bewerings in The Sunday Times gemaak is, het Eric Mabuza, Tom se prokureur, gesê hy het vir Tom opgetree in sy dissiplinê­re sake oor sy aksies as SAID-baas, en hy was nie bewus van enige bewerings van aanranding teen hom nie.

‘Ek het gesê ek is jammer, maar ek weet nie wat ek gedoen het nie’

 ??  ??
 ??  ?? REGS: Zakes*, seun van die geskorste SAID-hoof Tom Moyane (LINKS), en Thembi* het ’n baba saam. Thembi beweer Tom het haar onverklaar­baar aangerand en sy y het nou geen toegang tot haar baba nie.
REGS: Zakes*, seun van die geskorste SAID-hoof Tom Moyane (LINKS), en Thembi* het ’n baba saam. Thembi beweer Tom het haar onverklaar­baar aangerand en sy y het nou geen toegang tot haar baba nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa