Proefkonyn wil die dood stuit
Sy is ’n entrepreneur sonder mediese opleiding wat ’n geneesmiddel vir veroudering wil vind – en deur haarself as proefkonyn te gebruik het sy reeds tekens van verjonging getoon. Maar is Elizabeth Parrish se geenterapie dapper of dom?
VAN buite lyk Elizabeth Parrish nie anders as ek of jy nie. Maar as ’n towerfee haar staf kon swaai om jou min of meer so groot soos ’n bakterie te maak en jy dan in haar witbloedselle gaan reis, wag daar ’n skok op jou. Elizabeth is ’n mutant. Die eerste in haar soort.
Haar leukosiete is deurtrek van ’n virus wat spesiaal vervaardig is om haar biologiese horlosie terug te draai. Vir haar bewonderaars is sy die Christopher Columbus van die menslike liggaam. Vir haar teenstanders is sy liewer Don Quixote, of erger.
Sy is die “pasiënt zero” in ’n uiters onortodokse veldtog om oudword te “genees”. (Pasiënt zero verwys na die persoon wat geïdentifiseer word as die eerste draer van ’n oordraagbare siekte wanneer ’n uitbreking plaasvind.) Haar jong maatskappy, BioViva, woeker met die idee dat verjonging moontlik is.
Ek en Elizabeth ontmoet mekaar in die Londense kantoor van Weatherbys Bank, waar sy gereedmaak om op ’n futurologiekonferensie ’n praatjie te lewer. Sy is 47, maar lyk ’n dekade jonger. Sy is so skerp en agtermekaar soos ’n vlootkadet wat regmaak vir parade. Die enigste ding wat nie heeltemal op die prentjie pas nie, is
’n mate van broosheid. Die sinne tuimel af en toe uit haar mond in ’n effens verwarde volgorde, asof iemand die deur oopgemaak het van ’n kas wat vol speelgoed geprop is. Soms sê sy dinge wat duidelik nie grappies is nie en lag dan in elk geval effens senuweeagtig.
Niemand raak betrokke by so ’n hoërisikobedryf as daar nie iets op die spel is waarvoor hulle lief is nie. Vir Elizabeth, ’n tegnologie-entrepreneur en ma van twee wat aan die buitewyke van Seattle in Amerika woon, het haar keerpunt in 2013 bereik toe tipe 1-diabetes by haar seun gediagnoseer word. Dis ’n siekte waar die pasiënt se liggaam teen sy pankreas begin baklei en veroorsaak dat sy bloedsuikervlakke maklik daal en styg. Die gesin was verpletter.
“Ek sal daardie datum nooit vergeet nie,” sê Elizabeth. “Dis soos ’n verjaardag, maar op ’n baie slegte manier.” Sy het haar seun in ’n kinderhospitaal opgepas toe iets in haar knak. Sy het deur die jongste mediese joernale gelees en af- gekom op ’n verskeidenheid behandelings wat op die punt was om ’n werklikheid te word: bio-banke (waar biologiese monsters vir navorsing geberg word), stamselterapieë, genetiese manipulasie. Daar was tog sekerlik iets wat haar seun se dokters kon doen?
“Hulle het in wese gesê: ‘Jy is gelukkig jou seun het ’n behandelbare siekte. Hier is kinders wat sterwend is,’ ” sê sy. “En ek het gedink: Wag, waaraan sterf hulle? Kanker, hartprobleme, aangebore siektes. Ek het gelees van al die navorsing waar ons daardie siektes in diere genees. En hulle het gesê: ‘Dis eksperimentele geneeskunde. Ons kan dit nie vir mense gee nie.’ En ek het gesê: ‘Maar julle sal hulle laat sterf. Wat is die ergste?’ ”
Elizabeth het die wêreld begin deur- kruis en skaars grond gevat soos wat sy van die een wetenskapkonferensie na die volgende gegaan het op soek na ’n antwoord. En toe, tydens ’n vergadering in Cambridge, Engeland, kry sy die antwoord: Agter kanker, diabetes en demensie skuil ’n enkele biologiese proses: veroudering.
Dis die stadige, meedoënlose getik van elke sel in die liggaam op pad na sy einde. As jy ’n manier kon kry om die uurwyser te stop – of selfs om dit agtertoe te laat loop – sou jy ’n lopersleutel na byna elke siekte op aarde hê.
“Ons het deesdae honderdmiljoene mense met chroniese siektes,” sê sy. “En ek kan jou nou my seun se bloedsuiker wys.” En sy doen dit ook: Sy druk haar slimfoon skielik in my gesig.
Ek staar na die glukoselesing van ’n 14-jarige seun ’n halwe planeet weg van my. “Hy kon gister gesterf het van ’n lae lesing, en daarna het hy toe ’n hoë lesing wat hom in ’n koma kon laat verval het. En dis op ’n doodnormale dag,” sê sy. “Daar is honderdmiljoene mense wat dit het. Vandag sal meer as 100 000 mense sterf weens ouderdom. Dis tyd om dit stop te sit.”
En so, twee en ’n half jaar ná haar seun se diagnose, vlieg Elizabeth na Colombia in Suid-Amerika, ry na ’n mediese kliniek en laat haar etlike ure inspuit met wat, as haar waagstuk vrugte afwerp, die wêreld se eerste teenverouderingsgeenterapie sal wees.
GEENTERAPIE is niks nuuts nie en het baie veiliger geraak sedert dit in die 1990’s die skuld gekry het vir die sterftes van ’n aantal kankerpasiënte. Die prosedure, wat tussen R1,5 miljoen en R100 miljoen kan kos, behels die doelbewuste besmetting van iemand met ’n klein en betreklik skadelose virus wat gelaai is met stringe menslike DNS.
Elizabeth het egter twee groot spronge in die donkerte in gemaak. Eerstens omdat niks met haar verkeerd was nie. Ja, sy was besig om dood te gaan, maar net op dieselfde manier as wat ons almal daardie probleem het. Wetenskaplikes en etici is ongemaklik met die gepeuter met menslike gene as dit nie ’n mediese noodgeval is nie.
Die ander gevaar was Elizabeth se keuses van gene. Een van hulle, wat reeds getoets is op ses mense met Duchenne-
‘Vandag sal meer as 100 000 mense sterf weens ouderdom. Dis tyd om dit stop te sit’
spierdistrofie (’n genetiese afwyking gekenmerk deur progressiewe spierverswakking), stel die proteïen wat spiergroei beperk buite aksie – en dit lyk tot dusver min of meer veilig.
Die tweede geen, daarenteen, is nog net op muise getoets. Dit behoort die liggaam se vervaardiging van ’n ensiem genaamd telomerase op te stoot. Telomerase vul die beskermende strukture aan die punte van ons DNS aan wanneer dit erodeer deur die slytasie van oudword. Die muise wat dit gekry het, het 24% langer as hul tydgenote geleef.
Maar telomerase is ook een van die meganismes waardeur kankerselle onsterflik raak. Dis nie die soort ding waarmee jy speel nie. Niemand weet of dit sal werk nie. Niemand weet eens of dit veilig is nie. En dit was juis die punt. Elizabeth het gedink iemand moet dit eerste probeer; hoekom nie sy nie?
“Ek het geweet ons sit met ’n middel wat ’n miljard mense in ’n kort tydjie kan help,” sê sy. “Ek was nie van plan om nee te sê nie. Ek het seker gemaak my sake is in orde ingeval iets gebeur wat ons nie voorsien het nie. Ek het vir my kinders gesê ek is lief vir hulle.”
Ses maande nadat Elizabeth van Colombia teruggekeer het, het sy haar eerste toetstellings op haar maatskappy se blog gedeel. Die telomere in haar witbloedselle het blykbaar 9% langer gegroei. Dit is gelykstaande daaraan om 20 jaar se veroudering om te swaai. “Toe die eerste resultate deurkom, het ek my hooftegnoloog vieruur in die oggend gebel en gesê: ‘Ons het nou net die eerste slag geslaan om die dood te verslaan.’ ”
’n Jaar later is nog bevindings uitgereik. Skanderings het gewys hoe haar dye verander het van iets wat lyk soos vetterige repiespek in lenige spiere, glo sonder enige oefenroetine om van te praat. Haar bloedsuikervlak het met 17% gedaal. Haar trigliseriedvlakke is gehalveer en haar inflammasiemerkers het so te sê verdwyn.
“Ek weet nie wat dit beteken om jonger te voel nie,” sê sy, “maar ek is fisiek beter toegerus. Ek slaap beslis beter. Een ding wat ek kan noem wat my vriende opgemerk het, is my hare is baie dik. Ek dink dis dalk selfs dikker as toe ek jonk was.”
Op grond van hierdie bevindings flikflooi BioViva nou by ryk mense wat eksperimentele teenverouderingsgene óf vir hulself óf vir siek familielede wil koop. Vir ’n paar miljoen rand kry hulle ’n reeks konsultasies met dokters op Amerikaanse bodem, en dan vlieg hulle na ’n kliniek in ’n land met minder regulasies, soos in Sentraal- of Suid-Amerika. Sowat 6 000 biologiese en psigiatriese metings van hul vordering sal anoniem ontleed en op die internet gedeel word. Die maatskappy beweer hy het reeds sowat ’n dosyn pasiënte met alzheimersiekte op hul boeke.
MEER as ’n halfeeu gelede tydens die vervaardiging van die rolprent 2001: A Space Odyssey het Stanley Kubrick sy aanhangers gevra om hulle te verbeel hoe die opskrifte van The New York Times aan die begin van die nuwe millennium sou lyk.
“Geneeskunde: Hoeveel verder nog met die ouderdomsperk?” het een gelui. “Is 125 jaar genoeg?”
Die optimisme was voortydig. Die gemiddelde lewensverwagting in Suid- Afrika is tans 64 jaar, ’n verhoging op 53 jaar net ’n jaar gelede danksy uitgebreide antiretrovirale behandeling. Maar die vordering kom tot stilstand oor die ontwikkelde wêreld heen. Die lewensverwagting in Amerika het twee jaar agtereenvolgens effens afgeneem en staan op 78.
Die gevolg is een van die felste kultuuroorloë in die moderne wetenskap. Aan die een kant is die “vervelige ou” mediese wetenskap wat ons tot by die huidige lewensverwagtingskoers gebring het. Aan die ander kant is ’n kleurryke en soms oorywerige beweging wat die dood as ’n verleentheid en ewige lewe as ’n basiese mensereg beskou. Hulle is die “transhumaniste”. Sommige van hulle neem daagliks hande vol geheimsinnige pille of honger hulle uit in die hoop dat hulle veroudering sal fnuik.
Hul hoofprofeet is Ray Kurzweil, Google se hooffuturis, wat onlangs voorspel het ons spesie sal teen 2029 onsterflikheid bereik. Die tegnologiereus het ’n geheime projek genaamd Calico (afkorting vir California Life Company) bekendgestel om terapieë teen veroudering te ontwikkel. Intussen het die Britse wiskundige en bioloog Aubrey de Grey selfversekerd aangekondig die eerste mens wat 1 000 jaar lank sal leef, is reeds gebore.
Lede van die radikale lewensverlengingsgemeenskap wys daarop dat die lewensverwagting van muise viervoudig en dié van ’n mikroskopiese wurm met ’n veelvoud van 10 verleng kan word met ’n paar aanpassings aan hul gene.
Hulle het ’n paar gerespekteerde wetenskaplikes as bondgenote. George M. Church, ’n baanbrekersgenetikus van dieHarvard-universiteit wat die uitgestorwe mammoet wil laat herleef, voorspel genetiese ingenieurswese sal voor die einde van die 2020’s die verouderingsproses omkeer. Craig Venter, die onortodokse Amerikaanse kartograaf van die menslike genoom, fynkam 40 000 mense se DNS vir die biologiese bloudruk vir langlewendheid.
BioViva het nie sy eie laboratorium nie. Pleks daarvan monitor hy ’n reeks menslike eksperimente in die trope, ver weg van Amerikaanse mediese wetgewing.
Elizabeth se maatskappy het so te sê elke moontlike reël gebuig. Sy het ingestorm waar die meeste akademici dit nie sou waag nie. Pleks van hul deurbrake in wetenskaplike joernale publiseer, deel haar maatskappy dit op die internet.
Een van haar felste kritici is George Martin, emeritus professor van patologie aan die Universiteit van Washington. Elizabeth se innigheid en ambisie het hom bekoor toe hulle mekaar die eerste keer ontmoet, en hy het ingestem om in BioViva se raadgewende paneel te dien. Maar hy beweer hy is nooit na ’n enkele vergadering genooi nie.
“Ek was geskok toe ek in mediaverklarings uitvind sy het in die buiteland met geenterapie geëksperimenteer. Ek het dadelik alle bande met die maatskappy verbreek,” sê George. “Ek sou nooit so ’n projek goedgekeur het nie.”
Maar Elizabeth hou voet by stuk. Sy meen die mediese establishment verstik aan hul eie pretensieuse konserwatisme. Sy sê hul afkeer van risiko is nalatigheid. Miljoene mense sterf elke jaar aan ’n siekte wat die wetenskap nie erken nie en waarvoor hulle nie ’n vinger lig om dit te behandel nie. Haar teenstanders sê dis oneties om te peuter met die lewensproses. Sy sê dit sou oneties wees om dit nie te doen nie.
En om regverdig te wees, ander wetenskaplikes steun haar. Een van hulle is George M. Church, mammoetman. Nog een is Anders Sandberg, ’n navorser aan die Universiteit van Oxford se Future of Humanity-instituut en die gesig van transhumanisme in Brittanje.
“Ek dink Liz is prysenswaardig omdat sy probeer om langlewendheid mark toe te bring. En die selfeksperimentering is dapper,” sê Anders. “’n Mens kan daaroor argumenteer of haar selfeksperimentering enigiets bewys, maar dit verskaf beslis inligting, veral oor haar veiligheid. Almal hou sedertdien haar gesondheid dop, en dit maak natuurlik ’n baie sterk stelling.”
Regdeur my uur in Elizabeth se mag- netiese maar soms onvoorspelbare geselskap is ’n spesifieke storie heeltyd in my gedagtes.
Dis die storie van ’n Australiese dokter, ene Barry Marshall. Barry het in die 1980’s keelvol geraak daarvoor om die een pasiënt ná die ander te sien siek word met maagsere wat dan dikwels in ’n uiters onaangename soort kanker ontaard het. Hy was daarvan oortuig ’n kiem genaamd Helicobacter pylori was die sondaar, maar niemand wou na hom luister nie.
Hy het toe die bakterie uit een van sy pasiënte onttrek, dit in ’n bak groentesop ingeroer en ’n beker daarvan gedrink. Drie dae later het sy asem begin stink. Hy het verskriklik opgegooi. Ná agt dae was sy maag ’n broeiplek van inflammasie. Op die 14de dag het hy besluit hy het sy punt bewys en ’n kursus antibiotikum begin gebruik. Niemand het weer die fout gemaak om Barry te ignoreer nie. En in 2005 het hy die Nobelprys vir fisiologie gedeel.
Die geskiedenis van die wetenskap is besaai met briljante eksentrieke mense wat sake in eie hande geneem het. In 1900 het Pierre Curie ’n buis radium vir 10 uur aan sy arm vasgemaak om te bewys dit veroorsaak brandwonde. Dit was die eerste tree wat tot kankerbestralingsterapie gelei het. In 1953 het Jonas Salk sy eie vrou en drie seuns met eksperimentele polio-entstof ingespuit. Dit het gewerk. Vandag is die siekte oor die Westerse wêreld heen uitgeroei.
Maar vir elke Barry Marshall of Pierre Curie is daar ’n halfdosyn kwaksalwers en kulkunstenaars. Van watter stoffasie is Elizabeth gemaak?
Ek wil glo sy is die ware Jakob. Maar elke instink wat ek in my jare as wetenskapjoernalis ontwikkel het, voel ongemaklik. Ek kan nie besluit of die verhaal van ’n selfopgeleide ma wat miljoene dollars ingesamel het en ’n klomp belangrike mense aangevat het te goed is om waar te wees of te goed om nie waar te wees nie.
Ek stuur ná ons onderhoud e-posse aan ’n dosyn geloofwaardige wetenskaplikes in genetika en veroudering, en staal my vir die onvermydelike kritiek. Maar wanneer dit kom, is dit nie die vuishou wat ek verwag het nie.
Die navorsers is beslis nie in hul noppies oor hoe Elizabeth sake doen nie. Sommige van hulle is huiwerig om haar maatskappy ’n kans te gee.
Die woord “publisiteitsfoefie” word meer as een keer genoem. “Ek verstaan sake is sake,” sê Richard Faragher, professor van biogerontologie aan die Universiteit van Brighton. “Maar daar is ’n glyskaal wat strek van die onbaatsugtige dokter wat hom met H. pylori inspuit om die rol daarvan in maagsere te demonstreer tot by die wêreld van kwaksalwers en swendelaars.
“Veroudering het ’n geskiedenis van bedrieërs; daarom dink ek ons moet uiters omsigtig wees.”
Ander voel in twee geskeur of amper simpatiek. Dis moeilik om die geld en pasiënte in die hande te kry om dapper nuwe idees te toets. Vordering kan pynlik stadig wees. Dalk is ’n skop onder die jis presies wat die gesaghebbendes in hierdie geval benodig. Dalk is Elizabeth die regte vrou om dit te doen. Gabriele Saretzki, ’n sellulêre bioloog en dosent in verouderingsnavorsing aan die Universiteit van Newcastle, weet heelwat van die geen wat Elizabeth geneem het om haar telomere te verleng. Sy is ietwat verward oor haar teatrale benadering en bekommerd oor haar welstand omdat sommige studies daarop dui die wysiging kan die gevaar vir kanker verhoog.
Maar sy deel in ’n groot deel van Elizabeth se frustrasie. “In daardie opsig kan ek verstaan hoekom sy en haar maatskappy hierdie soort navorsing wil dryf,” sê Gabriele. “As dit behoorlik gedoen word, kan dit inderdaad nuttig wees.”
Elizabeth se maatskappy het so te sê elke moontlike reël gebuig